Kitskos en restaurante: Maklike maniere om te bespaar

Vrydag, April 15th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

Met die huidige ekonomiese klimaat wat huishoudings se besteebare inkomste verwoes, word baie maandelikse van die baan.

Een van die eerstes is kitskos en uiteet. Mense is op soek na nuwe maniere om goedkoper te koop en te eet en maak liewer by die huis kos – wat in elk geval gesonder is.

Dis te verstane dat burger-en-tjipscombo’s vir ʼn gesin van vier jou sak met ʼn allemintige R200 kan ruk. By restaurante is dit nog duurder, want ʼn fooitjie word ook nog by die (reeds buitensporige) prys gevoeg. Vir die meeste huishoudings is dit doodeenvoudig te duur om gereeld uit te eet.

En volgens onlangse nuusberigte is kitskoskleinhandelaars onder geweldige druk as gevolg van stygende insetkoste. Party het reeds hul pryse begin verhoog, terwyl die meeste ander binnekort hierdie stygende koste aan hul kliënte sal moet oordra.

Maar wegneemetes en uiteet is lekker en gerieflik en hoef nie heeltemal uitgeskakel te word nie. As jy slim eet, kan dit nog steeds op jou maandelikse spyskaart wees.

 

Hier is ʼn paar wenke:

 

  • Deel

Besparingsblogger Kalyn Brooke sê daar is verskeie maniere waarop jy kan bespaar deur te deel. Sy sê sy kan nooit klaar ʼn hele boks tjips alleen opeet nie. “Maar as jy saam met jou gesin, wederhelfte of geliefde eet, kan een van julle ʼn groot goeie-waarde-vir-geld ete bestel en dan die tjips gelykop verdeel. Die groot boks tjips is gewoonlik meer as genoeg en dis baie goedkoper as om vir elkeen sy eie (kleiner) ete te koop.”

Daar is ʼn menigte kombinasies en jy kan kreatief raak. Dit kan selfs ʼn prettige gesinsaktiwiteit wees. In plaas daarvan dat klein kindertjies byvoorbeeld hul eie pizzas kry en net een of twee snye eet, kan hulle ma en pa se grote met hulle deel.

 

  • Eet en drink gratis (of amper gratis)

Baie restaurante en kitskosplekke het spesiale aanbiedinge vir kinders om ouers te lok om by hulle te koop. Spur bied byvoorbeeld ʼn kinderkaart wat kinders toelaat om hul eerste koeldrank gratis te drink. Ander gee afslag op sekere etes, combo’s of drinkgoed, of hulle gee jou op ʼn Maandag- of Dinsdagaand ʼn ekstra burger wanneer jy jou eerste een bestel. Wees dus op die uitkyk vir goeie aanbiedinge wat jou kan help bespaar.

 

  • Bespaar op drinkgoed en nagereg

Gaskoeldrank – of eintlik koeldrank oor die algemeen – is baie duur by kitskosplekke en restaurante. Jy betaal enigiets tussen R16 en R21 vir ʼn 340 ml blikkie Coke by ʼn restaurant en kitskoswinkels is nie veel goedkoper nie.

ʼn Goeie idee is om combo’s met ʼn koeldrank te vermy en net die kos te koop. Om twee liter Coke, wat maklik tussen verskeie mense verdeel kan word, vir R15 by ʼn kleinhandelaar te koop, of om dit eenvoudig nie by ʼn restaurant te bestel nie, is baie goedkoper en meer sinvol as om individuele blikkies of kleiner hoeveelhede te bestel. Dieselfde geld vir cappuccino’s en koffie.

Net so is nageregte mooi, maar dink jy regtig jy het dit nodig of is lus daarvoor? Die pryse wissel tussen R35 en R60 by restaurante en kitskosplekke en sal jou rekening aansienlik opstoot. Pas ʼn bietjie selfdissipline toe en bly weg daarvan. Of koop net vir die kinders en deel een met jou wederhelf of geliefde as jy moet.

 

Bronne

Brooke, K. 2015. 7 ways to save money on fast foods. Living Well Spending Less, [Aanlyn] 15 May. Beskikbaar by: <http://www.livingwellspendingless.com/2015/05/15/7-ways-to-save-money-on-fast-food/>.

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152