Jammer, soms kan jy nie appelleer nie

Dinsdag, Oktober 18th, 2016

ʼn Sekere vraag was die onderwerp van ʼn aantal onlangse hofsake: Is ʼn interimbevel of ’n beslissing wat nie ʼn saak finaal afhandel nie vatbaar vir appèl?

Die Grondwetlike Hof moes onlangs hierdie vraag beantwoord in twee aparte sake – een met betrekking tot die verandering van straatname in Tshwane en die ander met betrekking tot die bepalings van die Nasionale Kredietwet, Nr. 34 van 2005. Die kwessie het nou ook opgeduik binne die konteks van belasting in die Hoogste Hof van Appèl (HHA). In Wingate-Pearse v CSARS (830/2015) [2016] ZASCA 109 (1 September  2016) wou ʼn belastingbetaler appelleer teen, onder andere, die Belastinghof se beslissing rakende die bewyslas en die plig om getuienis te lei.

 

Feite

Wingate-Pearse, die belastingbetaler, het die aanslae wat die SAID vir die 1998 tot 2005 jare van aanslag uitgereik het, betwis. Hy het op 1 Augustus 2007 appèl aangeteken by die Belastinghof, wat eers byna agt jaar later, op 9 Februarie 2015, vir aanhoor geplaas is. Ingevolge s270(2)(d) van die Wet op Belastingadministrasie, Nr. 28 van 2011 (WBA), moes die saak beslis word ingevolge die bepalings van die WBA. Met die aanvang van die verhoor voor die Belastinghof het die belastingbetaler se advokaat ʼn punt in limine aangevoer dat die bewyslas en plig om getuienis te lei op die SAID gerus het en nie op die belastingbetaler nie. Die Belastinghof het beslis dat die aanvanklike bewyslas op die belastingbetaler gerus het om aan te dui die SAID se besluit, waarteen hy geappelleer het, verkeerd was en dat dit sy plig was om getuienis te lei. Die belastingbetaler het hierdie beslissing op appèl na die HHA verwys.

 

Uitspraak

Die HHA het uit die staanspoor dit gestel dat die Belastinghof ʼn wetlike skepping is, saamgestel ingevolge die WBA. Die bepalings daarvan moet derhalwe oorweeg word om vas te stel of die Belastinghof se beslissing aangaande die bewyslas en die plig om getuienis te lei vatbaar vir appèl was of nie.  Artikel 133(1) van die WBA laat ʼn belastingbetaler of die SAID toe om te appelleer “teen ʼn beslissing van die Belastinghof onder artikels 129 en 120”. In hierdie geval was die kwessie dus of die punt in limine, synde ʼn tussentydse aansoek, ʼn beslissing ingevolge s129 van die WBA was.

Artikel 117 van die WBA lê die jurisdiksie van die WBA uit. Ingevolge s117(3) sluit die Belastinghof se jurisdiksie die aanhoor in van enige tussentydse aansoek of enige aansoek rakende kwessies van prosedure met betrekking tot ʼn dispuut onder Hoofstuk 9 van die WBA, synde die hoofstuk wat dispute en appèlle behandel. Ingevolge s129(2) mag die Belastinghof een van drie dinge doen in die geval van ʼn assessering of “beslissing” onder appèl of ʼn aansoek in ʼn kwessie van prosedure na verwys in s117, wat die volgende is:

  • Beaam die assessering of “beslissing”;
  • Beveel dat die assessering of “beslissing” gewysig word; of
  • Verwys die assessering terug na die SAID vir verdere ondersoek en assessering.

Die belastingbetaler het twee argumente geopper ter ondersteuning van die standpunt dat die Belastinghof se beslissing vatbaar vir appèl was.

Eerstens het hy geargumenteer dat omdat s117(3) van die WBA bepaal dat die Belastinghof oor die jurisdiksie beskik om ʼn tussentydse aansoek te hanteer en S129(2) ʼn beslissing van die Belastinghof oorweeg ingevolge s117(3), was die Belastinghof se beslissing oor die vraag van onus en plig vatbaar vir appèl. Die HHA het hierdie argument verwerp en het volgehou dat slegs indien die onus en plig om te lei ʼn beslissing ingevolge s129 van die WBA was, dit vatbaar vir appèl sou wees. Dat die beslissing nie vatbaar vir appèl was nie het voortgespruit uit die feit dat s129(1) gemoeid is met ‘n beslissing van die kwessie ter sprake besleg en nie gemoeid is met tussentydse kwessies nie. Voorts was die kwessie van onus en plig om te lei en enige bepaling wat oor die Belastinghof se magte met betrekking tot tussentydse kwessies onder s117(3) “opvallend afwesig” in s129(2).

Tweedens het die belastingbetaler geargumenteer dat ʼn beslissing oor ʼn tussentydse kwessie en ʼn beslissing oor ʼn aansoek in ʼn prosedurele kwessie verwys na in s117(3), dieselfde hanteer behoort te word. Die HHA het hierdie argument verwerp aangesien s129(2) ʼn prosedurele kwessie uitdruklik insluit waarna verwys in s117(3), maar tussentydse kwessies uitsluit. Om hierdie bevinding te staaf, het die HHA verwys na die geskiedenis van s129(2) en s117(3) – albei artikels is effens gewysig deur die Wysigingwet op Belastingadministrasiewette, Nr. 39 van 2013, heel waarskynlik om op te klaar dat beslissings wat deur die Belastinghof gemaak is in die beslegting van dispute onder die reëls van die Belastinghof vatbaar vir appèl is. Aangesien die wysiging nie die posisie verander het met betrekking tot tussentydse aansoeke nie, het dit beteken dat beslissings in sodanige sake nie vatbaar vir appèl was nie.

Dit is interessant dat die HHA die argument verwerp het geopper deur die SAID in sy aanvullende geskrewe argument, dat in gepaste omstandighede ʼn besluit in ʼn tussentydse aansoek vatbaar vir appèl sal wees. Die HHA het dit ook terloops gestel dat selfs gebaseer op die konvensionele beginsels van toepassing om vas te stel of ʼn beslissing vatbaar vir appèl is, soos uiteengesit in die beslissing van Zweni v Minister of Law and Order 1993 (1) SA 523 (HHA), sou die beslissing nie vatbaar vir appèl gewees het nie aangesien dit onbreek het aan die nodige vereiste van finaliteit en nie enige kwessie in die saak kan afhandel nie.

 

Kommentaar        

Die beslissing is heelwat tegnies, maar bevat ʼn belangrike vermaning aan belastingbetalers om die toepaslike wetgewing deeglik te oorweeg en of die appèl die moeite werd is, veral as die betrokke regskoste in aanmerking geneem word. Die HHA het die saak van die rol geskrap na aanhoor van die appèl, en die belastingbetaler beveel om die SAID se kostes te betaal, insluitend die koste van twee regsadviseurs, en het eers later die redes vir sy beslissing verskaf. Die HHA het nie die meriete van die appèl behandel nie en as sodanig het die Belastinghof se beslissing bly staan. Ingevolge die Belastinghof se beslissing het die belastingbetaler die aanvanklike bewyslas gehad en moes die onus nakom ingevolge die bepalings van s102(1) van die WBA, om te bewys dat die SAID se beslissing waarteen hy geappelleer het, verkeerd was en moes ook eerste bewyse aanbied.

 

 

Bron: Cliffe Dekker Hofmeyr

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150