Kweek jou eie groente – daar is hope voordele!

Dinsdag, Augustus 23rd, 2016

Karen van der Berg

 

 

Ervare tuiniers sal saamstem: min dinge gee ’n mens meer bevrediging as om groente uit jou eie tuin te pluk en te gebruik – sappige wortels, lieflike blomkool en krakerige slaaiblare om vars te bedien.

Daar is baie redes om jou eie groente te plant, meen Johann van der Merwe, tuinboukundige van Newcastle.

“Op die oomblik is een van die grootste voordele die ekonomiese sy daaraan verbonde. Met die huidige droogte het die prys van groente die hoogte ingeskiet. Dit lyk ook nie of die prentjie vinnig gaan verander nie.”

Hy sê verdere voordele is die beskikbaarheid van jou eie groente, die feit dat jy net kan gebruik hoeveel jy nodig het en dat jy groente kan plant waarvoor jou gesin baie lief is.

“’n Mens het ook nie te veel nodig om ’n groentetuin te begin nie. Die enigste vereiste is natuurlik ’n stukkie vrugbare grond. Verder moet die grond oor goeie dreinering beskik, genoeg volson kry, en dan benodig ’n mens natuurlik ’n paar stukkies tuingereedskap.”

Maar wanneer plant jy wat?

Toit Maritz skryf op sy gewilde groentetuin-blog, www.toit-groentetuin.blogspot.co.za, dat hy jaarliks min of meer ’n chronologiese benadering volg. Hy woon in die Johannesburg-omgewing, en toestande verskil tussen areas, so hou dit in gedagte.

 

September: Jou tuin rus nog en net die winterplante staan nog daar. Dit is altyd ’n versoeking om nou al somerplante te begin plant. Dit is ’n fout; hulle gaan dit nie oorleef nie, of hulle gaan swak plante word.

Werk nou kompos in jou tuin in.

 

Oktober: Die eerste reëns het (hopelik) nou geval of kom binnekort. Plant nou lekker somergroente soos suikermielies, murgpampoentjies, aartappels en skorsies.

Oes ook nou uie en knoffel wat vanaf die winter reg sal wees.

 

November tot middel-Desember: Vervang enige somersade wat jy in Oktober geplant het en wat nie opkom nie of wat gevrek het. As jou tamatiesade dalk nie lekker ontkiem het nie, koop in hierdie tyd saailinge by die kwekery – so ook eiervrug en rissies. Jy kan in hierdie tyd ook nog pampoensade plant.

Na die reëns sal onkruid welig groei. Wees op die uitkyk daarvoor.

 

Begin-Januarie:

Jy is terug van vakansie af en alles het welig gegroei. Oes nou jou groente en geniet dit.

Jy kan nog die volgende plant: Murgpampoentjies, winter-aartappels en vrugtebome.

 

Einde-Januarie:

Plant nou wintergroente se sade in bakkies of in beskermde beddings: dit is uiesaad, kropslaai, roketslaai, seldery en spinasie.

 

Middel tot einde-Februarie: Die ou pampoenranke begin geel en bruin word en dra nie meer veel nie. Oes die laaste daarvan en haal die ranke uit.

Plant patats.

 

Maart tot middel-Mei

Oes jou oorblywende groente en maak jou tuin skoon. Die nagte raak nou lank en die temperature begin daal. Dit is nou die tyd om beheer oor jou tuin te kry. Plant nou wintergroente soos boerbone, ertjies en knoffel.

 

Einde-Mei tot einde-Julie (Winter)

Dit reën nie, maar ryp wel.

Jou patats is nou gereed om geoes te word.

Jy kan nou niks plant tot einde-September nie, so hou net jou winterplante aan die gang.

 

Wenk: Lees agter op die verskillende pakkies van die groentesoorte wanneer hulle gesaai kan word. Al die plantinligting, spasiëring en bemesting word daarop aangetoon.

 

 

 

 

 

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161