Om jou eerste eiendom te koop, is een van die grootste finansiële besluite wat jy ooit sal neem.
In plaas daarvan om daarop aan te dring om 'n eiendom te besit, wil jy dit dalk oorweeg om 'n bietjie langer te huur voordat jy die verpligting aangaan wat met die koop van jou eie huis gepaard gaan. Baie kopers maak yslike finansiële foute omdat hulle blindelings glo dat koop altyd beter as huur is.
Om jou eie plek te besit, het 'n paar voordele bo huur. Jy het 'n gevoel van eienaarskap en jy kan die eiendom verbeter om waarde vir jou eie sak toe te voeg. In 'n huursituasie kan jy dalk met die eienaar van die eiendom onderhandel vir veranderinge, maar jy sal nie veel voordeel daaruit trek nie. Dit keer jou egter nie om die eiendom te verfraai en soos 'n tuiste te laat voel nie.
Eenvoudig gestel, die finansiële verskil tussen die twee is soos volg:
Koop …
is uiters duur vir die eerste paar jaar. Dit is nie net hereregte en prokureursgelde waaroor jy jou moet bekommer nie, maar aanvanklik ook 'n groot terugbetaling. Dit word goedkoper na gelang die balans van jou huislening kleiner word. Aan die ander kant …
Huur …
begin baie goedkoper maar eskaleer jaarliks sonder die voordeel van 'n styging in die eiendom se waarde. Hierdie styging in huurgeld neem tyd, maar dit sal uiteindelik duurder word as om 'n eiendom te besit.
As die huur-teenoor-koop-scenario’s met mekaar vergelyk word, is koop in die vroeë jare duurder maar word goedkoper tot op 'n punt waar dit duurder word om 'n eiendom te huur. Die gelykbreekpunt waar koop en huur min of meer dieselfde kos, word op tussen ses en agt jaar geskat na gelang van jou finansiële situasie en hoe die eiendomsmark daar uitsien. Huispryse het in die algemeen oor die laaste drie jaar so swak gepresteer dat hierdie tydsverband na verwagting nog 10 jaar of langer kan duur.
'n Onlangse studie in die VSA het aangedui dat die gemiddelde Amerikaner se finansiële situasie elke sewe jaar struktureel verander. Dit gebeur natuurlikerwys as jy skool verlaat, begin studeer, jou eerste woonstel betrek, trou, kinders kry, ens.
In Suid-Afrika gaan ons deur dieselfde lewensfases en ons akkommodasiebehoeftes verander na gelang ons van die een fase na die volgende beweeg. Dikwels moet ons na 'n ander plek trek na gelang ons behoeftes verander. Finansiële dissipline is die sleutel tot sukses om die huurbenadering vir jou te laat werk. Dit is belangrik om te onthou om enige bykomende kontant wat los kom terwyl jy huur, te spaar, anders gaan jy net al meer uitgee en steeds nie 'n eiendom besit nie. Om te huur en die kontant wat los kom uit te gee, is baie erger as om 'n eiendom te besit en dit binne 'n kort tydjie weer te moet verkoop.
Bron: FNB
Oops! We could not locate your form.