Moenie te arm wees vir vakansie nie! Volg dié wenke

Vrydag, Mei 27th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

‘n Onlangse opname deur Credit Suisse toon dat net 30% Suid-Afrikaners vanjaar met vakansie sal kan gaan. Die middelklas is onder toenemende druk namate stygende rentekoerse en inflasie, gekoppel met hoë skuldvlakke en klein salarisverhogings, die besteebare inkomste laag hou.

Dit is skokkende statistiek want om met vakansie te gaan, is nie ‘n luukse nie maar ‘n noodsaaklikheid. Mense wat nooit weg van die huis af ontspan nie en die hele jaar deur werk, sal gou met ernstige gesondheidskwessies te doen kry. En, buitendien, vakansies is pret.

So, as jy wonder waar jy geld vir ‘n Desembervakansie (of enige ander vakansie) gaan kry, moenie bekommerd wees nie. ‘n Bietjie behoorlike beplanning en dissipline gedurende die wintermaande sal baie help en die beloning sal die moeite werd wees. Kom ons kyk hoe om daarvoor te begroot en te beplan.

 

  • Open ’n nuwe rekening

 

Die finansiële blogger Casey Slide sê ‘n goeie beginpunt is om ‘n afsonderlike spaarrekening te open vir die uitsluitlike doel om jou vakansie te befonds. “Dis moeilik om nie geld uit te gee nie. As jy sien dat dit beskikbaar is, gaan jy dit heelwaarskynlik uitgee. Dit is ‘n betreurenswaardige newe-effek van ons materialistiese kultuur. As jy egter van jou geld onbeskikbaar maak vir besteding, is dit net eenvoudig hoe dit is … onbeskikbaar.”

’n Gewone 32-dag-spaarrekening by enige bank behoort die ding te doen en jou maklike, hoewel nie onmiddellike nie, toegang tot jou geld te gee.

 

  • Laat almal spaar

 

Ed Hewitt, redakteur by IndependentTraveler.com, wys taktvol daarop dat vakansiekoste dramaties opskiet as daar kinders bykom: meer slaapplekke, meer kos, meer algemene uitgawes.

Dis ‘n goeie manier om hulle te leer om hul persoonlike genot uit te stel en hul geld vir iets groter en beter te spaar. “As jou kinders toelaes kry of as hulle ‘n weeklikse uitgawebegroting het, moet hulle ook vir die reis help spaar, hetsy in kontant uit hulle toelaes of in die vorm van kredietbewyse op hulle uitgawelimiete. Verduidelik dat vakansies ekstra geld kos en dat, hoewel jy steeds gedurende die vakansie die rekeninge by die huis betaal en die meeste van die reisuitgawes sal dek, hulle sal moet spaar vir alle ekstra goed wat hulle wil koop,” sê hy.

Dit geld ook vir grootouers. Almal moet soek na maniere om in die loop van die jaar hulle uitgawes te stroomlyn sodat vakansies ’n werklikheid kan word. Verruil uiteet en wegneemetes vir tuis-etes, kry goedkoper wi-fi en beperk jou naweekuitgawes.

 

  • Kry ‘n spaarvarkie

 

Afgesien van ‘n spesiale en toegewyde spaarrekening te open, is dit wys om ‘n spaarvarkie in die huis te hê. Daar is ‘n horde allerlei klein uitgawetjies as mens met vakansie gaan: tolhekke, lekkergoed vir die pad, fooitjies vir motorwagte, ekstra kos vir jou troeteldiere voor jy weggaan – die lys is nimmereindigend. In plaas daarvan om dit deel van jou gebruiklike vakansiebegroting te maak, spaar afsonderlik deur vir die volgende paar maande jou kleingeld in ‘n geldboks te gooi. Gedurende die jaar sal jy nie regtig die kleingeld mis nie, maar dit sal nuttig te pas kom aan die einde van die jaar as dit ‘n paar honders rand beloop.

 

  • Begin vroeg en hou buite seisoen vakansie

 

Dit is van die uiterste belang. Begin nou dadelik soek na akkommodasie terwyl pryse en die vraag na Desember-akkommodasie laag is. Baie besprekings- en reisagentskappe, oorde en hotelle het nou spesiale aanbiedings om mense te oorreed om vroeg te bespreek.

Alleenlopers, jong paartjies sonder kinders en mense met volwasse kinders hoef nie vakansie te hou wanneer almal dit doen nie. En as jy gaan wanneer daar nie ‘n stormloop is nie, beteken dit dat jy minder betaal en baie geriefliker vakansie hou, sê John Lal, stigter van BeFrugal.com.

 

 

Bronne

 

Casey Slide, 2015, “10 Ways to Save Up For and Fund Your Next Summer Vacation”, http://www.moneycrashers.com/save-up-fund-summer-vacation/.

 

Ed Hewitt, n.d., “Nine creative ways to save for a vacation”, http://www.independenttraveler.com/travel-tips/travelers-ed/nine-creative-ways-to-save-for-a-vacation.

 

John Lal, 26 February 2016, “15 ways to save for vacation”, http://money.usnews.com/money/the-frugal-shopper/2015/02/26/15-ways-to-save-for-vacation.

 

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170