Kennis betaal die rekeninge

Maandag, Desember 8th, 2014

Geskryf deur: Nicolien Welthagen

knowledge_jeezny1

Ons breinkrag is deesdae belangriker as ons fisiese vaardighede. Daar word gepraat van mens-kapitaal waar werknemers hoë vlakke van kennis moet hê wat hulle kan toepas om sosio-ekonomiese en politieke probleme op te los en nuwe kennis te genereer wat kan bydra tot ʼn meer produktiewe ekonomie en ekonomiese vooruitgang van ʼn land. Moderne en groot wêreldekonomieë is kennisgedrewe. Kennis is ʼn kritiese element van die produksieproses en ekonomiese groei en ontwikkeling hang toenemend van die kwaliteit van kennisinsette af. Die dryfveer hieragter is natuurlik die snelle ontwikkeling en vooruitgang van tegnologie en digitale kommunikasie netwerke. ʼn Kennis-ekonomie word gekenmerk deur kennisinsette maar meer nog deur die produksie van kennis as uitset.

“Kenniswerkers” is nodig vir ʼn kennisgedrewe ekonomie. Hulle moet ʼn sekere ingesteldheid teenoor kennis hê – waarskynlik buigbaar wees, gewillig wees om te leer en heelwat vaardighede ontwikkel het om kognitief aan te pas en op hoogte te bly. Hulle moet tuis voel in ʼn werksomgewing wat gevorm is en word deur vinnige grenslose digitale kommunikasie en tegnologiese en kognitiewe vooruitgang en verandering.
Dit wat ons deesdae as “kennis” beskou, het nét so verander. In die verlede het hoogs geleerde mense, boeke en artikels geskryf en ingeligte besluite oor ons land se toekoms en die ekonomie geneem.  Deesdae is almal se siening en skrywes geldig. ʼn Persoon wat seggenskap het en “kennis” oordra hoef nie eers noodwendig ʼn goeie skoolopleiding te gehad het nie. “Kennis” kan maar ʼn politieke of persoonlike kleur en agenda hê en hoef nie objektief of selfs waar te wees nie. Ons stel nie meer sulke hoë standaarde aan die kennis wat aan ons oorgedra word nie. Dit is deesdae wel makliker om iemand krities te evalueer of aan te spreek oor wat hulle gesê of verkondig het, maar hoeveel mense stel belang in die twee kante van ʼn storie?  Mense lees wat hulle wil sonder om krities te evalueer of daaroor  te dink en meeste is nie bereid om na teenargumente te luister nie.
“Kennis”  kan deesdae waar of vals, objektief of intimiderend, beïnvloedend of oorredend wees.  Enigiemand kan eintlik maar enige bog glo en hulle sal heel waarskynlik ander kry wat al daaroor geskryf het en dit verkoop het as geldige en betroubare “kennis”.
Dit laat my bekommerd oor die standaarde en kwaliteit van ons opleidingsinstansies.  As ons agter raak op hierdie gebied en ons kennisstandaarde verlaag, sal ons die kenniskompetisie verloor en gaan ons ekonomiese vooruitgang sonder twyfel daaronder lei. Ons moet kinders en jong mense oplei wat respek het vir kennis en met eerbied en versigtigheid daarmee omgaan. Hoewel hulle steeds kreatief en innoverend moet kan wees en kennis moet kan gebruik vir vooruitgang, mag dit nooit losbandig en sonder integriteit geskied nie. Dit is ʼn baie moeilike verwagting en ek wonder hoeveel van ons besluitnemers die erns daarvan besef.
Moderne kennisproduksie gaan noodwendig anders lyk as in die verlede en dit is opwindend so, maar ek dink dat “kennisdwase” verantwoordelik gehou moet kan word vir hulle ondeurdagte en kennislose besluite en stellings, want kennis is ons oorlewing.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170