Kry só jou persoonlike begroting in orde

Donderdag, Junie 4th, 2015

Nico Strydom

 

ʼn Begroting is die enkele belangrikste stukkie gereedskap wat in enige huishouding se finansiële gereedskapskas moet wees.

Dit is volgens Francois Smit, besturende direkteur van Solidariteit Finansiële Dienste.  “Dit is waar die meeste mense kleitrap met hul finansies. Hul weet gewoonlik wat hul inkomste is, maar hou nie boek van hul uitgawes nie, en het ook geen beheer oor die uitgawes nie. Die begroting, as dit eers gedoen is, gee ook antwoorde oor ander finansiële sake wat aandag nodig het. Geen huishouding kan daarsonder nie.”

Volgens Smit is die eerste stap om te kyk of jy vir al die uitgawes op jou bankstaat verantwoording kan doen. Smit sê mense kom dan vinnig agter dat hulle byvoorbeeld drie keer in ʼn maand kontant getrek het, maar geen bewyse het van waar die geld heen is nie. “Jy neem die uitgawes en dokumenteer dit in ʼn gewone Excel-dokument, en druk dit uit as ʼn persentasie van jou netto-inkomste. Jy het meer as een maand se statistiek nodig om ʼn patroon raak te sien. Die proses gaan ook uitskieters uitwys, soos byvoorbeeld as jy een maand bande op jou voertuig moes sit.”

Smit meen dit is voordelig vir egpare om ʼn gesamentlike begroting te hê. “Die rede daarvoor is om uit die begroting  ʼn risiko-plan te kan opstel om sodoende die risiko’s wat kan ontstaan sou een van die gades iets oorkom, te identifiseer.” Volgens Smit hoef egpare nie noodwendig ʼn gesamentlike of spesiale bankrekening te besit om ʼn begroting aan te pak nie. “As die begroting reg aangepak word, weet elke gade watter verantwoordelikheid aan hom/haar toegedeel is, en kan dit met aparte bankrekeninge nog steeds goed hanteer word.”

Smit sê daar is nie altyd vaste riglyne om te bepaal hoeveel daar op ʼn spesifieke begrotingsitem, soos byvoorbeeld kruideniersware, bestee moet word nie. “Paaiementbetalings aan skuld is ʼn groot probleem. Dit is nie net skuld op bates soos ʼn huis of voertuie nie, maar eerder wentelkrediet, soos persoonlike lenings en kredietkaarte. Wat wel vas behoort te wees, is dat ʼn mens 10% tot 15% moet spaar, maar dit gebeur in baie min gevalle wel.”

Volgens Smit is daar hoop as jy sukkel om by ʼn begroting te hou. “Wees net eerlik. As jy meer uitgee as wat jy inkry, het jy groot probleme. As jy kruideniersware op skuld begin koop (kredietkaart), het jou probleme klaar begin. Die maklikste is om ʼn beleid te hê van geen kontant, geen aankope. Kry ʼn kredietkaart en oortrokke rekening uit jou lewe; dit verander mens se denke oor geld. Vestig ʼn gewoonte om te spaar. Die goue reël is dat jou begroting jou lewenstyl bepaal, nie dat jou lewenstyl jou begroting dikteer nie.”

Die Raad op Finansiële Dienste (FSB) meen daar is vyf belangrike stappe om te onthou wanneer jy jou begroting saamstel:

  1. Maak ʼn lys van al jou vaste onkostes/uitgawes. Hierdie is items wat elke maand dieselfde bly en waarvoor jy moet betaal, bv. skoolfonds, vervoer na en van die werk.
  2. Maak ʼn lys van al jou veranderende onkostes/uitgawes. Hierdie onkostes verander van maand tot maand, bv. kruideniersware, water en ligte.
  3. Bereken jou totale onkostes/uitgawes. Jou vaste uitgawes plus jou veranderende uitgawes gee vir jou die totale uitgawes.
  4. Bepaal jou totale inkomste. Dit is die totale bedrag tot jou beskikking vir jou maandelikse besteding.
  5. Vind uit of jy geld oor het om te bestee. Trek die kleiner bedrag van die groter een af. Indien jou uitgawes meer as jou inkomste is, beteken dit dat jy meer spandeer as wat jy verdien. Jy het geld oor indien jou inkomste meer as jou uitgawes is.

Die FSB gee ook die volgende waardevolle wenke:

  • Sit saam met jou gesin en stel ʼn volledige lys op van al die dinge wat julle benodig en begeer.
  • Stel ʼn maandelikse begroting op en hou daarby.
  • Betaal eers vir die dinge wat jy benodig.
  • Koop dan die dinge wat jy begeer.

 

Bronne:

Raad op Finansiële Dienste – https://www.fsb.co.za/Pages/Home.aspx

Solidariteit Finansiële Dienste – https://solidariteit.co.za/sfd/

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152