Deur Essie Bester
Statistieke toon dat finansies nie net die grootste oorsaak van rusies tussen huweliksmaats is nie, dis ook verantwoordelik vir 22% van alle egskeidings. Die rede is dat mense verskillend dink oor geld en verskillende waardes daaraan heg.
Geld het 'n sterk emosionele waarde. Die een sien dit dalk as iets wat plesier kan verskaf en daarom gespandeer moet word terwyl die ander een dit sien as iets wat sekuriteit waarborg en gespaar moet word. Hierdie finansiële verwysingsraamwerk word gedurende jou grootwordjare in jou ouerhuis gevorm.
Om konflik oor finansies te vermy, moet julle uitvind wat elkeen se verwysingsraamwerk is. Die Money Harmony-vasvra by https://www.moneyharmony.com/moneyharmony-quiz is ‘n gratis aanlyn vasvra waarmee jy jou geldpersoonlikheid kan bepaal – of jy 'n opgaarder, 'n geldmonnik, 'n geldvermyder of 'n geldliefhebber is, en of jy dalk iemand is wat spandabelrig is. Dis 'n prettige manier om die gesprek aan die gang te kry en vergemaklik wat andersins 'n gespanne onderwerp kan wees.
Kenners is dit eens dat jy jou finansiële posisie volledig aan jou maat moet bekend maak voordat julle die knoop vasmaak, ongeag hoe ongemaklik dit ook al is. Alle uitstaande skuld, lenings, inkomstebronne, beleggings of ander finansiële bates of verpligtinge moet genoem word.
As dit jou tweede of derde huwelik is en jy kinderonderhoud moet betaal, of selfs as jy dink dat jy moontlik in die toekoms finansiële ondersteuning aan jou bejaarde ouers of volwasse kinders sal moet verskaf, is dit iets wat so vroeg moontlik bespreek moet word.
Die grootste fout wat die meeste paartjies maak, is om te veel op hul troue te spandeer.
Jong paartjies kan meestal nie bekostig om kontant te betaal vir 'n duur troue nie. Hulle gaan dus skuld aan om hierdie eendagviering te betaal en só verdrink hulle letterlik in die skuld van dag een af.
Alhoewel dit nie beteken dat paartjies hul troudag moet afskeep nie, moet diegene met 'n beperkte begroting iets kleiner doen of ander maniere vind om die troue meer bekostigbaar te maak.
Lewensomstandigede verander en daarom is dit nie ongewoon dat mense se finansiële verwagtinge en prioriteite met verloop van tyd verander nie. Die probleem is dat paartjies dikwels nalaat om gereeld by mekaar seker te maak dat hulle steeds na dieselfde doel streef.
Stel saam 'n werkbare begroting op en hou daarby. Alhoewel dit die doeltreffendste manier is om te weet waarheen julle geld gaan, toon n Gallup-peiling (Gallup is 'n Amerikaanse ontledings- en adviesonderneming) dat net ongeveer 32% paartjies dit doen.
Hoewel julle moontlik gaan verskil oor hoeveel spandeer moet word en waarop dit spandeer moet word, sal 'n plan op papier kommunikasie help verbeter. Dis ook 'n manier om uit te vind watter waarde elkeen aan geld koppel en wat vir elkeen belangrik is.
In 'n opname deur Moneysupermarket.com ('n Britse prysvergelykingsbesigheid wat spesialiseer in finansiële dienste), het 1 uit elke 10 mense gesê dat hul geheime kredietkaartaankope tot 'n verbrokkeling of egskeiding gelei het.
Hoewel dit nie nodig is om jou maat te mikrobestuur of te verwag dat hy of sy elke aankoop aan jou moet verklaar nie, kan dit gevaarlik vir jou huwelik wees om rekeninge te versteek of te jok oor groot aankope. Wanneer dit onvermydelik op die lappe kom, kan dit later lei tot groter emosionele kwessies, soos skuldgevoelens by die persoon wat die geheime bewaar, en vertrouenskwessies by die maat wat mislei is.
Verskeie kenners stel voor dat elke huweliksmaat 'n afsonderlike begroting moet hê wat gebruik kan word om op diskresionêre items van hul keuse te spandeer. Dit is fondse wat na goeddunke gebruik mag word en maats hoef nie elke maand aan mekaar verslag te doen oor waarvoor dit gebruik is nie – solank elkeen net onthou dat hy of sy daarvoor verantwoordelik is om binne sy of haar begroting te bly.
Wat uitgawes betref, is dit belangrik om grondreëls te hê om byvoorbeeld te bepaal watter aankope voor die tyd bespreek moet word en/of wat die redelike bestedingslimiet op klere, kinderspeelgoed, kos of ander huishoudelike items is. Die “koste per gebruik” – gebaseer op die vraag of die gebruik wat jy uit 'n artikel gaan kry die koste daarvan regverdig – kan 'n goeie aanduiding wees om te bepaal of ’n item die geld werd is.
Behandel jou huweliksmaat soos jy behandel wil word. Kenners sê een van die grootste probleme waarmee paartjies te make het as dit by geld kom, is die manier waarop hulle daaroor argumenteer. Jy mag kla oor iets wat jou maat doen maar moenie minagtende woorde gebruik of negatiewe etikette soos “onverantwoordelik” gebruik om hul gedrag te beskryf nie.
As gevegte oor geld julle huwelik gekaap het en julle naby aan opgee is, moet julle dit oorweeg om die hulp van 'n derde party in te roep wat julle kan help om weer op dreef te kom. Finansiële terapie is 'n ontluikende veld wat spesifiek daaraan toegewy word om paartjies met finansiële onrus te help.
Bronne
Oops! We could not locate your form.