Kontant is koning! Nie regtig nie

Vrydag, April 1st, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

 

Ten spyte van die baie voordele van kontant, is daar ‘n menigte redes waarom plastiek so ‘n houvas op verbruikers gekry het.

So onlangs as twintig jaar gelede het die meeste ons ‘n beursie vol papier en min plastiek gehad. Deesdae is die teenoorgestelde waar: hulle is vol plastiek, met min papier.

Betaalmetodes het saam met so baie ander lewensfere ‘n omwenteling ondergaan as gevolg van die verspreiding van tegnologie. Kaarte het dit in baie opsigte makliker, veiliger en geriefliker gemaak om sake te doen. Hier is ‘n paar redes waarom plastiek bo kontant verkies word:

 

  • Dis veiliger

 

Om groot bedrae kontant in ‘n misdaadgeteisterde land soos Suid-Afrika by jou te dra, is moeilikheid soek. Misdadigers is op die loer en wag om niksvermoedende slagoffers met ‘n vuurwapen van hul swaarverdiende geld te beroof sodra hulle die OTM verlaat. Daar is hope bewyse op sosiale media van sakkerollers en ander skelms wat hulle tot in jou beursie swendel.

Dié met misdadige intensies is egter nie die enigste risiko wat mens loop as jy met harde kontant rondloop en sake doen nie. Ons eie nalatigheid kan ons ook skade berokken in die vorm van geld of beursies wat veloor word.

Feit is dat dit baie moeilik is om verlore of gesteelde kontant terug te kry, terwyl ‘n gesteelde kaart maklik gekanselleer en aangemeld kan word en die skade tot die minimum beperk kan word. “Daar is altyd ‘n risiko dat jy kontant wat jy by jou dra, kan verloor. As jy kredietkaarte by jou het en dit verloor, kan jy hulle kanselleer,” sê Elle Kaplan, HUB en stigtersvennoot van LexION Capital Management in New York.

 

  • Dit is geriefliker

 

Jy maak op outomatiese tellermasjiene (OTM’e) en ander kontantonttrekpunte staat om kontant te trek. Dit dwing jou dikwels om rond te loop of te ry en ‘n OTM of kontantonttrekpunt te soek. Dit is ongerieflik.

Mark Kennan, skrywer oor persoonlike finansies, sê om jou kaart deur ‘n masjien te trek, is altyd vinniger as om die presiese bedrag uit te tel of te wag vir jou kleingeld (dikwels in munte, wat moeilik is om later weer te gebruik). En jy kan dit by die meeste winkels doen – sonder om rond te skarrel en ‘n OTM te soek elke keer as jy iets moet koop.

 

  • Jy word dikwels beloon omdat jy ‘n kaart gebruik

 

Baie van die plaaslike banke beloon jou deesdae omdat jy jou kaart gebruik in die vorm van punte wat jy later by uitgesoekte winkels kan aflos. Dit beteken dat jy kontant terugkry bloot omdat jy jou kaart gebruik. Natuurlik is daar transaksiegelde of vaste bedrae betrokke, maar oor die lang termyn verhaal jy dikwels daardie koste met jou aflosbare punte. Daardie gelde is ook van toepassing op kontantonttrekkings – wat nie so ‘n voordeel het nie.

Wie sal net voor betaaldag nee sê vir ‘n vol tenk petrol of R200 se Dis-Chem-produkte? Dink daaroor.

 

 

Bronne

 

Mark Kennan, n.d., “The advantages and disadvantages of using cash vs credit”, Zacks, http://finance.zacks.com/advantages-disadvantages-using-cash-vs-credit-9240.html.

 

Penfed Credit Union, 27 June 2014, “The pros and cons of paying with cash”, http://blog.penfed.org/paying-with-cash/.

 

Susan Johnston Taylor, 19 February 2014, “The pros and cons of paying with cash”, US News and World Report, http://money.usnews.com/money/personal-finance/articles/2014/02/19/the-pros-and-cons-of-paying-with-cash?page=2.

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150