Leer jou kind spaar pleks van uitgee

Woensdag, November 25th, 2015

Deur jou kinders te leer om te spaar en slim te belê, bemagtig jy hulle om eendag finansieel onafhanklik te wees, sê Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (ASISA).

 

“As ons die kultuur van buitensporige besteding en verbruik wil verander en ’n nasie van spaarders wil word, sal ons nie net die noodsaaklikheid van spaar moet insien nie, maar ook dié kennis aan toekomstige generasies moet oordra,” sê hy.

 

Campher sê dat Suid-Afrika trouens een van die swakste spaarkulture ter wêreld het. Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank is Suid-Afrika se huishoudelike spaarkoers tans ’n treurige 1.7% van die bruto binnelandse produk. Daarenteen is lande soos China, Indië en Turkye se huishoudelike spaarkoers meer as 20%, wat onder die hoogste ter wêreld tel.

 

Hy sê ’n sterk spaarkultuur verseker nie net Suid-Afrikaners se finansiële welstand op lang termyn nie, maar is ook noodsaaklik vir die land se ekonomiese ontwikkeling.

 

“Die onmiddellike, sigbare voordeel van om geld te spaar, is jou finansiële sekuriteit. Maar as ons almal help om die land se spaarkoers te verbeter deur minder geld uit te gee en meer te spaar, skep ons ook ’n sterk ekonomie, wat weer tot werkskepping en uiteindelik laer rentekoerse en inflasie lei. ’n Land se spaargeld is in werklikheid die ruggraat van sy ontwikkeling.”

 

Campher sê dít is waarom dit so belangrik is dat toekomstige generasies die belangrikheid van spaar insien en hulle houding teenoor spandeer verander.

 

“Een van die belangrikste lesse wat jy jou kind kan leer, is dat geld nie aan bome groei nie en iets is waarvoor iemand gewerk het,” sê hy.

 

Campher sê alle ouers behoort hulle kinders die volgende waarhede oor geld uitgee en spaar te leer:

 

  • Deur nie vroeg reeds te begin spaar nie, raak dit al hoe moeiliker om eendag iets waardevols soos ’n opvoeding, ’n huis of ’n gerieflike aftrede te bekostig. Leer jou kinders dié les deur hulle aan te moedig om sonder iets klaar te kom wat vir hulle kitsbevrediging verskaf en liewer die geld vir iets groot te spaar.

 

  • Moenie jou lewe lank afbetaal aan iets soos ’n motor, TV of huishoudelike toestel deur dit op skuld te koop nie. Dis nie ’n bate soos ’n huis nie en begin waarde verloor sodra dit die winkel verlaat. Lei deur voorbeeld en verduidelik aan jou kinders dat jy nie ’n berg skuld wil aangaan om ’n nuwer model motor of die nuutste elektroniese speelding te koop nie.

 

  • As jou kinders sien jy gebruik ’n winkelkaart om te koop net wat jy wil, sal hulle grootword met die idee dat om te koop sonder dat jy in werklikheid die geld het, die norm is. Wanneer jy met ’n kredietkaart betaal, verduidelik waarom jy daarmee betaal en wat die implikasies is.

 

  • Om bankkaarte te gebruik is goedkoper en veiliger as kontant. Leer jou kinders oor banksake en open vir hulle ’n bankrekening wat aan ’n debietkaart gekoppel is asook ’n spaarrekening. Deponeer hulle sakgeld in dié rekening en moedig hulle aan om ’n gedeelte daarvan te spaar en met die kaart te betaal vir aankope.

 

  • Jou beste belegging is altyd om eers jou skuld, insluitend jou huisverband, af te betaal. As jy surplus kontant gebruik om te belê terwyl jy steeds aan skuld afbetaal, leen jy in werklikheid geld om te belê. Verduidelik aan jou kinders dat skuld duur is en dat dit geld kos om geld te leen. Die gemiddelde rentekoers op klererekeninge is tans 21%. Dis haas onmoontlik om dieselfde opbrengs op jou spaargeld en beleggings te verdien.

 

  • Sodra al jou skuld afbetaal is, stel ’n betroubare finansiële adviseur aan en belê jou geld. Leer jou kinders oor die krag van saamgestelde groei. Dit beteken dat jy rente op die oorspronklike belegging verdien, asook op die wins wat jy reeds gemaak het.

 

  • Suksesvolle beleggers belê eers en bestee dan wat oor is van hulle inkomste, terwyl die wat éérs bestee selde genoeg geld belê om in hulle langtermyndoelwitte te voorsien. Leer jou kinders om éérs te spaar voordat hulle ’n sent van hul sakgeld in die winkels uitgee.

 

  • ’n Begroting is ’n kragtige hulpmiddel om jou te help spaar. Die begrotingsproses help jou om die groter prentjie te sien en jou geldsake daarvolgens te beplan. Betrek jou kinders by dié proses – dan sal hulle besef hoeveel dit werklik kos om ’n huishouding aan die gang te hou.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170