Hoër prysgroei vir dié eiendomme, maar . . .

Vrydag, Februarie 5th, 2016

Eugene Brink

 

Ten spyte van die onlangse rentekoersstyging van 50 basispunte het sommige segmente van die middelsegmenthuismark ʼn prysgroeistyging in Januarie getoon.

Die jaar 2015 was in alle kategorieë ʼn moeilike jaar vir prysgroei aangesien dit te midde van moeilike ekonomiese omstandighede sy daling deur die jaar voortgesit het. “Maar ten spyte van uitdagende ekonomiese toestande waardeur verbruikers geraak word, soos stygende inflasie en rentekoerse, was die hoër prysgroei in sommige segmente van die huismark hoofsaaklik toe te skryf aan die basis-effek van ʼn verlangsaming in prysgroei ʼn jaar gelede,” sê Absa-eiendomsontleder Jacques du Toit.

Volgens Du Toit het prysgroei in die middelsegment van klein- en mediumgrootte huise in Januarie 2016 as gevolg van bogenoemde basis-effek op ʼn nominale jaar-tot-jaar-grondslag verbeter, terwyl groei in die groot kategorie begin verlangsaam het na ʼn opwaartse tendens teen die einde van verlede jaar. In werklikheid was huisprysgroei in 2015 laer as 1% op ‘n jaargrondslag in die klein- en mediumgrootte kategorieë, met werklike prysgroei van 1,6% op ‘n jaargrondslag wat in die groot segment aangeteken is. Voortgesette reële prysdeflasie is tot aan die einde van verlede jaar in die kategorie vir klein huise waargeneem.

John Loos, eiendomsontleder by ENB, het onlangs gesê die beste prysgroei in die residensiële mark is nou aan die onderpunt van die mark te vinde en wel by deeltitel-eiendomme en tweeslaapkamerhuise. Dit is te danke aan die bekostigbaarheid van, en daaropvolgende hoër vraag na, hierdie kleiner eiendomme.

Die gemiddelde nominale waarde van huise in elk van die middelsegment-kategorieë was in Januarie 2016 soos volg:

 

– Klein wonings (80m²-140m²): R904 000

– Mediumgrootte wonings (141m²-220 m²): R1 281 000

– Groot wonings (221m²-400m²): R1 957 000

 

Ten spyte van hierdie stukkie goeie nuus, waarsku Du Toit dat die eiendomsmark deur 2016 sal strompel. “Die vooruitsigte vir die residensiële eiendomsmark in 2016 behels gedempte groei teen die agtergrond van die verwagte lae reële ekonomiese groei van slegs 0,9% vir vanjaar, lae indiensnemingsgroei, stygende inflasie en hoër rentekoerse.”

 

 

 

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152