Loop lig vir piramideskemas

Vrydag, Maart 5th, 2010

Dit is 2010 – ’n jaar wat op ’n baie beter noot begin as die een wat agter die rug is. Daar is egter steeds baie mense wat met hulle finansies sukkel.

Sulke mense sal enige oënskynlike reddingsboei maklik met albei hande aangryp, sonder om te kyk of dit werklik uitkoms kan bring. Een so ’n valse reddingsboei is piramideskemas. Piramideskemas kom in baie vorms en vermommings voor. Een wat baie bekend is, is die Kubus-vrotmelkskema. Mense moes ’n bedrag geld betaal vir ’n “aktiveerder” wat gewone melk omskep in ’n “velsorgproduk”. Die gedroogde vrot melk is dan aan die Kubusmaatskappy teruggestuur in ruil vir betaling. Volgens die reëls kon jy binne weke begin wins toon het. Die koevertjies vol gedroogde “produkte” is egter eenvoudig fyngemaak en as nuwe “aktiveerder” verkoop aan nuwe “produsente” van die “velsorg produk”. Soos die eerste mense begin geld maak het, het hulle vriende hul “sukses” gesien en ook aangesluit. Die storie is uit eindelik deur die regering gestop en derduisende mense wat nie aan die begin betrokke geraak het nie, het baie geld verloor.

Geen waarde is in die siklus geskep nie. Die uitbetalings aan die eerste “produsente” is gefinansier uit aansluitingsgeld van nuwe “produsente”. Indien die skema nie gestop is nie, sou dit uiteindelik self platgeval het wanneer die aantal mense wat wou aansluit finaal uitgeput was en nog ’n groter aantal mense sou hul geld verloor het.

Die meegaande grafiek toon hoe vinnig ’n tipiese piramideskema onder sy eie gewig kan knak. Dit toon ’n skema waar elke deelnemer R1 000 moet betaal en dan vyf ander mense moet oortuig om ook deel te neem voordat hy of sy ’n uitbetaling van R5 000 ontvang. Wanneer die skema maar slegs in sy tiende rondte is, is die aantal mense wat moet deelneem om dit aan die gang te hou reeds meer as die totale bevolking van Pretoria. Reeds in die vyftiende rond te is die aantal mense wat benodig word meer as die bevolking van die planeet!

In hierdie voorbeeld sal dié wat in die onderste vlak is (80% van die deelnemers) wanneer die skema doodloop ook altyd al hulle geld verloor. ’n Skema soos dié is heel temal onwettig omdat geen produk of diens verkoop word nie. Baie swendelaars ontwyk hierdie struikelblok deur wel ’n produk aan hul “kliënte” of “agente” te verskaf, maar dit is altyd iets wat so te sê waardeloos is. Dit maak dit baie moeiliker vir die owerhede om so ’n skema summier as ’n bedrogspul te verklaar, hoewel die einde daarvan ook sal wees dat die eerste deelnemers met sakke vol geld sal weg loop terwyl die meeste wat later aan gesluit het met leë bankrekenings en motorhuise vol waardelose “voorraad” sal sit.

Watter spesifieke vorm ’n piramideskema ookal aanneem, een kenmerk is altyd dieselfde: ’n Gewaarborgde opbrengs van heelwat meer as enige normale belegging by ’n finansiële instelling word belowe. Die sleutel is dat ’n baie hoë opbrengs gewaarborg word. Dit is nie moontlik nie. ’n Bank kan ’n opbrengs van 8% op ’n belegging waarborg omdat dit naby aan die gewaarborgde rentekoers van die Reserwebank is. ’n Bank kan ook ’n opbrengs van 50% aan ’n kliënt gee, maar so ’n hoë opbrengs kan nie gewaarborg word nie, aangesien sulke hoë opbrengste altyd met hoë risiko gepaard gaan. ’n Mens kan óf kies tussen ’n gewaarborgde lae opbrengs óf ’n ongewaarborgde hoë opbrengs – nie albei nie.  Indien ’n advertensie ’n hoë opbrengs waarborg, kan ’n mens maar weet dat daar iewers ’n slang in die gras is.

Piramideskemas is eintlik maar net ’n belasting op gierigheid, maar juis in tye soos vandag kan piramideskemas selfs mense wat nie gierig is nie om die bos lei. Wees dus baie versigtig met jou geld, en onthou: As iets te goed lyk om waar te wees, is dit tien teen een wel die geval.

Kommentaar is gesluit.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170