Jou jaarlikse bonus: Bestee dit só

Woensdag, Desember 9th, 2015

Eugene Brink

 

Dis einde van die jaar en afgesien daarvan dat dit rustyd is, is dit natuurlik ook vir die meeste van ons bonustyd.

Die Wêreld het by twee kenners gaan aanklop vir advies oor hoe om jou bonus of 13de salaris te geniet terwyl jy terselfdertyd ook verstandig daarmee te werk gaan sodat jy later kan baat vind daarby.

Peter Dempsey, adjunk hoof uitvoerende beampte van die Vereniging vir Spaar en Beleggings Suid-Afrika (ASISA), sê jou jaarlikse bonus kan vir jou onmiddellike bevrediging koop – wat van korte duur is – of vir jou beter finansiële welstand op die lang termyn verseker.

Volgens hom dink die meeste verbruikers aan hul bonusse as ’n jaarlikse gelukskoot wat by ’n winkelsentrum uitgegee moet word. “Terwyl daar niks daarmee verkeerd is om ‘n deel van jou bonus te gebruik om jouself vir 12 maande se harde werk te beloon nie, is dit belangrik om skuld te delg.”

Hy tref ’n onderskeid tussen langtermyn- en korttermynskuld en voer aan dat laasgenoemde voorkeur behoort te kry. “Korttermynskuld is duur want die rentekoerse daarop is gewoonlik hoog. Terwyl skulddelging altyd ‘n prioriteit behoort te wees, moet korttermynskuld soos kredietkaarte en klererekeninge voorkeur bo goed soos verbandlenings kry.”

So, wat moet ons spesifieke prioriteite vir hierdie hard verdiende ekstra geld wees?

Appie Pienaar, finansiële hoof by Solidariteit, glo in die 10%/40%/50%-reël wat bonusse aanbetref: 10% vir bederf; 40% vir noodsaaklike uitgawes; 50% vir kapitaalvorming.

“Bederf jouself, maar stel ʼn perk op die bedrag.  ʼn Mens behoort in elk geval die hele jaar te spaar vir groot ‘bederf’-uitgawes soos ʼn vakansie, maar mens kan definitief ʼn paar rand op jouself spandeer sonder om skuldig te voel, miskien vir ʼn wegbreeknaweek saam met jou gesin, of dalk iets nuut vir jou klerekas. Jy het immers hard gewerk vir hierdie geld!”

Hy sê noodsaaklike uitgawes behoort beslis ’n groot prioriteit te wees en jy sal jouself later bedank daarvoor. “Dit verlig die druk op jou maandelikse begroting. Mense met kinders kan byvoorbeeld volgende jaar se skoolfonds vooruitbetaal. Dit kan boonop ʼn besparing meebring omdat daar dikwels korting toegestaan word vir vroeë betaling.”

Die grootste deel moet aan kapitaalvorming afgestaan word sodat jy iets blywends kan opbou. “Jy kan byvoorbeeld ʼn bedrag afbetaal op jou huisverband, of huisverbeteringe soos nuwe teëls, ʼn boorgat of ʼn lapa aanbring. Vra jouself of jy oor ʼn jaar nog iets sal kan ‘wys’ vir hierdie geld. As dit die geval is, het jou bates gegroei en staan jy finansieel sterker as voorheen.”

Dempsey gaan grootliks akkoord met baie van Pienaar se voorstelle. “Korttermynskuld moet voorkeur kry, maar as jy slegs ’n huislening afbetaal, betaal ’n aansienlike deel van jou bonus op die verband. Jy sal op die langtermyn spaar aan rentekoersbetalings.”

Hy sê dat indien jy gelukkig genoeg is om skuldvry te wees, moet jy seker maak jy het ’n noodfonds wat bestaan uit minstens drie maal jou netto-salaris. “Gebruik hierdie fonds vir onbeplande uitgawes soos nuwe bande vir jou motor, huishoudelike goedere wat vervang moet word, duur mediese behandeling en voorsiening vir moontlike afleggings.”

Voorts moet jy ook beleggings probeer maak. “Jou finansiële doelwitte kan byvoorbeeld ’n deposito op ’n huis, jou kinders se onderrig en ’n gemaklike aftrede insluit.”

Dempsey sluit af op ’n verdere noot van waarskuwing. “Gegewe die huidige ekonomiese omstandighede, moet verbruikers dit ernstig oorweeg om eerder hul skuld af te betaal en te spaar wat oor is, as om hul bonusse op onnodige luukshede uit te gee.”

 

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161