Klakous kultuur maak ons blind vir ander se nood

Maandag, Desember 8th, 2014

Geskryf deur: Ansie Janse van Rensburg

 

Die 7-jarige Ahmed rook `n sigaret in die oorlog geteisterde stad van Aleppo in Sirië.

Die 7-jarige kindersoldaat Ahmed rook `n sigaret in die oorlog geteisterde stad van Aleppo in Sirië.

Afrikaners is besig om hulle dood te kla. Ons kla oor kospryse terwyl ons met swaargelaaide waentjies in Checkers rondbeur, huispryse terwyl duisende ander Suid-Afrikaners op sypaadjies slaap, ons kla oor tolhekke terwyl ander hulle kinders skool toe abba of met `n donkiekar ry. Ons kla oor die Kerk terwyl Nigeriërs lewend in Kerke verbrand word deur die Boko Haram groep, ons murmureer oor die politieke situasie terwyl miljoene deur autokratiese staatshoofde gemartel of vermoor word omdat Vryheid van spraak en assosiasie nie in hulle land bestaan nie. Ons mor oor korrupsie maar leer ons kinders om R200.00 vir die verkeersman te gee  om `n boete vry te spring. Ons kla oor moorde maar blaas eerder rassehaat aan deur oproerige Uhuru ghoeroe e-posse soos “Nag van die lang messe”  aan te stuur as om betrokke te raak by ander kulture en gemeenskappe en ons deel te doen om rassehaat te veminder. Ons kla oor skoolgelde sodat ons kinders leer om te lees en skryf terwyl 7-jariges in Sirië leer hoe om volwasse soldate met `n AK-47 dood te skiet.

 

Almal praat altyd oor die “goeie ou dae”. Was dit werklik so goed? My Ouma moes in die winter kaalvoet skool toe loop en haar Pa was`n krysgevangene in Kairo terwyl sy vrou op `n plaas moes opsukkel met 8 kinders. Onthou die onluste in die 70`s en 80`s, briljante sportmanne en -vroue wat nie internasionaal kon deelneem nie, as gevolg van boikotte en sanksies. Ek wonder soms hoekom so min mense glimlag op die dikgeraamde foto`s van ons voorgeslagte wat in vele  huise hang. Edward Thomas het gese: “The Past is the only dead thing that smells sweet”. Elke generasie het unieke probleme en soms raak ons so betrokke by ons eie heil dat ons nie besef die verwysingsraamwerk strek veel verder as die afstand tussen die Kaap en Kakamas nie. Ja ons kry swaar maar so ook miljoene ander reg oor die wêreld. Die gras lyk altyd groener aan die ander kant van die draad maar dis omdat daar net meer bemesting is.

 

Word jy byvoorbeeld siek in Romenië moet die familie eers al die medisyne en mediese benodighede self by `n apteek gaan koop voordat jy gehelp word, al wat die hospitaal gee is `n bed. Baie mense kan dit nie bekostig nie en wag maar op die dood by die huis. Dink jy terug aan 1994 onthou baie nog hoe mense kos, brandstof en kerse opgegaar en gewag het op die ergste. Wat het van al daardie blikkies boontjies geword? Ek onthou dit weer as die jaar waarin  800 000 Tutsis binne drie maande deur radikale Hutus in Rwanda uitgemoor is. Dis meer as 8800 mense per dag! Volgens `n artikel in die Global Post van 17 Julie, het VN woordvoerders berig dat die maandelikse sterftesyfer in Sirië nou die 5000 merk verbygesteek het.

 

Ons stukkie gras aan die onderpunt van Afrika kan ook groener wees as ons ophou om die spriete dood te kla met monde wat kwyl van bitterheid en verdoemenis. Kyk weer mooi na die foto van Ahmed. Lewe jy in `n land waar jou seuntjie wagstaan voor `n barrikade? Lewe jy in `n land waar vroue doodgegooi word met klippe omdat hulle lipstiffie dra? Gaan kyk op die internet of in koerante na fotos van onluste, geweld, moorde en rampe buite ons landsgrense en maak vandag `n lysie in jou kop van al die dinge waarvoor ons as Suid-Afrikaners rede het om dankbaar te wees. Maak net seker jou potlood is skerp, die lysie is dalk veel langer as wat jy vermoed…

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152