Lewensversekeraars fnuik oneerlike eise van byna R1 miljard

Donderdag, November 17th, 2016

Die Suid-Afrikaanse lewensversekeringsbedryf het in 2015 ’n rekordtoename in die waarde van bedrieglike en oneerlike langtermyn-eise tot ’n totale waarde van R870.7 miljoen gerapporteer. Dit is beduidend hoër as hulle onreëlmatige eise ter waarde van R755.1 miljoen wat in 2014 opgespoor is.

Statistiek vir eise-bedrog vir 2015 wat onlangs deur die Vereniging vir Besparing en Belegging Suid-Afrika (ASISA) vrygestel is, onthul dat terwyl die aantal gevalle van bedrog en oneerlikheid wat ontbloot is met amper die helfte gehalveer het vanaf 8 306 gevalle in 2014 tot 4 381 gevalle in 2015, die gemiddelde waarde van hierdie eise aansienlik gestyg het.

Peter Dempsey, vise-HUB van ASISA, wys daarop dat lewensversekeraars as bewaarder van ’n beduidende gedeelte van Suid-Afrikaanse spaargeld optree, wat broodnodige fondse in die ekonomie terugploeg met die betaling van voordele.

“Deur die voorkoming van bedrog en oneerlikheid handhaaf versekeraars die integriteit van hierdie spaarpoel tot voordeel van eerlike polishouers,” verduidelik hy.

Hy voer aan dat die statistieke die doeltreffendheid illustreer van verbeterde maatreëls deur versekeringsmaatskappye om gevalle van bedrog en oneerlikheid op te merk, deur eise met fermheid te ondersoek, saam met regeringsinstellings en mediese skemas te werk, en selfs sosiale media as ’n instrument te gebruik.

“Met die ekonomie onder druk, is baie polishouers in ’n ernstige finansiële verknorsing en word in die versoeking gelei om met sindikate te heul, bedrog te pleeg of oneerlike eise in te stel,” sê hy.

“Met die aantal opsporingsmaatreëls wat bestaan, sal bedrieërs en oneerlike polishouers waarskynlik uitgevang word, ’n verlies ly op die waarde van hulle polis en die risiko loop om deur kriminele aanklagte gekonfronteer te word.”

Hy merk op dat terwyl die lewensversekeringsbedryf verlede jaar verliese van tot R870.7 miljoen deur onreëlmatige eise voorkom het, lewensversekeraars meer as R45.7 biljoen aan individue betaal het wat nie dood of ongeskiktheid in hulle familiekring ervaar het nie.

 

Dood- en begrafnis-eise

Die meerderheid van onreëlmatige eise in 2015 het op dood en begrafnispolisse betrekking gehad, waar 2 751 gevalle gefnuik is, ’n skerp afname van die 7 360 gevalle wat die vorige jaar gerapporteer is. Die waarde van die eise was egter baie hoër, met ‘n totaal van R448.4 miljoen vergeleke met R402.8 miljoen in 2014.

Dempsey merk op dat hierdie neiging vanaf 2014 voortgeduur het, met bedrog wat in die meerderheid van gevalle ’n rol gespeel het en 1 311 gevalle opgespoor is met ‘n totale waarde van R62.6 miljoen.

Dempsey wys daarop dat oneerlikheid deur wanvoorstelling en nie-openbaarmaking ook sterk bygedra het tot die totale waarde van onreëlmatige dood- en begrafnis-eise, met 1 126 oneerlike eise ter waarde van ’n allemintige R370.7 miljoen.

‘n Wanvoorstelling vind plaas wanneer ’n polishouer opsetlik misleidende inligting aan die lewensversekeraar voorsien. Materiële nie-openbaarmaking verwys na die versuim van polishouers om inligting te openbaar oor ’n mediese toestand of lewenstyl.

“Dit is ontstellend dat ons ook ’n besondere skerp toename waarneem in bedrieglike dood- en begrafnis-eise waarby adviseurs en makelaars betrokke is, met 288 gevalle in 2015 vergeleke met slegs nege gevalle in 2014,” voeg hy by.

Hy sê voorts dat in een voorbeeld, ‘n polisiebeampte ‘n klag gelê het nadat sy uitgevind het ‘n makelaar was besig om lewensdekking op haar lewe te verkoop aan mense wat sy nie eers geken het nie.

 

Die oneerlikste provinsies

Dempsey rapporteer dat die hoogste aantal bedrieglike en oneerlike eise weer eens in KZN ingedien is met 39%, ’n beduidende toename vanaf die vorige jaar (32%).

Dit is gevolg deur Gauteng en die Oos-Kaap, elk met 17%, die Wes-Kaap met 7% en die Vrystaat met 6%. Ander provinsies was elke verantwoordelik vir 5% of minder.

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150