Klop die spanning van huiskoop

Donderdag, September 17th, 2015

Solette Swanepoel

 

Huiskoop is van die stresvolste dinge wat jy in jou lewe kan doen. Volgens ’n onlangse Britse opname is dit selfs méér stresvol as egskeiding, die dood van ’n grootouer, of bankrotskap. Presies die helfte van die deelnemers het gesê dat hulle ’n negatiewe ervaring met huiskoop gehad het.

Waarom is huiskoop so onaangenaam? Prokureurs wat sloer, die wete dat die koop enige tyd deur die mat kan val, die groot som geld wat op die spel is, baie papierwerk, en ’n eindelose hoeveelheid foonoproepe aan eiendomsagente, is blykbaar die vyf stresvolste aspekte van huiskoop.

Hoewel jy nie al die faktore van huiskoop kan beheer nie, is daar dinge wat jy kan doen om onnodige stres te voorkom:

 

  1. Spaar

Spaar soveel jy kan. Dit is Rhys Dyer, die uitvoerende hoof van ooba, Suid-Afrika se grootste fasiliteerder van huisleningfinansiering, se raad. Eerstens sal jy vir die deposito moet spaar. Min mense kry deesdae 100%-lenings, en boonop is dit wys om minstens ’n 10%-deposito te spaar. Nie net sal jy dan ’n beter rentekoers by die bank kan beding nie, maar jy sal ook makliker ’n lening kry en baie minder spanning ervaar.

 

Jy sal verder vir die registrasie- en oordragskoste, asook die verhuisingskoste moet begroot. Onthou dat daar ekstra maandelikse uitgawes soos erfbelasting, munisipale diensgelde en versekering gaan wees. Voorkom onnodige stres deur genoeg geld te spaar en vir al die bykomende uitgawes te begroot.

 

  1. Bestee minder as twee derdes van jou salaris

Banke sal nie sommer ’n lening toestaan tensy ’n derde van jou inkomste (voor aftrekkings) besteebaar is nie. Deur te beplan en te sorg dat jy minder as 66% van jou salaris bestee, kan jy ook baie spanning voorkom.

 

  1. Skuld en kredietwaardigheid

Adrian Goslette, die uitvoerende direkteur van RE/MAX van Suider-Afrika, beveel aan om ander skuld af te betaal voordat jy huiskoop oorweeg. Jou kredietgeskiedenis gaan ter sprake kom wanneer jy vir ’n lening aansoek doen, so moenie agterstallig met kredietpaaiemente raak nie.

 

  1. Weet waarvoor jy kwalifiseer

Een van die maniere om die onsekerheid van huiskoop te verminder, is om vooraf goedkeuring vir ’n lening te kry. Dan weet jy presies waarvoor jy kwalifiseer en teen watter rentekoers jy kan leen. Dit sal ook baie druk van jou afhaal as jy ’n verbandbemiddelaar gebruik. ’n Verbandbemiddelaar berei jou aansoek om ’n huislening voor en beding vir jou verbande by al die banke. Sodoende kan jy die banke vergelyk en ’n meer ingeligte besluit neem.

 

  1. Wees voorbereid

Maak alle nodige dokumente vooraf bymekaar sodat jy nie hoef te skarrel wanneer jy ’n aanbod op ’n huis wil maak nie. Jy gaan jou identiteitsdokument, bewys van inkomste, en drie maande se bankstate nodig hê.

 

Bronne:

 

Damien Gayle, 2014, “How buying a house is more stressful than bankruptcy, divorce and even the death of a loved-one, according to poll”, The Daily Mail, http://www.dailymail.co.uk/news/article-2690545/How-buying-house-stressful-bankruptcy-divorce-death-loved-one-according-poll.html.

 

Good House Keeping, [s.a], “Wil jy ’n huis koop?”, http://www.goodhousekeeping.co.za/af/family-relationships/setting-up-house/.

 

Hanlie Stadler, 2015, “Huiskoop 101: Skrop nes so pynloos as moontlik”, Netwerk 24, http://www.netwerk24.com/ontspan/2015-01-31-huiskoop-101-skrop-nes-so-pynloos-as-moontlik.

 

Property 24, 2015, “6 steps to buying your first home”, http://www.property24.com/articles/6-steps-to-buying-your-first-home/21290.

 

Property 24, 2015, “How to get ready to buy your first home”, http://www.property24.com/articles/how-to-get-ready-to-buy-your-first-home/22217.

 

Property 24, 2015, “Tips for a stress-free buying process”, http://www.property24.com/articles/tips-for-a-stress-free-home-buying-process/21457.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161