Vraag: “My pa het onlangs gesterf. Sy testement is opgestel deur ’n finansiële beplanner wat die finale weergawe per e-pos vir hom gestuur het, maar my pa het dit nooit geteken nie. Ons het die e-pos, met die aangehegte testament gevind, maar geen verdere korrespondensie of dokumentasie tussen die finansiële beplanner en my pa betreffende die inhoud van die testament of sy wense nie. Is hierdie testament geldig?”
Antwoord: Die Wet op Testamente 7 van 1953 vereis dat streng formaliteite nagekom moet word vir ’n testament om as die testateur se finale testament erken te word. Dit sluit in:
Dit is noodsaaklik dat daar aan die vereistes vir ’n geldige testament voldoen word om oortuigend te bewys dat ’n testament wel op sigwaarde geldig is, en ’n weerspieëling is van die testateur se bedoeling dat dit sy finale testament moet wees. As daar enige twyfel bestaan oor of enige van die formaliteite aan voldoen is, sal die hof genader moet word om kondonasie vir die nie-nakoming van die formaliteite vir ’n geldige testament, voordat die oorledene se boedel in terme van sy testament beredder kan word.
Ons howe het onlangs beslis dat as ’n hof tevrede is dat ’n dokument, opgestel deur iemand wat sedertdien gesterf het, bedoel was om sy testament te wees, die hof opdrag kan gee dat die Meester daardie dokument as die oorledene se testament aanvaar, selfs al voldoen dit nie aan die formaliteite vir die verly van ’n geldige testament nie.
As jou pa se testament nie op enige manier (deur homself of getuies) verly (geteken) is nie, sal – as dit aangevoer word dat die dokument inderdaad ‘n geldige testament is – jou pa se persoonlike betrokkenheid tydens die opstelproses bewys moet word. As geen kommunikasie of instruksies gevind kan word wat jou pa se wense oordra en so bewyse verskaf dat jou pa die finansiële beplanner daadwerklik opdrag gegee het om sy spesifieke wense in sy testament op te neem nie, is die vereiste element van persoonlike betrokkenheid afwesig, en sal dit moeilik wees om te bewys dat die testament persoonlik gefinaliseer is deur jou pa – soveel te meer omdat dit deur die finansiële beplanner opgestel is. Daarom sal ’n hof waarskynlik nie vind dat die testament die wense van jou pa weerspieël nie.
Waar die testament nie deur jou pa opgestel is nie, moet die testament ten minste geteken wees. Ook hier, aangesien jou pa se handtekening nêrens op enige deel van die dokument te vinde is nie, sal kondonasie van die testament op grond van ondertekening hoogs onwaarskynlik wees, aangesien nie aangetoon kan word dat jou pa eens die finale produk gesien het nie – en geen handtekening (of selfs ’n gedeeltelike handtekening) verskaf kan word om sy goedkeuring en verlyding daarvan te bevestig nie.
Ter opsomming, glo ek in jou geval gegewe die feite, dit baie moeilik sal wees om te bewys dat die elektroniese dokument jou pa se finale testament verteenwoordig. Dit beteken nie dat in die algemeen ’n mens nooit kondonasie sal kan kry nie, maar om dit te verkry moet daar aangetoon word dat ’n oorlede testateur ’n testament of opgestel het (of persoonlik daarby betrokke was) of geteken het (ten volle of gedeeltelik).
Bron: BDP Prokureurs