Jou huisverband is goedgekeur. Wat nou?

Vrydag, Februarie 10th, 2017

Jy’t jou droomhuis gekry, ʼn aanbod gemaak, dis aanvaar en jou verband is goedgekeur. Dis alles baie opwindend, maar daar moet nog ʼn klomp goed gebeur voordat jy die sleutels kan gaan haal en intrek.

Die eerste ding waarop jy jou moet voorberei, is dat die volgende deel van die proses lank neem. “Daar is baie papierwerk en baie kommunikasie tussen verskeie tussengangers,” sê Careen McKinon, direkteverkope-bestuurder van ooba, Suid-Afrika se grootste verbandorigineerder. “Die goeie nuus is dat daar prokureurs sal wees wat namens jou optree, so al wat jy hoef te doen, is wag.”

Volgens ooba se statistiek, neem dit gemiddeld 69 werkdae na goedkeuring om jou verband te registreer. Al wat van jou verwag behoort te word, is om die relevante koste te betaal en die oordragdokumente en die verbanddokumente te onderteken. Die bank wat jou verband toestaan, sal jou in verbinding stel met die prokureur, wat jou sal laat weet wat om te doen. ʼn Stapsgewyse verduideliking van die hele proses verskyn aan die einde van hierdie artikel.

 

Okkupasiehuur

In sommige gevalle kan ʼn koper dalk wil intrek voordat die oordrag deurgegaan het, en in ander gevalle bly die verkoper dalk nog in die eiendom nadat dit deurgegaan het.

“In so ʼn geval sal die persoon wat daar bly die okkupasiehuur moet betaal waarop in die aanbod om te koop ooreengekom is soos dit op ʼn pro rata-grondslag deur die prokureur uitgewerk is,” sê McKinon. “Hierdie huur moet altyd deur die prokureur betaal word sodat daar geen ruimte vir misverstand is nie.”

Indien jy, as koper, intrek voordat die oordrag deurgegaan het, is dit raadsaam om nie groot verbeterings aan te bring voordat die eiendom in jou naam geregistreer is nie.

“Dit gebeur baie selde, maar daar was al gevalle waar die oordrag om die een of ander rede nie deurgegaan het nie en die koper dan koste aan vernuwings of herstelwerk aangegaan, so dis beter om eers te wag,” sê McKinon.

 

Gebruik die tyd om geld te spaar

Die beste ding wat jy kan doen terwyl jy wag dat die oordrag moet deurgaan, is om te begin om geld te spaar vir jou eerste verbandterugbetaling.

“Jy kan die bedrag wat jy op die ou einde op jou verband terugbetaal aansienlik kleiner maak deur elke maand meer te betaal as wat jy moet,” sê McKinon. “As jy eers in ʼn nuwe huis is, sal jou kontant opgebruik word om jou huis agtermekaar te kry, so probeer spaar terwyl jy die geleentheid het.”

 

Die intrek

Nog ʼn stukkie raad vir nuwe huiseienaars is dat meubelvervoermaatskappye aan die einde van die maand baie duurder is as op enige ander tyd, so, as jy ʼn keuse of speling het oor wanneer jy jou eiendom wil betrek, probeer daardie einde-van-die-maand-drukte vermy.

“Huiskoop is een van die skrikwekkendste én opwindendste dinge wat jy ooit sal doen,” sê McKinon. “Die gewag voordat jy die eiendom werklik ‘myne’ kan noem, kan frustrerend wees, maar as jy die tyd gebruik om te begroot en te beplan, sal die intrekkery baie gladder verloop.”

 

Al die stappe vandat die aanbod gemaak word totdat oordrag plaasvind

 

Stap 1: Jy en die verkoper teken die aanbod om te koop.

Stap 2: Die bank staan jou verband toe en gee die verbandprokureur opdrag om dit te registreer.

Stap 3:  Die verkoper adviseer die oordragprokureur om die eiendom oor te dra. Die titelbewys en kansellasiebedrae word aangevra van die bank wat die huidige verband hou en ʼn eiendomsbelastingstaat word van die plaaslike owerheid aangevra.

Stap 4: Die verbandprokureur sê vir die oordragprokureur watter bedrag vir waarborge beskikbaar is en vra die konseptransportakte en waarborgvereistes aan.

Stap 5: Die kansellasieprokureur word gevra om die verkoper se verband te kanselleer by ontvangs van ʼn waarborg vir die verskuldigde bedrag.

Stap 6: Die oordragprokureur ontvang die titelbewys en kansellasiesyfers en stuur ʼn kopie van die transportakte en waarborgvereistes aan die verbandprokureur. Die oordragprokureur vra die koper en verkoper om die oordragdokumente te onderteken. Die koper betaal die oordragkoste en die oordragprokureur betaal dan die eiendomsbelasting en die hereregte.

Stap 7: Die verbandprokureur berei die verbanddokumentasie saam met die relevante rekening voor. Die koper onderteken die dokumente en betaal die koste. Die verbandprokureur berei die nodige waarborge voor en reik dit uit, stuur dit aan die oordragprokureur en berei die verbanddokumente voor vir indiening by die Aktekantoor.

Stap 8: Sodra die oordragprokureur die waarborge ontvang het, word dit aan die kansellasieprokureur gestuur.

Stap 9: Die kansellasieprokureur kry toestemming vir kansellasie by die bank wat die verkoper se verband hou.

Stap 10: Nadat al die dokumente onderteken en die koste betaal is, word die dokumente vir die oordrag, nuwe verband en kansellasieverband deur die onderskeie prokureurs vir indiening by die Aktekantoor voorberei.

Stap 11: Al die dokumente word volgens afspraak met die betrokke prokureurs by die Aktekantoor ingedien. Dit neem die Aktekantoor ongeveer twee tot drie weke om die dokumente te kontroleer voordat hulle gereed is vir registrasie deur die prokureurs op dieselfde dag.

Stap 12: Die bank betaal op die dag van registrasie die lening uit ooreenkomstig die uitgereikte waarborge. Laat minstens drie maande toe vir die registrasie en oordrag van die verband.

 

Bron: ooba

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152