Deur Essie Bester
Daar is min twyfel dat ons in 'n resessie is. Hoe erg dit is en hoe lank dit gaan duur, moet nog gesien word. Finansiële kenners soos Dawie Roodt, hoofekekonoom van die Efficient-groep, reken daar kan dalk 'n lang en pynlike pad na herstel vir ons voorlê.
Tydens 'n resessie gebeur die volgende dinge:
Die werkloosheidsyfer styg.
Salarisse stagneer.
Huispryse daal.
Die aandelemark daal.
Huishoudings, besighede en regerings se skuld neem toe.
Die enigste ding wat egter regtig saak maak, vanuit 'n finansiëlebeplanning-perspektief, is of jy jou werk verloor of nie, of jy ure verloor, en of jou inkomste om watter ander rede daal.
Of die aandelemark nou daal en of die prys van jou huis daal, is van minder belang aangesien die waarde van bates wisselvallig is. Sodra die ekonomie weer terugspring, sal jou beleggings ook.
Jou eerste prioriteit tydens 'n resessie moet dus wees om jou huidige inkomste te behou – dit sal voorkom dat jou skuld ophoop en dat jy jou huis verloor.
Solank jy jou inkomste kan behou, behoort jy die resessie te oorleef. Sorg dat jy jou onontbeerlik maak by die werk deur te onthou dat jou werkgewer jou nie betaal vir jou tyd nie maar vir die waarde wat jy bied. Maak dus seker jy voeg waarde toe.
Afleggings is egter 'n werklikheid. Sorg dat jy 'n plan B het indien jy bekommerd is oor die finansiële welstand van die maatskappy waarvoor of bedryf waarin jy werk. Moontlike oplossings kan insluit dat jy betyds moet begin om ander werk te soek of dat jy 'n inkomstebeskermingspolis uitneem. Dis ook nou die tyd om jou vaardighede te slyp – dalk moet jy 'n kort kursus of verdere kwalifikasie oorweeg.
Bou verskillende inkomstebronne op sodat jy nie afhanklik is van 'n enkele bron wat dalk kan wegval nie. Dit beteken jy moet verskillende soorte besighede of inkomstebronne hê wat onafhanklik van mekaar is en wat die een kan vervang as die ander 'n probleem sou gee.
Dis nou belangriker as ooit om te weet waarop jy elke rand en sent spandeer sodat jy beter besluite kan neem. Kenners stel voor dat jy vir 'n maand of twee 'n koevertstelsel gebruik om jou te help om jou besteebare uitgawes optimaal te bestuur.
Dis 'n eenvoudige manier om jou rande te tel: Geld vir kos kom in die koskoevertjie, geld vir brandstof in die brandstofkoevertjie, en so aan. As jy wil gaan uiteet, moet die geld daarvoor uit die koskoevertjie en nie die brandstofkoevertjie kom nie.
Dink mooi voordat jy besnoei op iets wat jou langtermyn- finansiële posisie gaan raak.
Heroorweeg alle nienoodsaaklike rekeninge en uitgawes. Stel 'n begroting op en weet wat die minimum is wat jy elke maand nodig het om te oorleef. Alle bykomende uitgawes en luukses moet dadelik uitgesny word.
Dit sluit in dat jy dalk:
jou satellietelevisie moet laat afskakel of na 'n goedkoper pakket moet oorskakel;
minder nuwe klere moet koop of na goedkoper winkels afskaal;
minder gereeld uiteet (ook minder kitskos koop); en
'n saamryklub of openbare vervoer oorweeg, jou eie groente kweek en water en krag spaarsaam gebruik.
Dis maklik om te besnoei op dinge soos geld vir aftrede, jou kinders se opvoeding, of lewensversekering. Op die kort termyn sal besnoeiings soos dié beteken dat jy jou leefstyl kan handhaaf, maar dit kan later finansieel vernietigend wees.
Dinge wat mens nie summier moet kanselleer nie sluit in:
aftreespaargeld
spaargeld vir langtermyndoelwitte soos jou kinders se opvoeding
mediese fonds
lewensversekering
motor- en huishoudelike versekering
Bekyk jou versekeringspremies. Maak seker onnodige items word nie gedek nie, maar ook dat nuwe aankope wel gedek word. Vergelyk kwotasies van twee of drie versekeraars om te kyk of jy jou premies kan verlaag.
Finansiële praktisyns waarsku dat mense nie hul krediet- en winkelkaarte moet gebruik om gate toe te stop nie. Om binne jou vermoë te leef in die huidige ekonomie is baie makliker as om in die toekoms jou pad uit diep skuld te navigeer.
Oppas vir onverwagse uitgawes wat jy kon voorkom het, soos:
verkeersboetes – hou binne die spoedgrens en moenie onwettig parkeer nie; en
rybewys en motorlisensies – hernu betyds.
Hoe groter die risiko in die ekonomie, hoe groter moet jou noodfonds wees waarmee jy jouself kan onderhou indien jy afgelê word of as jou salaris verminder word. Dit is raadsaam om minstens ses keer jou maandelikse salaris in 'n noodfonds te belê. As jy nie 'n noodfonds het nie, begin so gou moontlik daarvoor spaar.
Hou laastens in gedagte dat 'n resessie nie die einde van die wêreld is nie, maar dat vrees jou rasionele denke kan verlam en jou emosionele en negatiewe besluite kan laat neem.
Bronne
https://www.netwerk24.com/Sake/Muntslim/Geldsake/oorleef-die-resessie-met-die-5-wenke-20180913
Oops! We could not locate your form.