Moenie hierdie slenters in Suid-Afrika sluk nie

Vrydag, November 20th, 2015

The Sunday Independent het onlangs berig oor ’n slenter wat dit vir swendelaars moontlik maak om jou bankrekening binne sekondes kaal te stroop – die sogenaamde “koudskakel-tegniesesteunslenter”.

Swendelaars bel niksvermoedende slagoffers en sê hulle is van ’n vooraanstaande rekenaar- of sagtewaremaatskappy en dat die slagoffers “’n probleem met hul PR’s moet uitsorteer”.

Die skelm lei die slagoffer deur ’n proses om die “probleem” op te los, wat tot gevolg het dat die swendelaar afstandstoegang tot die teiken-PR kry. Die skelm vra dan vir betaling vir sy dienste via EFO en vra die slagoffer om hom as ’n bankbegusnstigde by te voeg.

Die skelms gebruik dan die afstandstoegang om kwaadwillige sagteware te laai en die slagoffer se bankbesonderhede te oes. As dit eers gedoen is, word die slagoffer se bankrekening leeggemaak, volgens die SA Bankrisiko-inligtingsentrum.

Buiten die “tegniese steun”-bedrog, is daar ander slenters waarvoor Suid-Afrikaners op die uitkyk moet wees.

 

Die slenter met die stukkende kredietkaartmasjien

 

In hierdie slenter sê iemand met ’n maatskappykaartmasjien – byvoorbeeld ’n kelner – vir ’n kliënt dat die toestel nie werk nie en dat hy ’n ander een moet gaan haal.

Die swendelaar gaan haal dan sy eie toestel, wat net soos die verkooppunt se eenheid lyk maar geprogrammeer is om bankkaartinligting te steel.

Die toestel bevat sagteware wat die slagoffer se kaartinligting en PIN steel en opneem.

 

OTM – kaartlees en termiese beeldvorming

 

OTM’e is ’n gewilde teiken vir skelms en swendelaars, wat ’n swetterjoel aanvalsmetodes gebruik om bankinligting te steel.

Gevorderde kaartleestoestelle, wat dun genoeg is om in enige OTM-gleuf te pas, stel swendelaars in staat om bankkaarte te kloon wanneer ’n kliënt geld trek by die masjien.

Hierdie toestelle word gewoonlik gebruik saam met ’n klein kameratjie wat die gebruiker se PIN opneem.

Termiesebeeldvorming-tegnologie kan ook gebruik word om ’n gebruiker se PIN uit te vind – en al wat die swendelaar nodig het, is ’n slimfoon met ’n termiesebeeldvorming-hegstuk.

Gebruikers laat ’n termiese merk agter wanneer hulle OTM-knoppies druk en swendelaars kan ’n slimfoon met ’n FLIR ONE-termiesebeeldvorming-hegstuk gebruik om ’n gebruiker se PIN te ontsyfer.

 

Handkaartleestoestelle

 

Handkaartleestoestelle word algemeen deur swendelaars gebruik om slagoffers se bankkaartinligting te steel.

Die swendelaars gebruik sosialemanipulasie-tegnieke – soos om vir iemand wat in ’n tou by ’n OTM wag te sê dat hulle vir die bank werk – om ’n slagoffer se bankkaart te kry.

Die kaart word dan deur ’n leestoestel getrek en die besonderhede daarop word vasgelê. Die swendelaars moet dan die slagoffer se PIN ontsyfer om saam met die gesteelde kaart te gebruik.

 

Microsoft-telefoonslenter

 

Die Microsoft-telefoonslenter is soortgelyk aan die “tegniesesteunoproep”-slenter waar ’n swendelaar ’n slagoffer bel en voorgee dat hy vir Microsoft werk.

Die swendelaar sê dan dat daar ’n probleem met die slagoffer se PR is en dat hy ’n sekere stel instruksies moet volg om die saak reg te stel.

As ’n slagoffer die instruksies volg, gee hy op die ou end vir die swendelaar afstandstoegang tot sy PR – wat die pleger in staat stel om te moniteer wat die persoon aanlyn doen.

Dit sluit in toegang tot bank- en e-posrekenings.

Microsoft sê dat hy nie koue oproepe na kliënte sal maak nie en ook nie sagteware of dienste oor die telefoon sal verkoop nie.

 

Bankuitvis-e-posse

 

Bankuitvis-e-posse is wydverspreid in Suid-Afrika, waar swendelaars hulle as bankwerknemers voordoen in ’n poging om toegang tot ’n slagoffer se rekening te kry.

Kenmerkend van uitvis-e-posse is dat hulle ’n  dreigement of belofte bevat – soos “Klik hier om jou aanlyn bankdiens te heraktiveer”, of “Daar is ’n hangende betaling vir u, klik hier om toegang te kry.”

Die e-posse kan ook van oënskynlik wettige e-posadresse kom – jounaam@joubank.co.za – en lyk soos amptelike kommunikasie van die banke waarvan die slagoffers kliënte is.

As slagoffers op ’n skakel in hierdie e-posse klik, kan kwaadwillige sagteware op die slagoffers se PR’e geïnstalleer word, of dit kan hulle neem na vals webwerwe – wat hulle bankrekeningbesonderhede sal vaslê as dit ingevoer word.

As daar eers toegang tot ’n slagoffer se bankrekening verkry is, word geld oorbetaal na ’n rekening wat deur die pleger geopen is.

 

Bron: Mybroadband

 

  • Kolver

    Dis tyd dat ons die tegnologie maatskappye aanvat wat nie die publiek beskerm teen hierdie aanvalle nie. Daar is geen rede hoekom ‘n selfoon maatskappy nie ‘n geverifieerde maatskappy naam op my selfoon skerm kan vertoon indien byvoorbeeld Standardbank my bel nie. Hierdie slenters word gewoonlik vanaf die buiteland oor VOIP gedoen. Ek sal ten minste wil weet dis ‘n VOIP nommer wat my skakel.

    So ook met die ISP’s. Hulle moet ‘n span aanstel om mense se IP adresse te volg wat bv. ” jounaam@joubank.co.za” vervalsde e-mail adresse gebruik, alles wat vanaf daardie IP adres gedoen word nagaan en dan die owerhede in die betrokke land laat weet. Die polisie het eenvouding nie die kennis of bronne om hierdie bedrog op te volg nie. As ‘n sekere land, soos Nigerie, dan baie sulke bedriers het en die owerhede in daai land doen niks, moet die land se internet afsny word van die res van die wereld tot hulle optree!

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170