Hoeveel huur behoort mens te betaal?

Woensdag, Oktober 12th, 2016

Voordat jy ʼn huis huur, moet jy weet hoeveel jy kan bekostig om elke maand te betaal ─ en dis nie so maklik soos dit lyk nie.

“Finansiële deskundiges sal sê jy behoort nie meer as ‘n derde van jou bruto maandelikse inkomste aan huur te betaal nie,” sê Andrew Schaefer, besturende direkteur van die  eiendombestuursmaatskappy Trafalgar.

“Dit neem egter nie die feit in ag dat baie voornemende kliënte ook probeer om ʼn deposito vir hul eie huis te spaar nie, of die feit dat die eskalerende koste van dienste en vervoer ʼn groot invloed kan hê op die grootte van die eiendom wat hulle huur of die ligging wat hulle kies.”

Hoewel elke situasie effens anders sal wees, sê hy, is daar sekere faktore wat alle huurders moet oorweeg voordat hulle ʼn kontrak teken. Dit sluit in:

 

Ligging

Vir individue wat lang ure werk, sal ʼn solderkamer naby die kantoor ʼn slimmer keuse wees as ʼn voorstedelike meenthuis, selfs al is dit effens duurder om te huur, omdat hulle sal bespaar aan pendeltyd en gepaardgaande koste. As daar winkels, restaurante en ontspanningsfasiliteite in die omgewing is, soveel te beter.

Net so kan mense met skoolgaande kinders bereid wees om hoër huurgeld te betaal in ʼn area naby vooraanstaande staatskole omdat dit steeds goedkoper as privaatskoolgelde is.

 

Ruimte

ʼn Gesin van vier of vyf het vanselfsprekend meer leefruimte nodig as ʼn jong paartjie en hoewel ʼn huureiendom dalk nie ʼn permanente leefopsie is nie, moet daar genoeg ruimte wees vir almal om gerieflik te wees.

Aan die ander kant, groter eiendomme se huur is oor die algemeen hoër en water- en elektrisiteitverbruik is ook hoër, en gesinne wat probeer spaar moet versigtig wees om nie huise te huur met meer ruimte as wat hulle werklik nodig het nie. Hulle moet ook seker maak dat die huureiendom sy eie elektrisiteit- en watermeter het sodat hulle nie op die ou end vir iemand anders se verbruik betaal nie.

 

Sekuriteit

Kyk altyd die hele area rondom ʼn woonstelblok of behuisingskompleks goed deur voordat jy ʼn huurkontrak teken. Moenie jou in gevaar stel ter wille van laer huurgeld nie ─ betaal eerder meer om veilig te wees selfs al beteken dit dat jy iets anders uit jou begroting moet weglaat.

En as jy ʼn voorstedelike huis huur, maak seker dat dit voldoende sekuriteit het, met inbegrip van diefwering, veiligheidshekke en ʼn alarmstelsel ─ nie alleen ter wille van persoonlike veiligheid nie maar omdat die afwesigheid van sulke maatreëls ʼn groot verskil kan maak aan die premies vir jou huisinhoud en motorversekering.

 

Leefstyl

Tel al jou maandelikse leefuitgawes bymekaar voordat jy vir huur begroot en kyk dan of jy op enigeen daarvan kan bespaar deur die eiendom wat jy kies. ʼn Woonstelblok met sy eie gimnasium of swembad kan jou die koste van maandelikse gimnasiumlidmaatskapgeld bespaar.

Of jy kan dit oorweeg om ʼn bietjie meer te betaal vir ʼn huurhuis naby ʼn snelbusvervoerstelsel of die Gautrein as dit jou sal help om vir ʼn paar jaar sonder ʼn kar of die meegaande uitgawes klaar te kom.

En met dienskoste wat ʼn al groter persentasie van huishoudelike uitgawes word, moet jy regtig op grond van jou verbruiksgeskiedenis baie versigtig hiervoor begroot.

 

Bestuur

ʼn Goed bestuurde en goed instandgehoude eiendom sal altyd ʼn groot verskil maak aan jou algehele tevredenheid as huurder en dit is dus belangrik om seker te maak dat die eiendom wat jy kies professioneel bestuur word deur ʼn vooraanstaande maatskappy met opgeleide en vriendelike personeel.

Om byvoorbeeld deur ʼn maatskappy te huur, beteken dit dat jou huurkontrak altyd aan die relevante wetgewing sal voldoen, jou belange as ʼn huurder beskerm sal word en probleme in verband met die eiendom gou aangespreek sal word.

 

Die deposito

Baie verhuurders vra deesdae ʼn deposito gelykstaande met twee of selfs drie maande se huurgeld en, tensy jy vooraf gespaar het, kan dit ʼn groot struikelblok wees om die eiendom te huur wat jy wil hê. As alternatief het baie verhuurders nou ʼn tipe versekering wat dit vir hulle moontlik maak om geendeposito-huurkontrakte aan te bied in ruil vir ʼn 10%-verhoging in maandelikse huurgeld. As hierdie opsie beskikbaar is, kan dit dalk jou keuse van ʼn eiendom beïnvloed.

 

Spaargeld

Selfs al beoog jy nie om jou eie huis te koop nie, probeer jy heelwaarskynlik spaar vir iets ─ byvoorbeeld vir ʼn noodfonds of ʼn oorsese vakansie ─ of probeer jy om jou skuld te verminder, en jy moet nooit toegee aan die versoeking om hierdie planne op te offer ten einde ʼn plek te huur wat luukser is as wat jy nodig het nie.

 

 

 

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170