Ken jou regte: Verbruikers se reg op ʼn terugbetaling

Donderdag, September 22nd, 2016

Die doel van die Wet op Verbruikersbeskerming, nr. 68 van 2008 (“die Wet”), is om verbruikers te beskerm teen gewetenlose, onregverdige, onbillike, onbehoorlike handelspraktyke, misleidende, onregverdige of bedrieglike optrede en om onder andere te verseker dat ʼn verbruikersmark regverdig, toeganklik en doeltreffend is tot voordeel van die verbruiker.

Vir die deursnee geleerde verbruiker wat kennis van sy/haar regte dra, sal dit onnodig voorkom. Vir alle ander verbruikers is hierdie beskerming egter ʼn begin om maatskaplike en ekonomiese ongelykheid aan te spreek sowel as om algemene beskerming aan verbruikers te bied.

 

Die reg op terugbetaling

Artikel 20 van die Wet laat verbruikers toe om goedere terug te neem wat in ʼn kooptransaksie bekom is en maak voorsiening vir die verskaffer om die verkoopprys van sodanige goedere aan die verbruiker terug te betaal. Enige terugbetaling van die koopprys mag onderworpe wees aan ʼn aftrekking indien die goedere wat teruggeneem word, oopgemaak en herverpak is in die oorspronklike verpakking en die verbruiker die goedere gebruik het, of dit genuttig of uitgeput het. Hierdie aftrekking mag egter nie van toepassing wees indien die benutting of uitputting van die goedere nodig was om vas te stel of die goedere vir die verbruiker aanvaarbaar was nie. Die volgende uitsonderings is van toepassing op die reg om goedere terug te neem en ʼn terugbetaling te ontvang: waar openbare gesondheid of openbare regulasies die terugneem verbied nadat dit verskaf is en waar die goedere gedeeltelik of in geheel uitmekaargehaal of fisies verander is.

Dit is belangrik om daarop te let dat die verbruiker se reg om goedere terug te neem ingevolge die Wet bykomend is tot enige ander reg volgens wet tussen verskaffer en verbruiker. In praktyk mag die reg om goedere wat gekoop is terug te neem onderworpe wees aan sekere bepalings en voorwaardes wat deel uitmaak van die verkooptransaksie tussen die verbruiker en die verskaffer en wat weerspieël word op die rugkant van ʼn kwitansie, vragbrief of faktuur. Hierdie voorwaardes moet gelees word saam met die Wet en mag nie die wette van die Republiek oortree nie.

Waar die verbruiker nie die geleentheid gehad het om goedere te inspekteer voor aflewering nie of waar die verbruiker ʼn mengsel goedere gekoop het en die verbruiker die aflewering van sommige van die goedere geweier het, of die goedere is ongeskik vir ʼn spesifieke doel wat aan die verskaffer gekommunikeer is, kan dit teruggeneem word op risiko en onkoste van die verskaffer. Sodanige goedere wat na die verskaffer teruggeneem word as gevolg van direkte bemarking en waar die verbruiker die ooreenkoms herroep het binne die voorsiene afkoelperiode, is op risiko van die verbruiker.

Ingevolge artikel 56 van die Wet is daar ʼn geïmpliseerde waarborg op gehalte-goedere. Dienooreenkomstig waarborg die verskaffer dat die goedere wat aan ʼn verbruiker verkoop word, voldoen aan die vereistes en voorwaardes van artikel 55, wat betrekking het op die verbruiker se reg op veilige, goeie en gehalte-goedere. Sou goedere wat voorsien is nie aan die vereistes en standaarde van artikel 55 van die Wet voldoen nie, mag die verbruiker binne ses maande na aflewering van die goedere die verskaffer aansê om die goedere wat onveilig of defektief is te herstel of vervang, of die volle koopprys aan die verbruiker terug te betaal. Die verskaffer moet sonder boete en op sy risiko die goedere herstel, vervang of die verbruiker terugbetaal. Sou goedere wat herstel is onbevredigend bly omdat die herstelling nie die defek of onveilige eienskap reggestel het wat die verbruiker in die produk gevind het nie, moet die verskaffer binne drie maande na sodanige herstel die goedere óf herstel óf die verbruiker terugbetaal.

Verbruikers wat hulle regte ingevolge die Wet wil afdwing, mag ʼn klagte indien by die Nasionale Verbruikerskommissie, die dispuut na die Tribunaal verwys indien die Wet dit toelaat, die Ombudsman met jurisdiksie, die alternatiewe resolusiedispuut-agent of ʼn hof met jurisdiksie oor die saak.

 

 

Bron: Turner, Ntshingana en Kirsten Prokureurs

 

 

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161