Moenie ’n (gebruikte) kar in die sak koop nie

Donderdag, Julie 14th, 2016

Baie Suid-Afrikaners het al gebruikte voertuie gekoop wat nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Hier is raad oor hoe om nie ’n kat in die sak te koop nie.

 

Hoe om te kies

Kyk rond. Kyk na motorkoopgidse en die geklassifiseerde afdeling in jou plaaslike koerant om vas te stel wat ’n billike prys is vir die fabrikaat, model en kilometerafstand is wat jy wil hê.

Kyk noukeurig. Maak seker dat jy die voertuig in daglig sien, neem dit vir ’n toetsrit en kry iemand wat karre ken om daarna te kyk.

 

Waarna om te kyk

 

Die enjin

  • ’n Vuil enjin en aanpaksel rondom die batteryaansluiters kan beteken dat die enjin nie nougeset in stand gehou is nie.
  • ’n Gedreun of geklop bo of onder in die enjin as jy die kar aansit, kan duur probleme beteken.
  • Dik blou rook by die uitlaatpyp as jy die kar aansit en die enjin se toere opjaag met die ratkas in neutraal of parkeer is ’n slegte teken – los hierdie een uit.
  • Kontroleer die water in die verkoeler – dit moet skoon en olievry wees.
  • ’n Lae olievlak of dik, swart olie op die oliestok lyk na ongereelde olievervangings en ’n gebrek aan noukeurige versorging.
  • Laat die kar ’n rukkie staan en kyk of daar plassies olie of vloeistof is.

 

Die bak

Jy kan nie verwag dat ’n gebruikte motor ’n perfekte bak moet hê nie; inteendeel, klein merkies in die verf of voorruit kan dalk net bewys dat die kar nie in ’n groot ongeluk was wat die vervanging van bakdele vereis het nie, maar daar is tog goed waarvoor jy op die uitkyk moet wees.

  • Kyk vir verskillende verf op aanliggende bakpanele; dit kan wys dat die kar wel in ’n ongeluk was.
  • Verf wat afdop kan aanleiding gee tot roes.
  • Kontroleer dat die gapings tussen die bakpanele eweredig in wydte is en dat die rande gelykvlakkig met mekaar is.
  • Wees op die uitkyk vir ooglopende oorverwery – kyk na die drade in die enjinkompartement en agter die deur- en vensterrubberstroke. Dit kan dui op ongelukskade.
  • Oneweredige slytasie van die bande, of bandrandslytasie, is ’n teken dat die wiele nie gebalanseer is nie, dat die suspensie nie in lyn is nie of dat die skokbrekers gedaan is.

 

Binnekant

  • Gewetenslose verkopers kan die afstandmeter terugdraai sodat die kilometers minder lyk. Kyk dat die afstandmeter se syfers nie skeef of gekrap is nie en dat daar nie met die skroewe gepeuter is nie.
  • Slytasie van die matte en die rubber van die rem-, koppelaar- en versnellerpedale moet strook met die ouderdom van die kar.

 

Neem die kar vir ’n toetsrit

  1. Maak seker dat die enjin se krag voldoende vir die grootte van die kar is.
  2. Wees op die uitkyk vir oorverhitting.
  3. Kyk dat die kar in ’n reguit lyn beweeg en rem.
  4. As jy om ’n draai gaan, moet die kar nie oorhel soos ’n seiljag nie en die stuurwiel moet vanself na die reguitvorentoe-posisie terugkeer.
  5. Die ratte moet glad en maklik verander.

 

Agt wenke om jou moeite te bespaar

1.Vra altyd om al die kar se papierwerk te sien en gaan die diensrekord na.

  1. Betaal om die kar meganies te laat nagaan. Die AA kan dit doen.
  2. Pasop vir handelaars wat as privaat verkopers adverteer. Kyk dat die adres op die registrasiedokument dieselfde is as die adres waar jy die kar gesien het. As jy op ’n privaat advertensie antwoord en sê dat jy bel oor die kar en die persoon vra “Watter kar?”, praat jy dalk met ’n handelaar.
  3. Probeer altyd ’n laer prys beding.
  4. As jy nie heeltemal seker en gelukkig is nie, los dit. Daar is baie tweedehandse karre beskikbaar.
  5. Soek na die beste finasiële transaksie.
  6. Stel ’n begroting op en hou daarby.

 

Gesondheidswaarskuwing

’n Padwaardigheidsertifikaat (PWS) is nie ’n waarborg dat die kar probleemvry is nie. Dit verklaar bloot dat die kar voldoen aan die minimum statutêre vereistes betreffende veiligheid, soos remme, suspensie en ligte. Dit kan ’n PWS hê selfs met ’n geklop in die enjin, wat groot enjinherstelwerk kan beteken.

 

Bron: AA

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152