Kry só die beste agent as jy huis verkoop

Woensdag, Augustus 5th, 2015

Vir baie van ons gaan die verkoop van ’n eiendom gepaard met hoë vlakke van angstigheid en onheil. So, waar kry mens iemand wat jy kan vertrou om jou deur die gevare en slaggate van die verkoopstransaksie te stuur? Volgens die Rawson Eiendomme is daar ’n paar belangrike goed om na op te let.

 

1. Is hulle gekwalifiseer?

Jy sal verlig wees om te weet dat nie sommer enigeen met ’n blink glimlag en ’n stewige handdruk ’n eiendom mag verkoop nie. Agente in die eiendomsbedryf moet aan ’n bepaalde kwalifikasievlak voldoen voordat hulle toegelaat word om te praktiseer. Hierdie kwalifikasie is die Getrouheidsfondssertifikaat (GFS; Eng: FFC), wat die agent elke jaar moet hernu.

 

2. Is hulle aan jou kant?

Wanneer dit kom by iets groot, soos om jou huis te verkoop, wil mens seker maak dat jou eiendomsagent jou belange op die hart dra. Persoonlike aanbevelings is ’n baie goeie manier om ’n agent te kry wat jy kan vertrou. Vra jou familie, vriende en bure. As hulle ’n goeie ondervinding gehad het, sal jy waarskynlik ook.

 

3. Kom jy klaar met die agent?

Om ’n eiendom te verkoop, kan van dae tot maande duur en jy sal dwarsdeur die proses waarskynlik byna konstant met jou eiendomsagent in aanraking wees. Beskou die agent as jou nuwe beste vriend.

 

Jy wil egter na die verkoop nog al jou varkies bymekaar hê, so, as jy die agent se kommunikasiestyl op enige wyse moeilik of irriterend vind, kry iemand anders. Gou.

 

4. Wat is sy of haar werkgeskiedenis?

Jy het nou ’n agent gekry met wie jy goed klaarkom, julle is inderdaad reeds Facebook-vriende, maar die groot vraag is: kan hy of sy verkoop? Die beste manier om uit te vind, is om die agent te vra vir ’n lys van sy of haar mees onlangse verkope en vir getuigskrifte van vorige kliënte. Dit het geen sin om ’n gawe eiendomsagent te hê wat nie kan verkoop nie.

 

4. Kan die agent die waardasie regverdig?

’n Goeie eiendomsagent sal die mark kan beoordeel en jou eiendom korrek prys ten einde by die teikenmark uit te kom. Jy sal dalk in die versoeking wees om die eiendomsagent te kies wat vir jou die hoogste waardasie gegee het, maar vra die agent hoe hy of sy by daardie bedrag uitgekom het. Die agent moet dit kan regverdig op grond van huidige marktendense en onlangse eiendomsverkope. Moenie die agent wat ’n laer waardasie gegee het summier uitskakel nie want daar is dalk goeie redes hoe hy of sy by daardie prys uitgekom het.

 

6. Wat is die agent se bemarkingsmetode?

Voordat jy ‘ n agent kies, maak seker dat jy ’n gedetailleerde ontleding kry van hoe hy of sy beoog om jou eiendom te bemark. Is die agent se webblad maklik toeganklik vir verkopers? Wat is die gehalte van die foto’s wat gebruik word om die eiendom ten toon te stel? Navorsing het getoon dat beelde eiendomme verkoop en dit is dus die moeite werd om uit te vind of ’n professionele fotograaf gebruik is.

 

Daar is ook ander vrae: Op watter eiendomsportale gaan die agent adverteer? Gaan die agent koerante gebruik? Watter? Hoe goed is die brosjures? Dit is almal sleutelvrae om seker te maak dat jou eiendom die bes moontlike publisiteit kry.

 

7. Ken die agent die omgewing?

Potensiële kopers sal wil weet in watse omgewing hulle belê, so vind uit of jou agent die omgewing goed ken. Vra hom uit oor skole, inkopiesentrums, parke en restourante in die omgewing. Die feit dat die agent weet van die hondvriendelke parkie net om die hoek kan dalk die stukkie inligting wees wat vir jou die beste koper kry. Vir verkope is inligting alles.

  • anita

    Dankie dat jul die inligting deurgee. Daar is baie soos hul se ‘sharks’ daar buite. Ek is self n eiendomsagent en kan met trots se dat ek in 13 jaar nog geen sake teen my gehad het nie. As jy in Boksburg is en wil verkoop, praat gerus met my.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161