Kan die verkoop van aandele onderhewig wees aan die Nasionale Kredietwet?

Woensdag, Januarie 18th, 2017

Vraag: “My maatskappy het aandele van sowat R5 miljoen in ‘n groter konstruksiemaatskappy. Ek oorweeg dit om my aandele aan ‘n belangstellende party, waarmee die konstruksiemaatskappy ook gelukkig is, te verkoop. Die party kan egter slegs ‘n deposito van R1,5 miljoen betaal en daarna die res in maandelikse paaiemente oor ‘n tydperk van 18 maande teen ‘n rentekoers van prima plus 1% afbetaal. My boekhouer sê ek moet versigtig wees aangesien dit dan onderhewig aan die Nasionale Kredietwet kan wees. Is dit ‘n moontlikheid?”

 

Antwoord: In terme van die Nasionale Kredietwet kan ‘n ooreenkoms as ‘n kredietooreenkoms beskou word as dit ‘n kredietfasiliteit, ‘n krediettransaksie, ‘n kredietwaarborg, of enige kombinasie van bogenoemde is.

In die geval waar ‘n party sy aandele aan ‘n koper verkoop en die ooreenkoms bepaal dat paaiemente van ‘n bedrag deur een persoon aan ‘n ander geskuld, uitgestel word en dat rente, fooie of kostes betaalbaar is, is daar die moontlikheid dat sodanige ooreenkoms gesien kan word as ‘n krediettransaksie soos gedefinieer deur die Nasionale Kredietwet.

In die saak van Vesagie NO and Others v Erwee NO and Another, het die Hoogste Hof van Appél bevind dat die verkoop van aandele, waar betaling van ‘n bedrag deur een persoon aan ‘n ander geskuld, uitgestel word en rente deur die verkoper gevra word, dit neerkom op ‘n krediettransaksie. Die Hof het dienooreenkomstig die kontrak nietig verklaar omdat die verkoper nie in terme van die Nasionale Kredietwet as ‘n kredietverskaffer geregistreer is nie.

Die Nasionale Kredietwet, onderhewig aan sekere uitsluitings, vereis dat ‘n persoon of entiteit moet aansoek doen om ‘n geregistreerde kredietverskaffer te wees as die totale hoofskuld verskuldig aan daardie kredietverskaffer onder alle uitstaande kredietooreenkomste die drempel, soos bepaal deur die Minister van Handel en Nywerheid, oorskry. Op 11 November 2016 het ‘n nuwe drempel van R0 in werking getree, met die gevolg dat alle kredietverskaffers (selfs al het jy net een kredietooreenkoms) by die Nasionale Kredietreguleerder as kredietverskaffer moet registreer. Om na te laat om as ‘n kredietverskaffer te registreer, kan daartoe lei dat die kredietooreenkoms nietig en onwettig verklaar word.

In kort, sou jy oorweeg om die verkoop van aandele te struktureer deur betaling van die verskuldigde bedrag uit te stel met rente gehef, moet jy verstaan daar is ‘n moontlikheid dat jy sal moet registreer as kredietverskaffer óf die risiko dra dat die ooreenkoms nietig verklaar kan word indien dit getoets word. So wees eerder omsigtig en kry die nodige regsadvies voordat jy die transaksie afhandel.

 

Bron: BDP Prokureurs

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170