Sanette Viljoen
Mag iemand namens my besluite neem indien ek nie in staat is om dit self te doen nie as gevolg van, byvoorbeeld, beserings opgedoen in ‘n motorongeluk of siekte?
Die antwoord op die bostaande vraag is nee. Niemand mag namens jou optree of besluite neem tensy ‘n hofbevel dit magtig nie of tensy daardie persoon ‘n magtigingsbrief het om dit te doen.
So ‘n hofbevel sal slegs toegestaan word as iemand aansoek doen om as ‘n curator bonis aangestel te word. Die curator bonis sal dan in staat wees om na al die belange van die persoon onder kuratorskap om te sien. Die persoon sal ook gemagtig wees om namens die ander persoon op te tree by, byvoorbeeld, kontraksluiting, beheer oor bankrekenings, ens.
Hierdie tipe aansoek lei egter tot redelike regskoste. Om hierdie tipe koste te vermy, kan daar altyd oorweeg word om saam met jou testament ‘n eenvoudige magtigingsbrief te teken. Hierkragtens word jou lewensmaat of familielid gemagtig om namens jou op te tree indien dit nodig sou wees. Jou prokureur kan so ‘n magtigingsbrief vir jou opstel teen ‘n minimale koste in vergelyking met die koste van ‘n hofaansoek.