Koop, kooplus, koopverslawing

Vrydag, Maart 11th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

Die term koopvraat (“shopaholic”) is gewoonlik ʼn komiese verwysing na vroue wat gek is daarna om allerhande mooi goedjies te koop. Maar om aan inkopies verslaaf te wees kan jou finansieel ruïneer en ʼn ernstige impak op jou persoonlike en professionele lewe maak.

Om iets te koop omdat jy dit benodig, is gesond en nodig. Selfs om nou en dan luukse artikels te koop omdat jy daarvan hou, is ook normaal. Maar volgens Shopaholics Anonymous “koop die verslaafde om angs te verlig en met tyd skep die gekoop ʼn disfunksionele lewenstyl en fokus sy al hoe meer op koop en soms ook daarop om iets toe te smeer”. Koopvrate koop dus kompulsief om hulle emosioneel beter te laat voel en kan vergelyk word met ʼn regmaker (“fix”) waarna dwelmverslaafdes en alkoholiste smag.

 

Wat veroorsaak die verslawing?

Daar is verskeie redes vir hierdie gedrag. Debbie Roes, herstellende koopvraat en blogger, lys ʼn paar daarvan en sê verveling is ʼn hoofoorsaak. “Ek het gevind dat wanneer daar nie baie dinge in my lewe aangaan nie, ek geneig is om meer inkopies te doen.  Ek sit af winkels toe of bestudeer webwerwe van e-inkopies. Om te koop verskaf ʼn sin van opwinding wat ʼn persoon dalk in haar lewe mis. Net die blote ervaring om in ʼn inkopiesentrum of winkel te wees is opwindend, want daar is helder ligte, kleurvolle uitstallings, opbeurende musiek en tonne dinge wat die sintuie trakteer.”

Tweedens mag vermyding ook daartoe lei dat jy afsit winkel toe om die stres van ʼn moeilike situasie of taak te verlig. “Wanneer ek te doen het met ʼn onaangename situasie of deur ʼn uitdagende taak gekonfronteer word, ervaar ek dikwels ʼn onbeheerbare impuls om winkel toe te gaan. Ek onthou hoe ek onmiddellik gaan inkopies doen het na ʼn werk-onderhoud, na ʼn moeilike telefoongesprek, en toe ek kommerwekkende mediese uitslae afgewag het.”

Volgens Shopaholics Anonymous is die soeke na opwinding, goedkeuring, die behoefte daaraan om ʼn innerlike leegheid te vul en ʼn onvermoë om negatiewe emosies te hanteer beslis redes vir koopverslawings.

Roes voeg depressie, eensaamheid, lae selfbeeld en portuurdruk by die lys. Baie vroue doen byvoorbeeld meer inkopies saam met vriendinne en familielede as op hul eie. Daar is dikwels bykomende druk om dinge te koop wanneer jy saam met geliefdes is. Wanneer ons inkopies doen, is ons ook omring deur ander mense en dit verhoog die sin van gemeenskaplikheid wat in ʼn individu se lewe mag ontbreek, terwyl dit ook depressiewe buie verlig.

 

Hoe om jou koopverslawing te verlig

Die eerste en mees ooglopende stukkie raad is om plekke soos inkopiesentrums te vermy wat jou in die versoeking sal bring om dinge te koop. Inkopiesentrums is vol geslepe bemarkingsfoefies, aangename geure en helder ligte om jou uit te lok om dinge te koop wat jy nie benodig nie.

Raak ontslae van alle bestedingsmiddele wat die behoefte kan aanvuur. Dit beteken tjekboeke, kredietkaarte en dies meer. Voorkoming is waarlik beter as genesing.

Maak ʼn lys van die dinge wat jy moet koop, trek die presiese bedrag en bel ʼn vriendin. Dit dwing jou om te hou by wat jy tuis beplan het en betaal net vir daardie items. ʼn Betroubare vriendin sal jou verantwoordbaar hou en jou daarvan weerhou om onnodige items te koop.

Bestee jou tyd en geld slimmer. Ontwikkel pretgevulde gewoontes en stokperdjies wat nie inkopies insluit nie. Kweek selfbeheersing en vra jouself altyd af wanneer jy iets koop: Het ek dit nodig of wil ek dit net hê?

Laastens, medikasie kan ook sommige van die onderliggende oorsake aanspreek, soos depressie of angs. ʼn Navorsingsverslag deur Stanford Universiteit het gevind dat antidepressante in besonder kan help om kompulsiewe koopdisfunksie te behandel.

 

Bronne:

 

Addictions.com. 2016. “Shopping addiction”. http://www.addictions.com/shopping/.

 

Roes, D. 2013. “The reasons we shop too much”. Recovering Shopaholic, http://recoveringshopaholic.com/reasons-we-shop-too-much/.

 

Shopaholics Anonymous. 2016. “What is compulsive shopping?” http://www.shopaholicsanonymous.org/.

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152