Leer jou brein om geld slimmer te bestee

Maandag, Junie 1st, 2015

Annatjie Bouwer

 

Jy hèt ‘n begroting, maar dis asof jou beursie vanself oopgaan wanneer ‘n koopgier jou oorval. Hier is ‘n paar voorbeelde oor hoe om die kooplus te blus.

 

Daar word gesê dat ongelukkigheid by die werk jou beursie vinnig laat oopgaan. Hierdie situasie waarin jy jouself bevind, veroorsaak dat jy jouself wil vergoed. Geld is ‘n koue en harde feit, maar dit is een van die mees emosionele aspekte in ons lewens. Selfs die beste begroters onder ons het iets wat hulle kan laat knak om geld onnodig te spandeer.

 

Daarom is dit belangrik om te weet presies wat jou laat koop. Anders gaan jy geld spandeer op iets waaroor jy nie deeglik nagedink het nie, of nie kan bekostig nie, of nie nodig het nie, en heel waarskynlik iets waarvan jy nie regtig hou nie. Om so te koop maak nie ons lewens gelukkiger nie. Volgens Dr. April Benson, outeur van To buy or not to buy: Why we overshop and how to stop, is dit daarom noodsaaklik om in elke verleidelike situasie te weet watter emosies jou oorreed om geld uit te gee.

 

Die stresfaktor

 

Selfs al is jy gelukkig by die werk is die moontlikheid daar dat jy die een of ander tyd gespanne gaan voel. Dis gewoonlik dan wanneer ‘n mens die winkels invaar vir trooskopies.  En soos jy dalk reeds vermoed, is dit meestal vroue wat aan hierdie onnodige kwaal ly. ‘n Studie deur die Universiteit van Michigan (Rick, 2014, p. 18) het bevind dat ‘n mens inderdaad beter voel wanneer jy iets gekoop het – moontlik omdat jy in beheer voel wanneer jy koop.

 

Daar is egter ’n ander moontlikheid . Maak byvoorbeeld ‘n Pinterest-bord wanneer jy in ‘n goeie bui is. Of maak ‘n lysie van bekostigbare dinge wat jou sal laat goed voel, byvoorbeeld ‘n gesigbehandeling tuis. Wanneer jy gespanne voel kan jy na hierdie lysie kyk vir idees om iets vir jouself te doen of te koop. Veronderstel jy spandeer dan R100. Dit is tog baie beter as om die winkels in te vaar en ‘n paar uur later met R1 000 se aankope tuis te kom.

 

Stres beïnvloed ons geldsake ook op ‘n ander manier. Ironies genoeg is dit juis wanneer jy probeer spaar. Wanneer jy volgens ‘n streng begroting leef, bestaan die risiko dat jy gefrustreerd kan raak en dalk al jou geld op een slag spandeer. Dis soos wanneer ‘n mens op ‘n dieet is. Jy kan gewig verloor deur net van wortels te leef, maar dit is ongesond en jy gaan uiteindelik knak en ‘n hele pak skyfies verorber.

 

Wanneer dit goed gaan

 

Sommige van ons koop nie net wanneer ons bedruk voel nie, maar juis wanneer dit goed gaan. ‘n Goeie voorneme om skuld te betaal, of te spaar wanneer jou belasting byvoorbeeld terugbetaal word, realiseer nie altyd nie. Dis mos baie lekkerder om nou iets te koop wat jy kan sien as om vir iets in die toekoms te spaar (Ariely, 2010, p. xii).   Dis baie opwindend om ‘n meevallertjie in die vorm van ‘n groot bedrag geld te ontvang. Ons voel dan dat ons iets opwindends daarmee moet doen. Dis soos om ‘n kolskoot te skiet, eerder as om net te sê dat jy die regte ding gedoen het.

 

So, hoe nou?  

 

Dis moeilik om rem te trap wanneer jy alreeds jou bonustjek begin spandeer het. Ons begin gewoonlik inkopies doen deur die voor- en nadele van ‘n spesifieke aankoop goed te oorweeg. Maar wanneer die “moet ek of moet ek nie” -grens eers oorgesteek is, neem die momentum van koop heeltemal oor. Navorsing het gewys dat ons waaksaamheid kan herstel as ons net ‘n klein bietjie tussen aankope wag. Dit neem ongeveer 15 minute vir die adrenalien om verwerk te word en so die uiteindelike spiraal van skuldgevoelens te vermy.

 

Fokus op jou doelwitte, byvoorbeeld om skuld te betaal of te spaar, maar hou iets vir jouself ook. Kyk na jou begroting en besluit op ‘n bedrag vir iets persoonliks. Dit sal genoeg bevrediging verskaf en jou op die pad hou na groter finansiële doelwitte.

 

Dit is nie maklik om met minder klaar te kom as wat jy verdien nie, maar soos met alle gewoontes word dit mettertyd tweede natuur. Begin met die regte ingesteldheid, en onthou om nooit met die buurman te kompeteer nie!

 

Bronne:

 

Ariely D. 2010. Predictably irrational: The hidden forces that shape our decisions. New York: HarperCollins Publishers.

Benson A. 2008. To buy or not to buy: Why we overshop and how to stop. Massachusetts: Shambhala Publications, Inc.

Fernández SM, 2015. Train your brain to be smart about spending., Redbook, April.

Finweek staff, 2015. Money: Five steps to financial well-being., Finweek, http://finweek.com/2015/01/16/money-five-steps-financial-well/

Rick, S., Pereira, B., Burson, A.K. 2014. The benefits of retail therapy: Making purchase decisions reduces residual sadness. Forthcoming in the Journal of Consumer Psychology; Ross School of Business Paper No. 1208. Available at: http://ssrn.com/abstract=2119576

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150