Kry ’n bestedingsplan – nie ’n begroting nie

Vrydag, April 8th, 2016

Cameron Huddleston

 

 

Amerikaners sê hulle grootste gelduitdaging is om by ’n begroting te hou, volgens GOBankingRates se 2015 Life + Money Survey. Miskien is die rede waarom mense dit moeilik vind om te begroot die feit dat hulle dit verkeerd benader.

“Mense krimp gewoonlik ineen as jy van begrotings praat omdat hulle dit as beperkend beskou,” sê Jim Blankenship, ’n gesertifiseerde beplanner by Blankenship Financial Planning. Die alternatief, sê hy, is ’n bestedingsplan, wat oor keuses gaan.

Die volgende is wat jy moet weet oor hoe om ’n bestedingsplan op te stel wat na ’n veiliger finansiële toekoms sal lei.

 

Die verskil tussen ’n bestedingsplan en ’n begroting

Vir baie mense voel ’n begroting is soos ’n dieet omdat dit jou ’n gevoel van ontneming gee, sê Brad Klontz, ’n finansiële sielkundige en skrywer van Mind Over Money: Overcoming the Money Disorders That Threaten Our Financial Health. Jy moet jou besteding nagaan en uitwerk wat jy kan weglaat. Dit kan pynlik wees, sê hy, so min mense doen dit.

’n Bestedingsplan verander egter alles. In plaas van te kyk hoe jy dinge uit jou lewe kan weglaat, besluit jy hoe jy jou geld wil bestee, volgens Klontz. “Dit is ’n gesprek oor waardes, oor doelwitte, oor wat jou opgewonde maak,” sê hy.

 

Hoekom bestedingsplanne werk

As jy al ooit op ’n dieet was, weet jy dat jy nog meer na kos begin smag. Klontz sê eintlik gee jy jou liggaam kennis dat hy nie meer so baie kos as voorheen gaan kry nie, en jou brein reageer deur vir jou te sê om jou te ooreet.

Om te begroot, net soos ’n dieet, skep ’n soortgelyke reaksie. Daardie gevoel van ontneming veroorsaak dat jou brein die teenoorgestelde doen, sê Klontz. So, as jy vir jouself sê om minder te bestee, kan dit maak dat jy meer wil bestee.

’n Bestedingsplan, aan die ander kant, gaan oor belonings. Wanneer jy besluit waarheen jou geld moet gaan – afbetaling van skuld, spaar vir ’n huis, opbou van ’n neseier of ’n reis om die wêreld – word jy gemotiveer deur ’n doelwit. “Dit is baie suksesvoller as om te fokus op waar om aan besteding te besnoei,” volgens Klontz.

 

Hoe om ’n bestedingsplan op te stel

Begin deur jou doelwitte te indentifiseer. Jy sal gemotiveer word om stappe te doen as jy ’n duidelike beeld het, soos die aftreeleefstyl wat jy wil hê, of ’n plek wat jy wil besoek.

Gaan dan jou besteding na en kyk of dit met jou prioriteite orreenstem. Blankenship beveel aan dat mens ’n hulpmiddel soos die gratis Mint mobiele app of ’n Excel-spreiblad gebruik om besteding te moniteer. Die Mint-app sal jou besteding outomaties kategoriseer, wat jou kan help om te sien waarheen jou geld gaan.

Rangskik dan jou uitgawekategorieë volgens die bedrag wat jy aan elkeen bestee. Die lys sal vir jou wys hoe jy jou besteding geprioritiseer het en of dit ooreenstem met jou doelwitte. “Mense gaan dikwels nie deur die proses nie en dit is vir hulle ’n openbaring as hulle sien hoeveel hulle aan diskresionêre items bestee, volgens Blankenship.

Volgens Todd Tresidder, ’n finansiële afrigter by FinancialMentor.com, moet jy, as jy jou besteding in ooreenstemming met jou prioriteite wil bring, die volgende twee vrae oor elke uitgawe vra:

 

  1. Kry jy die meeste en beste waarde vir jou geld?
  2. Neem die aankoop jou nader of verder van jou doelwitte?

 

Anders as die gewone begrotingsvrae wat behels dat jy moet besluit waar om te besnoei of wat om uit te skakel, vereis hierdie benadering nooit dat jy moet vra of jy sonder iets kan klaarkom nie. In plaas daarvan fokus hierdie vrae op wat jy wil hê en om jou besteding daarby aan te pas. “Dis ’n baie positiewe ervaring,” sê hy.

Mens hoor byvoorbeeld dikwels hoe ’n daaglikse koppie duur koffie ’n gat in jou sak kan maak, maar as jy van die huis af werk, kan ‘ n ekskursie na die koffiewinkel jou uit die huis kry en jou werkdag opbreek. Om egter elke dag by die koffiewinkel te stop omdat jy te lui is om ’n pot koffie te maak, is geldmors, volgens Tresidder.

Na ’n paar maande sal jy hierdie vrae outomaties by die verkoopspunt begin vra, sê hy. Jy sal dan sonder moeite minder begin bestee na gelang jy jou uitgawes met jou waardes in lyn bring.

As jy hulp nodig het, beveel Klontz aan dat jy jou doelwitte neerskryf en die lys ophang waar jy dit kan sien. So ’n daaglikse visuele herinnering kan help om jou gemotiveer en op koers te hou.

 

Bron: GoBankingRates

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152