Kind se studies: Wat dit kos en hoe om te spaar

Dinsdag, Oktober 20th, 2015

Karen van der Berg

 

Vandat jou kind gebore word totdat hy eendag selfonderhoudend is, is ’n baie lang pad waar etlike (honderde) duisende rande bestee gaan word. Die meeste ouers wil graag in hulle kinders se behoeftes voorsien en hulle help om hulle drome te verwesenlik, maar die waarheid is dat geldelike beplanning vir seker nodig gaan wees en om kinders te hê, is nie goedkoop nie.

Anria van Heerden, ’n finansiële beplanner van Portico Finansiële Dienste, gee ’n goeie uiteensetting van wat dit ouers uit die sak kan jaag om hulle kinders universiteit toe te stuur. Sy meen dit is ’n goeie plan om nou reeds te begin geld wegsit daarvoor al is jou kindertjies nog baie klein.

“Vandag bestaan daar ongelooflik oulike programme wat my en jou kan help om te bereken wat dinge gaan kos. Dit is belangrik om hierdie beramings te doen sodat jy nie eendag met jou broek om die enkels gevang word nie.”

Sy sê indien jou kind nou pasgebore is en oor 18 jaar ’n eerstejaarstudent gaan wees, kan ’n mens die volgende som maak:

In vandag se terme kos dit min of meer R30 000 per jaar om ‘n graad te behaal en ’n graad neem meestal drie jaar om te voltooi.

Hoeveel moet jy as ouer elke maand wegsit indien die koste van die graad met 8 % per jaar toeneem en ons ’n aanname maak dat ons 10% groei per jaar op ons geld kry?

Hierdie graad gaan jou teen die tyd dat jou kind begin studeer min of meer R427 302 kos. Dit beteken dat jy van vandag af R590,25 per maand sal moet spaar daarvoor.

Indien ons presies dieselfde scenario gebruik maar jou kind dalk al vyf jaar oud is, beteken dit dat dieselfde graad min of meer oor 13 jaar R290 814 gaan kos en dat jy van vandag af ’n bedrag van R724,16 per maand moet spaar.

Anria sê dít is as jy net een kind het.

“Ons praat nie eens van die koste van meer kinders nie of van wat skole en buitemuurse aktiwiteite kos nie. Indien jou kind nog ’n spesiale talent het en dalk bykomende afrigting nodig het, gaan dit jou ook nog ’n bykomende klomp geld kos.”

Anria sê sy kan nie genoeg klem plaas op hoe belangrik dit is om vandag nog werk te maak hiervan en ’n plan te beraam om seker te maak dat jou kind ’n blink toekoms gaan hê nie.

Trudie van der Berg van Newcastle, die ma van ’n driejarige, sê die somme maak haar bang.

“In ’n mens se agterkop weet jy dat jy beplanning moet doen vir jou kind se toekoms. Vandag se lewenskoste is net so hoog. Ek en my man, Nico, het egter besluit om ons kind se toekoms ’n voorkeur te maak.”

Trudie deel daarom graag wenke oor hoe sy elke maand spaar en geld vir haar kind wegsit.

  • Ouers moet die slaggat probeer vermy om altyd die nuutste en mooiste goed vir hulle kinders te koop. Spaar eerder daardie nuwe, onnodige speelding se geld.
  • Begin ’n klereklub saam met jou vriendinne. Ons is ’n groep vriendinne op die dorp wat ons kinders se klere vir mekaar aangee om te gebruik. Ons het almal kinders van verskillende ouderdomme en gee vir mekaar aan soos dit nodig is. Dit werk uitstekend en ons spaar almal baie geld.
  • Ons gesin het besluit om die geld te spaar wat ons elke maand aan DSTV bestee. ’n Mens kan amper nie glo watter groot verskil dit maak nie en ons seuntjie speel baie eerder buite as om voor die TV te sit.
  • Ons vriendinne het ook ’n boekklub begin en ek gee glad nie meer geld op boeke uit nie.

Trudie sê die paar veranderinge kan ’n baie groot verskil maak.

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150