Vraag: “Ek is besig om my eerste eiendom te koop. Ek is nogal gespanne oor alles en ’n vriendin van my wat ’n aktebesorger is het gesê sy sal my met die transaksie help. Die verkoper weier egter en dring daarop aan dat sy prokureurs die oordrag hanteer. As ek die een is wat die oordragfooie betaal, moet ek tog sekerlik ook kan kies wie die oodragprokureur is?”
Antwoord: As ’n reël bepaal ons gemenereg dat ’n verkoper daarop geregtig is om te besluit wie die oordragprokureur moet wees, omdat die verkoper meer risiko dra as die koper. Bygesê kan niks partye keer om ooreen te kom dat die koper die oordragprokureur bepaal nie, hoewel die koper in praktyk dikwels sal weier om daartoe in te stem en die koper dan maar sal toegee omdat hy graag die eiendom wil hê.
Oor die algemeen kan gesê word dat dit meer sin maak vir die verkoper om die oordragprokureur te bepaal, aangesien dit die koper is wat die koopprys moet bymekaar skraap, die oordragfooie moet dek, opskortende voorwaardes soos finansiering ens. moet nakom en die verkoper daarom oor die algemeen meer beskerm sal voel deurdat sy prokureur hierdie belangrike elemente bestuur en ’n spoedige transaksie, asook ontvangs van die koopprys verseker. Die oordragprokureur moet verseker dat die koopprys gefinaliseer en beskikbaar is, en ’n koper se prokureur mag dalk oortuig word om staat te maak op sy kliënt se versekering dat die geld beskikbaar is, met ernstige gevolge vir beide koper en prokureur indien dit nie korrek sou wees nie. In kort, is die beskouing oor die algemeen dat die verkoper as eienaar van die eiendom wat oorgedra moet word, meer het om te verloor en daarom ’n groter reg het om die aktebesorger aan te wys.
Ongeag wie die aktebesorger aanwys, is dit die aktebesorger se plig om albei partye te diens en op billike wyse te verteenwoordig, tensy daar ’n geskil ontstaan, in welke geval die oordragprokureur sal kan optree namens die party wat hom aangestel het. Dit bly ’n opsie vir partye om te onderhandel oor die aanstelling van die oordragprokureur en ’n relevante klousule in die koopkontrak in te sluit, aangesien daar goeie redes kan wees vir die koper om eerder daarop geregtig te wees om die oordragprokureur te bepaal.
Bron: BDP Prokureurs
Oops! We could not locate your form.