Kan jy ‘n besigheid uit ʼn deeltitelwoning bedryf?

Donderdag, Desember 1st, 2016

Die trae ekonomie en kwynende indiensneming oor die afgelope paar jaar het ʼn toenemende getal mense genoop om met hul eie besighede te begin as ʼn manier om ʼn inkomste te verdien, en die jongste beskikbare statistiek dui aan dat minstens 10% van Suid-Afrika se werkende volwassenes nou selfwerksaam is.

“En natuurlik kan die meeste van hierdie klein- of mikrobesigheidseienaars nie bekostig om ʼn kantoor, winkel of vervaardigingsruimte te huur nie, so hul besighede is byna per definisie tuisgebaseer,” sê Andrew Schaefer, BD van die vooraanstaande eiendombestuursmaatskappy Trafalgar.

“Hierbenewens word ʼn groterwordende getal mense wat ʼn vaste werk het deur tegnologie in staat gestel om van die huis af te werk en hulle verkies nou meesal om dít te doen eerder as om elke dag kantoor toe te pendel.”

Om ʼn tuisgebaseerde besigheid of voltydse tuiskantoor in ʼn deeltitelskema (DT-skema) te vestig, kan egter problematies wees en eienaars moet seker maak dat hulle dinge op die regte manier doen of hulle kan vind dat hul jong besighede vir goed van die baan is.

“Uit die Deeltitelwet is dit duidelik dat ʼn woonstel of meenthuis vir residensiële gebruik bedoel is en oor die algemeen nie as ʼn kantoor of besigheidsplek gebruik kan word nie ─ tensy die eienaars van elke ander eenheid in die DT-skema skriftelik instem tot ʼn gebruiksverandering. Dit beteken dat eienaars wat nie hierdie toestemming verkry het nie deur die trustees van die skema aangesê kan word om hul tuisgebaseerde besighede te sluit of regstappe in die gesig te staar.

“Andersyds het tye en leefstyle so baie verander sedert die Wet in werking getree het dat ons as besturende agente altyd eienaars en trustees aanmoedig om aansoeke om gebruiksverandering baie versigtig te oorweeg eerder as om dit voor die voet te verwerp. ʼn Tuisbesigheid is dalk die enigste manier vir ʼn mede-eienaar om ʼn bestaan te maak en byvoorbeeld sy heffingpaaiemente te betaal en om in te stem kan dus tot hul eie voordeel strek.”

Schaefer sê dat soos by so baie ander DT-sake daar waarskynlik ʼn groot mate van subjektiwiteit by die oorweging van ʼn aansoek om gebruiksverandering betrokke sal wees, maar dat daar drie hooffaktore is wat die lede van die regspersoon as riglyne kan gebruik in hul besluit om toestemming te gee of te weerhou.

“Die eerste hiervan is geraas en volgens daardie grondslag is ʼn boekhou- of rekenaarbesigheid byvoorbeeld ʼn heel ander saak as ʼn motorwerkwinkel of houtwerkbesigheid.”

Hy sê die ander ding waaraan die ander eienaars moet dink, is die moontlike ongerief of oorlas wat die besigheid kan veroorsaak, veral ten opsigte van sekuriteit en parkering. “So, as die besigheid byvoorbeeld ʼn afleweringsmaatskappy is of ʼn diensverskaffer soos ʼn skoonmaak-, spyseniering- of werwingmaatskappy met personeel en kliënte wat die heel dag kom en gaan, is toestemming dalk nie ʼn goeie idee nie. Aan die ander kant sal ʼn opleidings- of afrigtingsbesigheid met net een kliënt op ʼn keer met net een of twee gereelde werknemers dalk glad nie die ander eienaars in die skema verontrief nie.”

Schaefer sê die derde faktor wat oorweeg moet word, veral ten opsigte van advertering en reklameborde, is die bepaling in die voorgeskrewe bestuursreëls vir DT-skemas wat eienaars of inwoners keer om enigiets te doen wat afbreuk aan die “reputasie” van hul skema kan doen.

“Eienaars wil oor die algemeen nie hê hul DT-skema moet sy residensiële karakter verloor en op die ou end lyk soos ʼn kantoorpark of ʼn minifabriekskompleks met die baie reklameborde van die verskillende besighede wat daar gehuisves word nie ─ en heel tereg so, want dit sal waarskynlik ʼn negatiewe uitwerking hê op die waarde van al die huise in die skema.

“Gevolglik, al sou hulle die gebruiksverandering en die vestiging van ʼn tuisgebaseerde besigheid goedkeur, sal hulle dalk die aanbring van enige advertensiemateriaal of reklameborde van daardie besigheid op enige plek op die gemeenskaplike eiendom wil veto.”

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150