Hou kop en spaar geld

Woensdag, November 9th, 2016

Kry ’n manier om jou te herinner wanneer dinge hernu moet word. Met elektroniese dagboeke is dit maklik, want dit maak voorsiening vir herhalende inskrywings asook dagboekinskrywings vir ’n paar jaar vorentoe. Dit kan dinge insluit soos jou jaarlikse voertuiglisensie, jou bestuurslisensie en paspoorthernuwing.

 

Die koste: Die boete vir ’n voertuiglisensie wat verval het, is R500.

Betaal jou rekeninge betyds. Die beste manier om seker te maak jy betaal betyds, is debietorders wat jou rekeninge outomaties betaal. As jy jou kredietkaart met ’n debietorder betaal, sal dit ook jou kredietgradering verbeter.

 

Die koste: As jou kredietkaart net een dag laat betaal word, kan jy ’n boete van R100 kry bo en behalwe die bykomende rente. Betalings wat oorgeslaan word, raak ook jou kredietgradering, wat dan jou koste van krediet verhoog.

 

Hou jou besonderhede by die SAID op datum. As jou bankbesonderhede verander het, moet jy die SA Inkomstediens in kennis stel, want dit is die rekening waarin jou terugbetaling gedoen sal word. As jy jou bankrekening etlike jare gelede gesluit het, het jou bank dalk die rekeningnommer aan ’n nuwe kliënt toegewys. En natuurlik wil jy nie jou belastingopgawe laat indien nie, want dit gaan nou met aansienlike boetes gepaard.

 

Die koste: Laat betaling van belasting lei tot ’n boete van 10% van die uitstaande bedrag.

 

Gaan jou bankstaat elke maand na. Klagtes oor ongemagtigde debietorders neem toe, en dit is dus belangrik om jou bankstaat elke maand na te gaan en SMS-kennisgewings in te stel vir alle transaksies, selfs dié kleiner as R100.

 

Die koste: Bedrieërs trek klein bedraggies van ongeveer R100 per maand af, wat mens nie altyd op jou bankstaat sal raaksien nie.

 

Gaan jou kredietrekord na. As jy dit nog nie gedoen het nie, gaan jou kredietrekord vandeesmaand na. Jy is geregtig op een gratis kredietnavraag per jaar by kredietinligtingsburo’s soos Experian en Transunion. Deur jou kredietrekord gereeld na te gaan, sal jy enige identiteitsbedrog agterkom waar misdadigers dalk jou identifikasie gebruik om kredietrekeninge te open.

 

Die koste: Die eerste keer wanneer jy agterkom jy is ’n slagoffer van identiteitsdiefstal, is dalk wanneer die debietorder geaktiveer word vir ’n motor wat jy nie besit nie!

 

Sluit rekeninge wat jy nie gebruik nie. As jy winkelkaarte het wat jy nie gebruik nie, kan jy vind dat jy betaal vir dienste soos tydskrifklubs of kaartversekering.

 

Die koste: Klubgelde en kaartversekering kan ongeveer R400 per jaar per kaart wees.

 

Benut die beloningsprogramme. As jou beursie vol beloningskaarte is, maak seker jy eis die voordele, veral wanneer dit verval. As jy lid van Liberty se Own Your Life-lojaliteitsprogram is, is jy geregtig op duisende rande se voordele – gebruik dit!

 

Die koste: Beloningsprogramme gaan gewoonlik met koste gepaard. Dit kan ’n paar honderd rand per jaar wees – kanselleer dit dus as jy dit nie gebruik nie.

 

Hou jou begunstigdes op datum. As jou lewe in enige opsig verander het, byvoorbeeld huwelik, egskeiding of ‘n kind se geboorte, moet al jou aftree- en polisbesonderhede asook jou testament aangepas word. By jou afsterwe is die trustees van jou aftreefonds verplig om jou aftreevoordeel aan jou finansiële afhanklikes uit te betaal. As jou besonderhede nie bygewerk is om byvoorbeeld al jou kinders te toon nie, sal die uitbetaling van die voordele vertraag word.

 

Die koste: As jou polisse en testament nie op datum is nie, sal dit jou afhanklikes finansieel en emosioneel benadeel.

 

Hou jou finansiële plan op datum. As jy ’n finansiële adviseur het, moet jy een keer per jaar met hulle vergader as deel van hulle diensgeld. Dit is ’n geleentheid om seker te maak jy is op die regte spoor met jou finansiële doelwitte.

 

Die koste: Die meeste adviseurs ontvang ’n jaarlikse diensgeld, en as jy geen diens kry nie, is dit tyd om ’n ander adviseur te kry.

 

 

Bron: Liberty

 

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152