Klassifikasie van okkupeerders op jou plaas

Vrydag, Julie 22nd, 2016

Sanette Viljoen

 

 

Daar is baie min plase in Suid-Afrika wat vry is van okkupeerders. Baie grondeienaars laat hul werknemers toe om vir hul ʼn stat op die plaas te vestig omdat hul daar werk. Ander grondeienaars het die okkupeerders saam met die plaas geërf. Daar is ʼn wye verskeidenheid redes waarom en hoe die okkupeerders hulself op die plaas bevind.

Dit is egter uiters belangrik om die okkupeerders op jou plaas korrek te klassifiseer. Elke tipe okkupeerder word omskryf deur ʼn ander wet en elkeen van hierdie wette bepaal hoe jy te werk moet gaan om daardie spesifieke okkupeerder te hanteer. Elkeen van hierdie wette het verskillende prosedures wat die grondeienaar moet volg. Indien jy die verkeerde wet toepas op die verkeerde tipe okkupeerder, is dit ʼn mors van tyd en geld.

Daar is vier tipes okkupeerders wat op ʼn plaas woon. Hieronder word elkeen van hulle kortliks bespreek.

 

  • ESTA-okkupeerder:

 

Die mees algemene okkupeerder op ʼn plaas is ʼn ESTA-okkupeerder. Hierdie okkupeerder word in die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Nr. 62 van 1997) (hierna genoem die ESTA-wet) omskryf as ʼn persoon wat op een of ander tyd toestemming gekry het om op die plaas te woon. Hierdie toestemming kan gekoppel wees aan die arbeid wat hy op die plaas verrig of die grondeienaar kon toestemming verleen het aan ʼn sekere familie om op die plaas te woon. Daar is baie maniere hoe hierdie toestemming verkry kon word. Die groot kenmerk hier is: toestemming.

Daar is baie plase waar okkupeerders woon wie se verblyfreg verval het. Hierdie grondeienaar moet teen die okkupeerders optree in terme van die ESTA-wet.

 

  • Huurarbeiders:

 

ʼn Huurarbeider is ʼn persoon wat op die plaas woon en werk. Die huurarbeider verrig arbeid in ruil vir sy verblyfreg. Sy verblyfreg is nie net aan hom toegestaan nie. Dit is belangrik om te weet dat ʼn huurarbeider nie ʼn salaris of loon ontvang vir sy werk nie; sy vergoeding is in die vorm van verblyf op die plaas. Die verblyfreg se waarde kan uitgewerk word en indien die huurarbeider dalk meer verdien as die waarde van sy verblyfreg, kan die restant van die verdienste aan hom uitbetaal word.

Indien ʼn huurarbeider nie meer oor sy verblyfreg beskik nie, moet die grondeienaar teen die huurarbeider optree in terme van die Wet op Huurarbeiders (Nr. 3 van 1996).

 

  • Plakkers

Hierdie persoon/e het eenvoudig geen toestemming om op die plaas te bly nie. Hulle “plak” op die grond. Plakkers word gereguleer deur die  Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (Nr. 19 van 1998) (hierna genoem die PIE-wet).

Indien daar geen toestemming was om die grond te okkupeer nie, maar die eienaar van die grond het vir ʼn lang tydperk geen aksie teen die plakkers geneem nie, verkry daardie plakkers stilswyende toestemming om op die grond te woon en word hulle as te ware okkupeerders in terme van ESTA.

Indien daar plakkers op ʼn grondeienaar se eiendom woon, moet hy aksie teen hul neem in terme van die PIE-wet.

 

  • Restitusie-eise

 

Hierdie is nie noodwendig okkupeerders wat tans op die plaas woon nie. Dit is ʼn persoon of familie van ʼn persoon wat jare gelede op die plaas gewoon het en onbillik van die plaas verwyder is. Die grond is onteien en hierdie persoon/familie het min of geen vergoeding vir die grond ontvang nie. ʼn Eis word nou ingestel om daardie grond terug te kry.

Maak seker dat jy die regte wet se prosedures volg wanneer jy optree teen die okkupeerders op jou grond.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161