Jou nuwe motor: Petrol of diesel?

Vrydag, Junie 24th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

Die petrolprys en die koste van nuwe motors laat verbruikers toenemend platsak.

Ten spyte van die gewone brandstofwenke wat almal in ag behoort te neem, is dit nie tyd dat jy die tipe voertuig wat jy koop in oorweging neem nie? Diesel- en petrolvariante het hulle voor- en nadele – van die geriefsvlak tot die koste van brandstof en onderhoud – en jy behoort dit teen mekaar op te weeg en besluit wat vir jou belangrik is voordat jy een van jou grootste aankope maak.

Kom ons kyk hoe hulle in die verskeie kategorieë vergelyk:

 

Prys

Die prys van ʼn motor is altyd die eerste waaraan verbruikers dink en dit is waar diesel deur petrolweergawes die loef afgesteek word. Gemiddeld kos ʼn dieselgebaseerde Toyota Corolla R30 000 meer as dieselfde model met ʼn petrolenjin. Dit is R30 000 wat ook gefinansier moet word en rente sal dra – net soos die res van die koopprys. Dit is weens die duurder dieseltegnologie wat in die motor ingebou is.

As jy die motor gaan koop vir brandstofbesparing en ander aspekte, moet jy hierdie faktor in jou besluit in berekening bring. Indien jy jou motor vir ʼn hele ruk gaan bestuur – veral nadat jy dit klaar betaal het – en beoog om baie op brandstofkoste te bespaar , maak dit baie meer sin om aan ʼn dieselvoertuig voorkeur te gee.

 

Onderhoudskoste

Volgens Ashley Oldfield van Cars.com neig dieselvoertuie om meer brandstofdoeltreffend te wees, in die stad sowel as op die oop pad.

Petrol is ook duurder as diesel en dit kos minder om ʼn dieselvoertuig met dieselfde hoeveelheid brandstof vol te maak as ʼn petrolweergawe. ʼn Dieselvoertuig gebruik brandstof wat om en by 20% goedkoper per liter is en ongeveer driekwart van die brandstof per rit gebruik.

Byvoorbeeld, die petrolenjin Toyota Corolla 1.3 gebruik 6 liter/100 km terwyl die dieselenjin Toyota Corolla D 1.4 slegs 4.5 liter/100 km gebruik.

 

Herverkoopwaarde

Dit is van die uiterste belang want dit bepaal jou onderhandelingsvermoë wanneer jy jou volgende voertuig koop. En hier lyk dit weer asof die dieselvoertuie koning kraai.

ʼn Vyf-jaar-oue Toyota Corolla 1.9D sal jou R20 000 meer in die sak bring as die soortgelyke petrolmodel, ʼn vyf-jaar-oue Toyota Corolla 1.8. Hou in gedagte dat die dieselweergawe aanvanklik R30 000 meer gekos het en soos ʼn rugbyskare raas, maar ook dat jy minder sal betaal in terme van onderhoudskoste. Dit word aan jou oorgelaat om jou sommetjies te maak en te besluit wat die beste is.

 

Suid-Afrika se keuse?

Andre Oelofse, motor-industrie-analis by Lightstone Auto, wat vir die afgelope 22 jaar petrolverbruik regoor Suid-Afrika naspeur, het ʼn paar interessante bevindings gemaak rakende petrol- en dieselenjins. Ten spyte daarvan dat diesel goedkoper as petrol is, bly petrolpassasiervoertuie steeds baie meer in aanvraag as hulle diesel-ekwivalente.

Hierdie toedrag van sake toon egter ʼn geleidelike verandering sedert 1994. Terwyl petrol in 1994 99.9% van die passasiervoertuigmark ingepalm het (dit het nie bakkies, busse en handelsvoertuie ingesluit nie, maar sluit deesdae wel SUV’s in), het diesel agterweë gebly met net 0.1%. In 2014 het petrol egter 79.7% van die markaandeel besit met diesel by 20.1%.

So, wat is die redes hiervoor? Dieselmotors word steeds beskou as stadig, raserig en vuil. Daarbenewens meen Suid-Afrikaners dat hulle goedkoper onderhoudskoste steeds nie hulle aansienlik hoër prysetiket regverdig nie.

 

Bronne

 

Oldfield, A. 2015. “Petrol vs. Diesel – Which one should you buy?” 4 Feb. http://www.cars.co.za/motoring_news/petrol-vs-diesel-buy/29190/#.Vz8_ppVf3mS.

 

Carinfo.co.za. 2016. “A diesel or petrol car? Which is best?” 19 Jan. http://carinfo.co.za/a-diesel-or-petrol-car-which-is-best/.

 

IOL. 2014. “SA buyers prefer petrol cars, by far”. 24 Oct. http://www.iol.co.za/motoring/industry-news/sa-buyers-prefer-petrol-cars-by-far-1770349.

 

Huntingford, S. 2014. “Which should I buy – Petrol or diesel?” 2 July. http://www.telegraph.co.uk/cars/advice/which-should-i-buy-petrol-or-diesel/

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152