Deur Anja van den Berg
Baie Suid-Afrikaners kies om hul loopbane so lank as moontlik uit te rek en nie op 60 af te tree nie. Inkomste is een van die hoofredes agter hierdie besluit. Smee die yster solank hy warm is, lui die gesegde, en mense wil die maksimum spaargeld bymekaar maak solank hul gesondheid dit toelaat. As jy reeds die aftreeouderdom (60) bereik het en 'n aftreeannuïteit het wat jy voornemens is om te gebruik om jou inkomste na 65 aan te vul, kan jy op 60 in nog 'n AA belê?
Die kort antwoord is ja, sê Suzean Haumann, 'n gesertifiseerde finansiële beplanner by Brenthurst Weatlth.
Haumann verduidelik dat administrateurs soos Ninety One, Wealth Foundry en Momentum beleggers toelaat om op enige ouderdom met aftreeannuïteitbeleggings te begin. Voorts is beperkings op globale toewysings binne vooraftredebeleggings só gewysig dat dit die begunstigde bevoordeel.
Die nuwe buitelandse toewysing is verhoog van 30% buitelandse en 10% Afrikablootstelling tot 'n totale inklusiewe totaal van 45% buitelandse toewysing. Gebaseer op die langtermyntrajek het toegang tot groter buitelandse ekwiteit baie Suid-Afrikaanse beleggers bevoordeel. Met hierdie nuwe toegewings het aftreeannuïteite 'n aantrekliker beleggingsopsie geword.
Aftreeannuïteite is ook 'n uitstekende manier om jou oorkoepelende inkomstebelasting aan SAID te verminder. Volgens Elke Brink van PSG Wealth is die optimalisering van jou jaarlikse belastingvoordele “beslis een van die beste finansiële besluite wat jy in jou portefeulje kan neem”.
Brink verduidelik dat as jy 'n inkomste verdien jy 'n inkomstebelastingaftrekking toegelaat word met betrekking tot jou totale aftreefondsbydraes per belastingjaar. Jy kan ook 'n bykomende voordeel verkry as jy meer as die jaarlikse R350 000 wil spaar. Dit word 'n artikel 10C-vrystelling genoem.
As jy beoog om te emigreer voordat jy 65 word, moet jy daarop let dat die land se emigrasiewette oor die laaste paar jaar verander het. As jy toegang tot jou aftreeannuïteit wil hê voordat jy 65 jaar oud is, moet jy vir Suid-Afrikaanse belastingdoeleindes minstens drie jaar 'n nie-inwoner gewees het.
Haumann sê aftreeannuïteite is nie die enigste opsie vir diegene van om en by 55+ nie. Gegewe hulle ouderdom kan seniors ook voordeel trek uit 'n belastingvry spaarrekening deur van die volle jaarlikse bedrag van R36 000 gebruik te maak. 'n Kombinasie van die inkomste uit hierdie belegging met 'n aftreeannuïteit is belastingdoeltreffend en albei is goeie spaarmediums.
Hoewel geen maksimum ouderdom van toepassing is op 'n individu om lid van 'n aftreeannuïteit te wees nie, sal dit wys wees om die reëls van die betrokke aftreefonds na te gaan vir bevestiging van sy beleide.
Bron
MoneyWeb: https://www.moneyweb.co.za/mymoney/retirement/can-i-invest-in-another-ra-at-60/
Oops! We could not locate your form.