Hoe om kopersberou te vermy

Vrydag, Mei 13th, 2016

Jacqueline Gray

 

 

Om ’n huis te koop, is stellig die ingewikkeldste en duurste aankoop wat jy ooit sal doen. As sodanig is dit belangrik om seker te maak dat die huis wat jy in die oog het regtig die huis is wat jy wil hê, anders sit jy dalk met ’n geval van kopersberou.

Volgens Wikipedia se definisie is kopersberou die gevoel van spyt wat mens kry nadat jy ’n aankoop gedoen het. Dit hou in die algemeen verband met duur items soos karre of huise en kan ontstaan uit die vrees vir die verkeerde keuse, ’n skuldgevoel oor uitspattigheid, of die vermoede dat jy jou te veel deur die verkoper laat beïnvloed het.

Dis spanningsvol genoeg om ’n huis te koop sodat jy jou nie nog wil bekommer daaroor dat jy dalk later gaan spyt wees oor die besluit nie. Dit is dus belangrik om ’n bietjie terug te staan, jou huiswerk te doen en objektief te probeer wees voordat jy selfs ’n aanbod maak. ’n Goeie plek om te begin, is om seker te mak dat die huis aan al jou vereistes voldoen. Sommige van die vrae wat jy in hierdie verband moet vra, sluit onder andere die volgende in:

 

  • Kan jy dit regtig bekostig?

 

  • Is die eiendom in ’n goeie toestand?

 

  • Is dit ruim genoeg?

 

  • Is die eiendom naby skole, hospitale en ander geriewe?

 

  • As dit deel van ’n deeltitelkompleks is, word die kompleks goed bestuur en in stand gehou?

 

  • Is die eiendom troeteldiervriendelik?

 

  • Is die omringende omgewing vervalle of vind daar baie ontwikkeling plaas?

 

  • Is misdaad in die gebied onder beheer?

 

  • Is daar genoeg parkeerplek vir besoekende vriende en familie?

 

  • Is die eiendom onderhewig aan ’n klomp geraas?

 

  • Sal dit moontlik wees om aan te bou of te restoureer?

 

As jy al hierdie vrae beantwoord het en jy twyfel nog steeds of jy op die stippellyn moet teken, moet jy jouself afvra: “Hoekom?” Is daar iets aan die eiendom wat net nie reg voel nie of het jy iets uitgevind wat jou persepsie daarvan verander het? Miskien het jy, ten spyte daarvan dat jy redelik seker is oor ’n eiendom, die fout gemaak om steeds na ander huise te gaan kyk en dit het jou oordeel belemmer en jou onseker gemaak.

As jy eerlik is met jouself, sal jy dalk besef dat jy óf deur die verkoper óf jou gade gedruk word om ’n aanbod te maak. Jy kan dalk vind dat dit nie die huis is wat die probleem is nie maar dat die feit dat jy eintlik nog nie in die regte gemoedstemming is om ’n aanbod op enige huis te maak nie, jou laat twyfel. As dit nie die geval is nie, vra jouself af wat die eiendom laat uitstaan het tussen die ander waarna jy gaan kyk het en dink daaraan of dit realisties is of nie om te dink dat jy ’n “beter” huis sal kry.

Hoewel dit normaal is om onseker te voel oor so ’n belangrike aankoop, kan jou twyfel ook voortspruit uit werlike kommer oor byvoorbeeld strukturele kwessies. As jy bekommerd is, dink daaroor na en praat met jou eiendomsagent en jou familie en vriende voordat jy ’n aanbod maak. Hou desnieteenstaande in gedagte dat jou familie en vriende waarskynlik nie die omstandighede aangaande die eiendom so goed ken nie en uit voeling kan wees met realistiese pryse en neigings. Op die ou end berus die besluit by jou.

Daar is natuurlik ook tye wanneer kooptransaksies eers gestop moet word, en dit moet weerspieël word in die bepalings van jou aanbod om te koop – dis nou as jy besluit om voort te gaan. Jy moet, byvoorbeeld, van jou verpligting vrygestel word as jy nie finansiering kan kry nie, as die huisinspeksie groot foute aan die lig bring, of as daar probleme in verband met die transaksie is omdat die verkooptransaksie betwis word. Onthou net om geduldig te wees, die kwessies vooraf te deurdink en dit te vermy om ’n besluit te neem waaroor jy later spyt gaan wees.

 

Bron: Acutts

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170