Hoe werk versekering met my geheime lapa?

Vrydag, Januarie 20th, 2017

Sanette de Jager

 

Suid-Afrikaners is mense wat hou van braai en kuier. Dis eie aan ons kultuur en aan ons land. Juis om hierdie rede is ’n lapa in elke tweede erf nie ’n vreemde verskynsel nie. Baie mense het later jare ’n lapa aan hul huis aangebou. Die groot vraag is egter: moet ek my versekeraar van my lapa vertel?

Al hoe meer klagtes komt aan die lig kom van eise wat van die hand gewys is. ’n Tipiese voorbeeld is waar die eiser ’n lapa aan sy huis aangebou het, tesame met ’n oop braai onder die lapa. Gedurende ’n braai waai ’n kooltjie in die grasdak in en die lapa asook ’n gedeelte van die huis brand af. Die eiser dien sy eis behoorlik by die versekeraar in, wat hom nou in kennis stel dat sy eis afgekeur is omdat hy hulle nooit ingelig het van die lapa-aanbouing by sy huis nie. Kan die versekeraar dit doen?

’n Ooreenkoms tussen ’n versekeraar en ’n versekerde is ’n kontrak, net soos enige ander kontrak in ons reg. ’n Versekeringskontrak kan beskryf word as ’n kontrak wat die versekerde vergoed indien skade gely word as gevolg van ’n onbepaalde gebeurtenis waarteen hy verseker is.

In die geval van ’n lapa moet daar gekyk word na risikodekking. Die versekeraar moet instem om risikodekking vir ʼn bepaalde maar onsekere risiko te verskaf. Die versekeraar moet ’n berekening maak van die moontlikheid van ʼn onsekere gebeurtenis se realisering, daarna moet hul onderneem om ʼn bedrag geld aan ʼn versekerde uit te betaal.

Waar die gebeurtenis nie gespesifiseer is nie of die risikoberekening skeefgetrek is deur gebeurtenisse wat nie aan die versekeraar openbaar is nie, word die ooreenkoms om risikodekking te verskaf ook beïnvloed, wat daartoe kan lei dat die versekerde se eis afgekeur word.

Die aanbou van ’n grasdaklapa is ’n brandgevaar. Indien dit nie aan die versekeraar bekend gemaak is nie, kan dit lei tot afkeuring van ʼn eis. Die eis sal dus afgekeur word weens niebekendmaking, selfs al het jou versekering vir brandskade voorsiening gemaak.

Die hof kyk na verskillende faktore wanneer daar bepaal word of die afkeuring wettig is of nie:

–           Is die inligting wat nie bekend gemaak is nie, wesenlik?

–           Sou dit ’n verskil maak aan die versekeraar se besluit om jou teen ʼn gespesifiseerde premie te dek?

Met ander woorde, as die versekeraar geweet het van die grasdaklapa, sou hy die huis steeds verseker het? Sou hy die premie dieselfde gehou het en geen verdere vereistes gestel het nie, bv. dat brandbestrydingstoerusting beskikbaar moet wees? Indien die antwoord op die bogenoemde vrae nee is, is die afkeuring van die eis geldig.

Daar rus regtens ’n plig op elke versekerde om skade en risiko te verhoed. Daarom moet die versekerde enigiets bekend maak wat hy vermoed sy risiko kan verhoog.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170