Maak Kersgeskenke minder

Dinsdag, Desember 13th, 2016

Karen van der Berg

 

 

Dit is al ’n cliché: jou kind speel soms lekkerder met die boks waarin die geskenk was as met die geskenk self. Elke Kersfees word ons (bevoorregte) kinders oorlaai met geskenke. Die nuutste selfoon, iPad, Kindle …of die een of ander foefie wat reeds maande voor Kersfees op TV geadverteer word. Daarsonder sal jou bloedjie immers ver afsteek by sy maats.

Die gevaar om jou kind met soveel geskenke te oorlaai, is dat jy selfsugtige kinders grootmaak. Só meen Mari Venter, ʼn opvoedkundige sielkundige van Pretoria.

“Kinders verwag dikwels hulle moet sekere aardse besittings kry, anders kan hulle nie funksioneer nie.” Sy het wenke vir ouers om hierdie Kersfees nie in die slaggat te trap nie.

  • Leer hom waardering. Jy kan jou kind se ingesteldheid self verander. Maak ʼn punt daarvan om jou kind te leer om kleiner dinge te waardeer. Prys hom van jongs af oor, byvoorbeeld, ’n mooi prentjie of geskenkie wat hy by die kleuterskool vir jou gemaak het. Dit laat hom trots voel en leer hom nie net materiële dinge wat jy in winkels koop, is waardevol nie.
  • Moenie jou kind beskuldig met aanmerkings soos: “Daar is baie ander wat nie eers ’n stukkie brood het om te eet nie.” Positiewe versterking is doeltreffender as straf of skuldgevoelens.
  • Moenie hom te veel bederf nie. Vra jouself eerder af hoekom jy die behoefte het om altyd vir jou kind die beste te koop. Het jy dalk swaargekry en nou probeer jy opmaak daarvoor?
  • Gee jou kind weekliks of maandeliks sakgeld. Hy ontwikkel dan ’n beter begrip vir die waarde van geld en leer dalk hoe onregverdig dit is om ’n duur geskenk te verwag. Laat hom Kersfees self geskenkies met sy sakgeld koop.
  • Gee jou kinders klein takies of verantwoordelikhede by die huis. Kinders kry ’n groter waardering vir tyd en opoffering as hulle leer om van hul tyd te gee. Hulle kan byvoorbeeld help om tafel te dek en af te dek, die skottelgoedwasser uit te pak of om die swembad skoon te maak.
  • Die grootste geskenk wat ons as ouers kan gee, is onverdeelde aandag, ’n oor wat regtig luister voor ons raas, iemand wat saam aan die tafel sit en eet, en veral volwassenes wat mekaar met respek en liefde hanteer.
  • Wys jou kinders deur jou gedrag hoe om op te tree. As jy wil hê hulle moet goeie maniere hê en respekvol en dankbaar wees, moet jý die voorbeeld stel. Behandel ander mense so en jou kind sal jou navolg.
  • Dring aan op goeie maniere, soos om dankie te sê as hulle iets kry, al is dit hoe klein. Leer hulle dit is ’n waardevolle lewensvaardigheid. As jy meer van jou kind verwag, kan jy meer uit hom kry.

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170