Kredietkaarte en minderjariges: Wat sê die reg?

Donderdag, September 22nd, 2016

Sanette de Jager

 

Met tegnologie wat daagliks groei, het minderjarige kinders byna 24 uur toegang tot sosiale media op hul selfone, tablette, ens. Die meeste sosialemedia-platforms, bv. Facebook, gee ook aan die gebruikers verskeie speletjies om te speel. Talle ouers het al met die kopseer gesit dat hul minderjarige kind hul kredietkaart gebruik het om krediete aanlyn te koop om hierdie speletjies te speel. Die vraag is egter of hierdie transaksie ’n bindende kontrak is?

Wetgewing en die gemene reg maak voorsiening vir kontrakte wat deur minderjariges aangegaan word. Volgens die Kinderwet (Wet 38 van 2005) is ’n minderjarige ’n persoon tussen 7 en 18 jaar oud. Volgens die gemene reg het ’n minderjarige nie die reg om bindende verpligtinge aan te gaan ingevolge ’n kontrak nie en hy of sy moet die toestemming van sy of haar ouer of voog hê voordat ’n kontrak aangegaan kan word. Hierdie toestemming kan vooraf gegee word of na die tyd. Daar kom uitsonderings op die reël voor in verskeie stukke wetgewing.

Wanneer ’n kontrak by die sluiting daarvan nadelig is vir die minderjarige, kan die minderjarige aanspreeklikheid vermy selfs al is dit deur die ouer of voog bekragtig. In hierdie geval kan daar aansoek gedoen word dat die hof die kontrak tersyde stel. Die hof kan dan gelas dat albei partye in dieselfde posisie geplaas word as waarin hulle was voordat die kontrak aangegaan is.

’n Groep ouers in Amerika is tans besig met ’n regsgeding teen Facebook, waar hulle eis dat Facebook die wyse waarop aanlyn transaksies deur minderjariges hanteer word, verander. Die regspan van die ouers voer aan dat dit belangrik is dat Facebook kennis dra van ’n gebruiker se werklike ouderdom. Die probleem is dat kinders dieselfde as volwasse gebruikers behandel word wanneer dit kom by geld en die sluiting van kontrakte aanlyn. ’n Nog groter probleem is dat prestasie, te wete die betaling van geld via ’n kredietkaart of debietkaart, byna dadelik plaasvind en die kind verwerf dadelik die speletjie se krediete. Indien die ouer dan, volgens wetgewing, teruggesit word in die posisie waarin hy of sy was en die geld aan hom of haar terugbetaal word, is die kind reeds  onregverdig verryk en die krediete is reeds gebruik.

Die stelsel wat Facebook tans gebruik, maak misbruik van die minderjarige omdat hy of sy nie die kontrakte wat hulle aangaan wanneer hulle krediete koop om aanlyn speletjies te speel ten volle verstaan nie. Verder skep die huidige stelsel die moontlikheid van situasies waar ouers, wat onmiddellik terugbetaal moet word, toestem tot die aankope en dan nadat die kind die krediete verkry en gebruik het, versoek dat hul rekeninge gekrediteer word as gevolg van ’n ‘gebrek aan toestemming’.

Daar sal dringend na hierdie betrokke stelsel van betaling in Suid-Afrika gekyk moet word nadat uitspraak in die klasaksie in Amerika gelewer is. Tot en wyl dit gebeur blyk dit dat daar geen oplossing is vir ouers wie se kinders hul krediet- en debietkaarte gebruik sonder hul toestemming nie. Indien jou kinders daarvan hou om aanlyn speletjies te speel, sal dit dus raadsaam wees om hulle dop te hou totdat daar duidelikheid is oor die verhaalregte wat beskikbaar is vir ouers wat hulle in hierdie situasie bevind.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170