Moet jy jou eiendom privaat verkoop?

Vrydag, Januarie 15th, 2016

Jou eiendom is seker een van jou grootste bates, en party mense wil hulle huis privaat verkoop pleks van ‘n eiendomsagent te gebruik. Om ‘n huis te verkoop is egter nie ‘n eenvoudige proses nie, en jy moet seker maak dat jy jou huiswerk deeglik doen.
“Wanneer dit by die verkoop van ‘n huis kom, verkies die meeste mense om ‘n eiendomsagent se hulp in te roep,” sê Calvin Ndlovu, Hoof van Operasies by FNB Huislenings. “Dit is moontlik om jou huis privaat te verkoop, maar jy moet baie versigtig wees om seker te maak dat jy nie op die lange duur geld verloor nie.”

Hier is die vernaamste kwessies om in gedagte te hou wanneer jy jou eiendom verkoop:

 

Vra die regte prys

Jy sal navorsing moet doen oor die korrekte prys van jou huis voordat jy dit op die mark plaas.

“Daar is baie gratis eiendomsverslae wat jou kan help om die regte prys te bepaal,” sê Ndlovu. “As jy die prys te hoog stel, kan jy in ‘n situasie beland waar jou eiendom nie verkoop word nie, en ‘n te lae prys beteken dat jy geld gaan verloor.”

 

Bemarking van jou eiendom

Om jou eiendom te bemark, sal jy ‘n goeie fotograaf moet kry en ‘n geskikte beskrywing moet opstel. As jy dit gedoen het, sal jy ‘n geskikte plek moet kry om jou eiendom te bemark.

“Jy kan jou eiendom op privaat verkoopwebwerwe bemark of jy kan selfs jou plaaslike geklassifiseerde advertensies gebruik,” sê Ndlovu. “Maar dan sal jy ‘n nadeel hê omdat agente databasisse het van mense wat in verskillende prysklasse na verskillende eiendomme soek.”

Jy moet bereid wees om die eiendom vir kopers te wys, en dit kan enige tyd van die dag of week gebeur. Jy moet dus aanpasbaar wees.

 

Verkoop van die eiendom

Wanneer jy voornemende kopers gekry het en dit lyk of hulle ‘n aanbod gaan maak, moet jy bewus wees van seker wetlike en kontraktuele vereistes om jouself en die koper te beskerm.

“Onthou, jy onderhandel nie net oor prys nie maar ook oor die bepalings en voorwaardes van die verkoop, wat moeilik kan wees,” sê Ndlovu.

In hierdie stadium kan jy ‘n aktebesorgingsprokureur kry om jou deur hierdie proses te help. Maak seker dat die aktebesorgingsprokureur ‘n goeie reputasie het en onthou dat so ‘n prokureur vir jou en ook vir die koper werk.

 

Voor jy teken

Daar is ‘n paar belangrike dinge waarvan jy moet kennis neem voordat jy enige tipe aanbod aanvaar.

Jy as die verkoper moet die koper se aandag op enige gebreke vestig, en dit moet op skrif gestel word. So word albei partye beskerm.

“Jy moet ook weet waar die geld vandaan sal kom,” sê Ndlovu. “Dit sluit in fondse wat uit die buiteland kom, en jy sal duidelikheid moet kry oor die SAID se vereistes. Dit is ook belangrik om te kyk of die koper ‘n verband moet kry of ‘n ander eiendom moet verkoop.”

 

Wanneer jy teken

Daar is regsdokumente op webwerwe beskikbaar, maar jou aktebesorgingsprokureur kan jou help om die dokumente op te stel.

“Jy moet vertroud wees met al die bepalings en voorwaardes van die dokument; dit sluit in latente en sigbare foute, okkupasiehuur en regresreg vir kontrakbreuk,” sê Ndlovu.

Die dokument moet ook die verskillende tydlyne uiteensit, veral as die transaksie onderhewig is aan die verkoop van die koper se eiendom.

Die aktebesorgingsprokureur sal leiding gee oor ander aspekte soos elektriese klaring, munisipale kennisgewing en enige ander vereistes.

“Om self jou huis te verkoop, kan werk, maar jy sal jou huiswerk moet doen en geduldig wees. As jy onseker is, is dit beter om ‘n eiendomsagent te kry wat die bedryf ken en ‘n verkoopsnetwerk het,” sluit Ndlovu af.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161