Moenie jou geld hierop mors nie

Vrydag, November 25th, 2016

Karen van der Berg

 

As jy een van daardie mense is wat glo dat peperduur haarmaskers jou hare se gesplete punte kan regmaak en dat vitamienes jou gesond maak, moet jy weer dink.

Bemarking en bemarkers verdraai soms die waarheid om verbruikers te oorreed om hulle produkte te koop. Onlangse navorsing wat deur Mannekrag Suid-Afrika gedoen is, wys derduisende produkte word met groot beloftes aan mense verkoop, maar daar is geen wetenskaplike bewys om dit te ondersteun nie.

Hulle het ’n lys van tien produkte saamgestel waarop mense graag hulle geld mors, wat nie noodwendig so doeltreffend is nie.

  1. Gesigrome om plooie te voorkom en produkte wat jou vel jonger gaan maak: Skoonheidmaatskappye laat vroue graag glo dat ouderdom sleg is en plooie lelik lyk. Die waarheid is dat daar nog baie min produkte is wat plooie kan verminder of jou oornag jonk kan laat lyk.
  2. Reeds verpakte gesondheidskos: Sogenaamde gesondheidskos draai mense ’n groot rat voor die oë. Daar is geen beheerliggaam wat produkte met die woord “gesondheid” reguleer nie. Die gesondste manier van eet, is om jou eie vars produkte te gebruik en self gesonde kos by die huis voor te berei.
  3. Vitamiene: Hierdie aanvullings word dikwels voorgehou as dié produk wat jou gesond gaan hou. Jou oë gaan blink, jou vel sal gloei en geen nare verkoue gaan in jou lyf kom nes skop indien jy dit gebruik nie. Die waarheid is dat al die noodsaaklike vitamiene in verskillende kossoorte gevind word. Hoe gesonder jy eet, hoe groter die verskeidenheid noodsaaklike aanvullings wat jy gaan inkry.
  4. Skeermesse vir vroue: ’n Skeermes wat vlymskerp is, gaan die taak om ongewenste hare te verwyder net so doeltreffend uitvoer. Dieselfde geld vir baie produkte wat aan mans of vroue onderskeidelik bemark word, soos room, haarjel en opknappers.
  5. Haarserums om gesplete haarpunte te red: Dink mooi daaraan, ’n room of haarmasker wat jou gesplete hare weer aan mekaar vasplak. Maak dit enigsins sin? Laat jou hare se punte gereeld sny om van gesplete punte ontslae te raak.
  6. Griep-en verkouemedisyne: Verkoue en griep word deur virusse veroorsaak. Daar is baie medisynes wat simptomatiese verligting kan bring, maar daar is geen medisyne wat die virus gaan wegneem nie. Daarvoor is rus en baie vloeistowwe nodig. Gebruik die medikasie om jou simptome te verlig, maar rus goed uit om van die virus ontslae te raak.
  7. Immuunstelselversterkers: Spanning, te min slaap en slegte eetgewoontes belemmer ’n mens se immuunstelsel. Dit is daarom raadsaam om eerder daardie probleme uit te sny en die ware oorsake uit die weg te ruim as om medikasie te koop wat nie noodwendig gaan werk nie.
  8. Seep wat bakterieë doodmaak: Om jou hande gereeld te was, veral in die winter, help om jou teen virusse te beskerm. Die beste handwasmiddel is gewone seep en water. Seep wat bakterieë dood maak, maak dikwels ook goeie bakterieë dood. In elk geval is virusse, nie bakterieë, verantwoordelik vir verkoues en griep.
  9. Gebottelde water: Suid-Afrikaanse kraanwater is van die beste gehalte water in die wêreld. Indien jy egter oor die gehalte bekommerd is, kry ’n filtreerder wat jou kraanwater skoonmaak. DIt is geldmors om water te koop wat so maklik beskikbaar is en deur Moeder Natuur voorsien word.
  10. Koffie-kapsules: Dit is wel lekker, dit is maklik om te maak en smaaklike en geurige koffie is jou voorland. Maar vroeër het jy heeltemal daarsonder oor die weg gekom. Dit is peperduur. Leer eerder om jou eie koffiebone te maal en ewe lekker koffie voor te sit.

    (Bykomende bron: www.manpowersa.com)

 

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150