Is skuldberading die regte keuse vir jou?

Maandag, Mei 18th, 2015

Trish Goosen

 

In vandag se samelewing het roekelose besteding die norm geword.

 

Talle Suid-Afrikaners leef ver bo hulle finansiële vermoë. Is jy dalk een van hulle?

 

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Voel dit of iemand jou  in ‘n wurggreep beet kry elke keer as jou foon lui? Dis alweer daardie knaende skuldinvorderaar en jou verskonings is baie vinnig besig om op te droog.

 

Haal diep asem, antwoord jou foon. Wees realisties en moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie.

 

En met daardie vreesanjaende gesprek agter die rug, kan jy maar nou aan jouself erken dat dit tyd geword het om te gaan hulp soek.

 

Jy het al gehoor van skuldberading, maar was tot dusver nog te skaam of te trots om daaroor te gaan navraag doen.

 

Is skuldberading die regte oplossing vir jou finansiële dilemma?

 

Marius Coetzee, skuldberader en bestuurder van ‘n Debt Restructuring Services-tak (DRS) in die Wes-Kaap, sê skuldberading is vir almal wat aan die einde van die maand nie genoeg geld het om al hulle skuldverpligtinge na te kom en basiese lewensuitgawes te dek nie.

 

Hoe kan skuldberading jou help?

 

  • Jou skuldberader sal namens jou met jou skuldeisers onderhandel.
  • Jy sal die voordeel geniet van ‘n permanente verlaging van jou paaiemente sowel as die onderhandelde verlaging van die rentekoers, wat in baie gevalle kan lei tot die totale staking van maandelikse administrasiegeld en ’n moontlike verslapping van rentekoerse tot selfs 0%, wat beteken dat jy net die geld wat jy geleen het, hoef terug te betaal.
  • As jy getrou elke maand jou nuwe verlaagde paaiement nié later as die bepaalde datum betaal nie, kan jy gerus wees dat jy nie jou motor of huis sal verloor nie.

 

Jy moet onmiddellik om skuldberading aansoek doen wanneer jy sien jou huis- of motorpaaiement gaan agter raak. “Moenie eers wag tot dit gebeur of die bank jou kontak nie”, sê Coetzee.

 

Wanneer ‘n skuldeiser reeds met regstappe begin het, sal hy daarop aandring dat daardie spesifieke rekening van die skuldherstruktureringsproses uitgesluit word.

 

Skuldberading nie vir jou nie?

 

Ja, daar is natuurlik ander opsies. Die nasionale kredietreguleerder (NCR)  se raad is dat jy die kredietdepartement van jou skuldeiser moet bel – nie jou plaaslike tak nie – en verduidelik dat jy nie die paaiement kan bekostig nie. Onderhandel ‘n verlaagde paaiement eerder as om een oor te slaan. Hulle beveel ook aan dat jy ten alle koste moet vermy om nog skuld te maak. Verander eerder jou leefstyl en gee luukshede op waar jy kan.

 

Coetzee waarsku egter teen eie onderhandelinge omdat die skuldeiser die terugbetaling vir hoogstens ‘n paar maande sal verlaag. Die rente loop steeds op en die terugbetaling ná die verslapping is gewoonlik hoër as die oorspronklike paaiement. “Dit sit die kliënt verder onder druk en maak dat hy in werklikheid slegter daaraan toe is,” sê Coetzee.

 

Een van die min nadele van skuldberading is die feit dat jy nie sal toegelaat word om skuld te maak terwyl jy nog in jou terugbetalingstydperk is nie, maar Coetzee sê dis nie werklik ‘n nadeel nie. Met die nuwe begroting wat jou skuldberader vir jou sal opstel en verlaagde skuldpaaiement, sal jy nie nodig hê om nog skuld te maak nie.

 

En die tydelike opskorting van krediet sal jou natuurlik leer om binne jou vermoë te leef.

 

Nadat jy al jou skulde vereffen het en jou skuldberadingsproses voltooi is, sal jy weer toegelaat word om skuld aan te gaan.

 

Bronne en hulpmiddele:

 

Debt Restructuring Services: http://www.debt-restructuring-sa.co.za/debtrestructuringservices.html

 

Nasionale Kredietreguleerder: http://www.ncr.org.za/

 

ABSA Skuldhulp: 0860 356 356

 

Nedbank Skuldrehabilitasie: 0860 109 279

 

Standard Bank Praat in dié geval met jou plaaslike tak

 

Eerste Nasionale Bank Skuldhersiening: 0860 362 002

  • Emmie

    Wat is die koste verbonde aan skuldberading self? Wat is die persentasie kommissie wat aan die skuldberader betaal moet word?

    • Stefan Fourie

      Die koste van skuldberading word bepaal deur die bedrag wat elke maand aan krediteure oorbetaal word. Dit word ook deur die NCR gereguleer en vasgestel in die Nasionale Krediet-wet. Asjy aansoek doem vir skuldberading is daar geen direkte fooi betalings aan jou skuldberader nie. Jou eerste maand se skuldberadings premie maak voorsiening vir die fooie om betaal te word. Jou fooi is gelykstaande aan jou premie maar mag nie R6000 oorskry nie. Besoek gerus ons webwerf http://www.hulpmetskuld.co.za vir meer inligting

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170