Meer energie – almal se stryd!

Maandag, Desember 8th, 2014

Geskryf deur: Nicolien Welthagen

AwakeningOns almal sukkel soms met lae energievlakke of om onsself te motiveer. Die algemene voorstelle van hoe oefen, positiewe denke, visualisering en so meer, ons energievlakke kan verhoog, ken ons almal. Ek het besluit om weer oor die onderwerp te gaan lees en eintlik niks gekry wat my veel geïnteresseer het nie – tot ek op ʼn artikel afgekom het wat geskryf is oor ʼn boek deur Bruce Schneider: Energy Leadership: Transforming Your Workplace and Your Life from the Core (2007). Dit het my op ʼn ander manier aan ‘energie’ laat dink.

Bruce Schneider se voorstelling van 7 energievlakke is vir my interessant en prakties wanneer jy jouself op een van die vlakke kan plaas en dan maklik kan besef hoe jy dink, voel en doen:

Vlak Dink/sien Emosie Impak/doen
7 Nie veroordelend Passie Skeppend
6 Geleenthede Geluk Wysheid
5 Moontlikhede Vrede Aanvaarding
4 Hulpvaardig Omgee Help ander
3 Aanvaar Vergewensgesind Samewerking
2 Konflik Kwaad/Omgekrap Weerstandig/Bied weerstand/Rebels
1 Slagoffer Apaties/gee nie om nie Moeg/leweloosTraag/
Vertaal uit: Schneider (2008).

Vlak 1 dui op ʼn slagoffer tipe ingesteldheid en energie en word gekenmerk deur gevoelens van bekommernis, selftwyfel en angstigheid of spanning. Dit sluit ook skuldgevoelens of selfblaam in. Wanneer jy vanuit hierdie vlak van energie funksioneer, is jy gewoonlik nie gefokus genoeg om diep betrokke te wees by take of rolle nie en het jy ook nie genoeg reserwes om jouself te motiveer en te bestuur nie. Jou produktiwiteit is laag en jy voel traag en stadig in alles wat jy aanpak.

Vlak 2 behels gevoelens wat baie mense op ʼn daaglikse vlak beleef en uitleef soos bv padwoede. Baie mense raak so opgewerk deur wat hulle sien of lees, dat hulle meeste van die tyd ongelukkig en ongeduldig of kwaad voorkom. Hierdie mense is gewoonlik outokraties in hulle bestuurstyl en dwing besluite af. Daar is gedurig konflik en hulle probeer gewoonlik ander motiveer deur hulle bang te praat.

Vlak 3 is die eerste vlak waar daar ʼn meer konstruktiewe tipe energie voorkom. Op hierdie vlak probeer mense om te rasionaliseer, te verdra en te fokus. Hulle kan verantwoordelikheid neem vir hulle eie interpretasies, optredes en emosies. Die resultaat is dat hulle hulself en ander kan vergewe en aanvaar. Terwyl jy ander oordeel, kan jy ten minste probeer saamwerk sonder konflik.

Vlak 4 is die vlak waarop baie versorgers funksioneer. Hulle poog om ander te help en tevrede te stel sover hulle kan. Hulle gee dikwels meer om vir ander as vir hulself. Die verskil tussen vlak 4 en die laer vlakke is dat jy vir jouself en ander omgee omdat jy dit kies en nie omdat jy moet nie. Dit is ʼn keuse tussen jouself en ander.

Vlak 5 is die vlak van opportuniste wat in ʼn wêreld van geleenthede lewe en wat fokus op wat reg is eerder as op alles wat verkeerd is. Op hierdie vlak word goed en sleg geëntegreer en aanvaar jy die proses van die lewe en jy probeer om die spel te speel. Hier kan jy gevoelens van vrede ervaar en in beheer van jou lewe voel. Jy hoef nie beheer oor ander te hê om in beheer te voel nie.

Vlak 6 is die vlak van die visioenêr wat ʼn konneksie voel met alles en almal en wat gereeld geluk voel en uitleef. Op hierdie vlak gaan die lewe oor geleenthede. Dit is ook die vlak van intuïsie en waar jou voorgevoel baie gebruik word.

Vlak 7 is die vlak van vrede, geluk, geloof en hoop. Op hierdie vlak is die lewe ʼn skepping sonder vrees, oordeel of bekommernis. Hier voel jy passie en energie.

Gestel jy vra ’n bestuurder vir ʼn bevordering en hy/sy sê stompweg “Nee”.

As jy op vlak 1 (die slagoffer) funksioneer, sal jy dalk dink: “ek verdien in elkgeval nie die bevordering nie” Dit sal lei tot gevoelens van hulpeloosheid en dalk depressie.

Op vlak 2 kan dit heel moontlik konflik veroorsaak en jy kan die bestuurder dalk ʼn paar lelike woorde toesnou. Jy sal wil blameer en gaan heel moontlik gevoelens van woede, verwyt en of vergelding ervaar.

Mense wat op vlak 3 funksioneer sal die situasie gewoonlik rasionaliseer, antwoorde daarop soek en dink dat hulle nie daarvan hou nie, maar dit maar moet aanvaar en daarmee moet saamleef. Mense kan dikwels hier voel dat hulle maar harder moet werk en weer later moet probeer.

Vlak 4 is die versorger en hier sal iemand dan soms jammer voel vir die hoof en probeer begryp hoekom hy/sy onregverdig reageer en die behoefte hê om te help.

Die opportunis op vlak 5 sal sien hoe dinge is en dink dat daar definitief ʼn ander manier is om die bevordering te kry.

Die persoon op vlak 6 sal steeds goed voel en glo dat ‘n bevordering wel sal gebeur soos dit moet.

Vlak 7 is die moeilikste vlak van energie om te behaal en in stand te hou. Hier sal ʼn persoon sonder om te oordeel, steeds met passie en kreatiwiteit die situasie hanteer en geen van die negatiewe gevoelens van die laer vlakke beleef of uitleef nie.

Vir my was hierdie ʼn interessante interpretasie van energievlakke. Sien jy dalk van hierdie vlakke in jouself of in ander raak?Psychology-Symbol-VECTOR

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170