Huisprysgroei van ‘2-3% vir 2017 verwag’

Woensdag, Februarie 1st, 2017

Eugene Brink

 

Lae maar positiewe huisprysgroei sal die huismark in 2017 kenmerk en in die eerste helfte van die jaar sal groei waarskynlik taamlik traag wees en daar sal selfs ʼn mate van prysdeflasie gesien kan word.

So sê John Loos, eiendomstrateeg by ENB, wat prysgroei van tussen 2% en 3% in residensiële eiendom vir 2017 voorspel. “Hierdie totale groei vir die jaar sal egter grootliks deur huisprysgroei in die laaste deel van 2017 gedryf word aangesien ENB verwag dat die geringe verbetering in ekonomiese groei teen daardie tyd sal begin om ʼn positiewe uitwerking op die vraag na residensiële eiendom te hê.”

Die jaar het nie goed begin nie. Die ENB-huisprysindeks vir Januarie 2017 se jaar-tot-jaar (jtj) groeikoers het verder tot ʼn skamele 0,3% verlangsaam vanaf ʼn hersiene 1% groeikoers die vorige maand. “Dit verteenwoordig die negende agtereenvolgende maand waarin die jtj-huisprysgroei verlangsaam het, vanaf 2016 se ‘hoogtepunt’ van 6,9% in April verlede jaar.”

Hy sê die voortgesette verlangsaming in die jaar-tot-jaar huisprysgroei tot bykans nul is grootliks ʼn weerspieëling van voortgesette swakheid in die huishoudelike sektor se vertrouensvlakke. “Op sy beurt weerspieël dit die stadige groei in besteebare inkomste in ʼn ekonomiese groei-omgewing wat bykans geen groei ervaar nie, en wat gevolg het op ʼn aantal jare waarin groei verlangsaam het. Weens verhoogde verbruikersinflasie, veral van voedselpryse wat deur die droogte geraak is, asook, natuurlik, die voortdurende verhogings in effektiewe inkomstebelastingkoerse, word huishoudelike besteebare inkomste verder onder druk geplaas. Ten slotte moet ‘n mens ook onthou dat rentekoerse oor die afgelope paar jaar matig gestyg het.

“Gegewe jaar-tot-jaar groei in huispryse van slegs 0,3%, soos in Januarie, en voortgesette maand-tot-maand dalings, is dit moontlik dat ons in die komende maande ʼn mate van prysdeflasie sal sien.”

Hy bly egter versigtig optimisties oor vooruitsigte vir die huismark in die tweede helfte van 2017. “ʼn Mate van verwagte ekonomiese groei in 2017 sal waarskynlik in die tweede helfte van die jaar ʼn impak op huispryse hê, en gegewe dat ENB voorspel dat die ekonomie steeds langsaam teen 1,1% sal groei, is ons van mening dat die impak daarvan nie groot sal wees nie.”

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152