Hoekom koop ons impulsief?

Vrydag, Julie 8th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

As jy so deur jou huis kyk, sal jy heel waarskynlik baie items raaksien wat jy baie min gebruik.

Hoekom is dit so? Die eenvoudige rede is dat jy dinge impulsief gekoop het en nie om praktiese redes nie.

Dit lei weer tot ʼn ander pertinente vraag: Hoekom koop ons impulsief? Daar is baie redes – veroorsaak deur onsself en die winkels – waarom ons dit doen. So lees verder as jy jouself as ʼn impulsiewe koper beskou met kopersberou wat wil verstaan waarom jy voortdurend in hierdie slaggat trap. Hierdie redes kan jou broodnodige geld spaar:

 

1. Jy is dol op inkopies doen

Philip Graves, verbruikersgedragkundige en bydraer tot Psychology Today, sê die eenvoudigste verklaring is dat baie mense bloot baie plesier daaruit put om iets nuuts aan te skaf. “Die daad van koop is ʼn daad van bemagtiging wat moontlik te min op ander gebiede in die persoon se lewe ervaar word.”

 

2. ʼn Obsessie met status

Sommige mense is volgens hulle persoonlikhede geneig om impulsief te koop. “Sommige mense besit ʼn persoonlikheidseienskap genaamd ʼn impulsief koop geneigdheid, wat, soos jy mag afgelei het, beteken hulle het die gewoonte om impulsiewe aankope te doen. Dit mag onskuldig voorkom, maar daar is ʼn paar gedragspatrone wat met hierdie neiging gepaard gaan wat die nadelige invloed daarvan weerspieël,” sê dr. Ian Zimmerman, ʼn eksperimentele sielkundige wat verbruikersgedrag bestudeer.

Zimmerman merk op dat impulsiewe kopers bowenal meer sosiaal-, status- en beeldbewus is. Hulle let altyd op hoe ander aantrek en lyk en wil almal troef. Wanneer hulle iets sien wat hulle goed sal laat lyk by die werk of op Facebook, koop hulle dit sonder om twee keer te dink aan die prys en die nut van die item.

 

3. Emosionele oorgawe

Tweedens, sê Zimmerman, sukkel impulsiewe kopers om hulle emosies te beheer en dit maak dit baie moeiliker om impulsiewe drange te beheer om produkte te koop wat hulle begeer. Hulle ervaar ook minder geluk en wil dan hierdie vreugdeloosheid verlig deur iets te koop.

 

4. Jy vorm ʼn band met die produk

Zimmerman sê om met die produk te verbind verander hoe ons dit waarneem. “Ons gedagtes begin optree asof ons alreeds die produk besit, wat dit moeiliker maak om daarvan weg te stap en dit nie te koop nie.” Dit lei tot die vraag: “Hoe word bande met produkte gevorm?”

Hierdie band kan op verskeie maniere gevorm word en dit is noodsaaklik dat jy verstaan hoe jy persoonlik in verband staan met ʼn produk om dit op die ingewing van die oomblik te koop. “’n Fisiese konneksie met ʼn produk word geskep wanneer ons naby dit is en daaraan kan raak. ʼn Temporale konneksie met ʼn produk word geskep wanneer ons iemand dit sien gebruik en ons onsself met daardie persoon vergelyk,” sê Zimmerman.

Donald R. Lichtenstein, professor van bemarking en mede-dekaan by die Universiteit van Colorado Leeds Besigheidskool, en sy kollegas het fassinerende navorsing oor hierdie kwessie gedoen. Hulle belangrikste bevinding was dat om die produk te sien beslissend is in impulsiewe koop. “Operateurs van stalletjies en kiosks word outomaties bevoordeel weens hulle blootstelling aan verbruikers. Hulle is in die oopte sodat elkeen wat verbystap hulle kan sien – en dis die eerste en belangrikste stap in impulsiewe koop: om die produk te sien,” sê Lichtenstein.

 

5. Jy wil bespaar

Dit mag terselfdertyd nogal paradoksaal en edel klink, maar dit is net so waar. Dink daaroor: Om iets op uitverkoping te koop is wys, aangesien jy dit teen ʼn afslagprys koop in stede daarvan om die volle prys te betaal. Jy mag somersklere in die winter op uitverkoping sien en dink jy gaan dit in elk geval in die komende somer benodig en dit onmiddellik koop.

Maar dis alles ʼn foefie en jy betaal uiteindelik die prys. Jy het op die ou einde geld bestee waarvoor jy nie begroot het nie. “Deesdae hoef die meeste van ons nie te bekommer oor dag-tot-dag oorlewing nie, maar die evolusionêre drang bestaan steeds. Ons vind dit moeilik om die idee te weerstaan dat ons geld of tyd sal bespaar,” sê Philip Graves, verbruikersgedragkundige en bydraer tot Psychology Today.

 

 

Bronne:

 

Forbes. 2015. “Impulse buying: Are you guilty?” http://www.forbes.com/sites/rent/2015/07/07/impulse-buying-are-you-guilty/2/#677a72844ace.

 

Zimmerman, I. 2012. “What motivates impulse buying?” https://www.psychologytoday.com/blog/sold/201207/what-motivates-impulse-buying.

 

Graves, P. 2013, “Five reasons we impulse buy”. https://www.psychologytoday.com/blog/consumer-behavior/201303/five-reasons-we-impulse-buy.

 

Specialty Retail Report. 2005. “The psychology of impulse buying”. http://specialtyretail.com/issue/2005/10/merchandising-and-marketing/the-psychology-of-impulse-buying/.

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152