Deur Emsie Martin
Koopverslawing word soms as ’n grap afgemaak, veral wanneer 'n man eintlik spog oor sy vrou wat sy kredietkaart uitgeput het. In werklikheid is dit ’n verslawing soos enige ander. Koopverslawing staan ook bekend as kompulsiewe koopversteuring (KKV).
Onder psigiaters word daar steeds gedebatteer of KKV of CBD (“Compulsive buying disorder”) ’n verslawingsversteuring of ’n obsessief kompulsiewe versteuring (OKV) is. Wat hulle ook al besluit, die gewoonte om uitermate baie te koop lei tot rampspoed en ernstige benadeling van jouself en jou familie, volgens die Nasionale Instituut van Gesondheid.
Mense wat aan kompulsiewe koopversteuring ly, het dikwels ’n verhoogde vlak van angstigheid wat hulle slegs kan verlig deur te koop. Hierdie optrede het ’n negatiewe impak of hulle lewens want hulle kan later nie meer al die skuld terugbetaal as gevolg van hierdie oorheersende begeerte om te koop nie. Baie verloor totaal en al belangstelling in hierdie artikels wat gekoop is.
Volgens Neil Roets, HUB van Debt Rescue, is daar drie tipes skuld wat onder Suid-Afrikaners aangegaan word:
- Skuld om te oorleef
- Skuld om jou huidige leefstyl te handhaaf
- Die wat op skuld leef om ’n weelderige leefstyl te onderhou
Terwyl baie mense impulsiewe kooplus assosieer met iemand wat in weelde wil leef, het studies bewys dat dit nie die geval is nie.
Hier volg ’n paar interessante feite oor kompulsiewe kopers:
- Mense met 'n lae inkomste kan ook kompulsiewe kopers wees; hulle koop by plekke waar pryse laer is en gewoonlik op uitverkopings.
- Volgens ’n artikel deur National Institutes of Health is daar vier stadiums van KKV: verwagting, voorbereiding, inkopies en besteding.
- Soos met baie verslawende optredes, is mense met KKV baie onwillig om te erken dat hulle ’n probleem het. Hulle koopgewoontes veroorsaak probleme in hul verhoudings met ’n eggenoot, vriende en familie.
- Kompulsiewe kopers koop gewoonlik goed wat hulle nie nodig het nie, nie kan bekostig nie of nie rêrig kan gebruik nie. Dit gaan meer oor die handeling as die goed wat gekoop word.
- Die gewildste artikels onder kompulsiewe kopers is klere, skoene, CD’s, juweliersware, grimering of huishoudelike artikels. Daar word gewoonlik na hierdie artikels verwys as winskopies.
- Studies het getoon dat 80% van mense met KKV vroue is, maar navorsers het ook gewaarsku dat mans met die versteuring hulself sien as ‘versamelaars’ eerder as kopers.
- Mense met KKV koop gewoonlik op hul eie.
- KKV word ook geassosieer met gemoeds- en angsversteurings en middelmisbruik.
- KKV is geneig om soms in ’n familie voor te kom en word wêreldwyd onder ryk en arm gemeenskappe gevind.
- Verskillende studies in die VSA, Europa en Brasilië beraam dat tussen 2% en 16% van die populasie kompulsiewe kopers is.
- Mense met KKV het soms ook familielede wat aan depressie en middelmisbruik ly.
- KKV manifesteer gewoonlik in die laat tienerjare en vroeë 20’s.
- Volgens die joernaal Clinical Psychology and Psychotherapy word die drang om te koop dikwels voorafgegaan deur ’n gevoel van depressie, spanning of verveeldheid.
- Die handeling om te koop gee kompulsiewe kopers een of ander gevoel van ekstase of 'n gevoel van geluksaligheid wat nooit lank hou nie.
- Na so ’n koopsessie ondervind die kompulsiewe kopers ’n gevoel van teleurstelling, skuldgevoel, woede en angstigheid.
- Om nie oor kontant te beskik nie is nie vir kompulsiewe kopers ’n hindernis nie omdat aankope meestal met kredietkaarte of op rekening gekoop word.
- Volgens Clinical Psychology and Psychotherapy word die items wat gekoop word meestal opgegaar, weggesteek, weggegee of heeltemal van vergeet.
- Die studie noem ook dat kompulsiewe kopers sal voortgaan met die gewoonte, ongeag die gevolge van skuld en regsimplikasies.
- Volgens ’n verslag van die Stanford Universiteit kan antidepressante help om KKV te verlig.
- Behandeling kan ook deur gespreksterapie plaasvind waar jy leer om jou denke te verander.
BRONNE:
https://www.fin24.com/Debt/Managing-Debt/20-facts-on-compulsive-shoppers-20150605
https://www.rooirose.co.za/op-die-rand-van-n-afgrond/
https://www.addictions.com/shopping/