Hoe om te begin spaar

Dinsdag, Desember 13th, 2016

Suid-Afrika het een van die swakste spaarkoerse ter wêreld.

 

Floris Slabbert, nasionale verkoopsbestuurder by Ecsponent Finansiële Dienste, is van mening dat Suid-Afrikaners gedissiplineerd moet bly om ʼn spaarkultuur te kweek. Volgens hom is dit veral belangrik in die huidige uitdagende ekonomiese omgewing.

 

“Suid-Afrikaners verstaan dikwels nie die belangrikheid van kort-, medium- en langtermyn finansiële beplanning nie. Dit mag te wyte wees aan lae vlakke van finansiële geletterdheid en gevolglik het die land een van die swakste spaarkoerse ter wêreld.

 

“Om die waarheid te sê toon die jongste data van die Investec GIBS (Gordon Institute of Business Science) se spaar-indeks dat ons agteruit beweeg en dat Suid-Afrika se spaargewoontes by ʼn 20-jaar laagtepunt is. ʼn Telling van 100 word beskou as ʼn ‘spaar-slaagpunt’, maar ons het in die laaste kwartaal van 2015 slegs 63 behaal.

 

“Met huishoudelike uitgawes wat styg, is dit waarskynlik dat baie meer verbruikers ongelukkig hulle spaar-inisiatiewe sal versaak in ʼn poging om hulle besteebare maandelikse inkomste te rek,” het Slabbert gesê.

 

Volgens die kundiges is die eerste stap op die pad na spaar, om ʼn begroting op te stel om onnodige uitgawes te evalueer en te elimineer. “Die eerste ding wat jy moet doen, is om ʼn paar ure elke maand te wy aan die skepping van ʼn begroting in ʼn poging om te evalueer presies waarop jy geld bestee. Vaste uitgawes soos huur, versekering en voertuiglenings is prioriteit-uitgawes en jy moet verseker dat jy hierdie uitgawes eerste delg voordat jy geld op onnodige items soos klere en toestelle uitgee,” sê Motshabi Nomvethe, tegniese bemarkingspesialis by PPS.

 

“’n Begroting laat ʼn individu toe om areas te evalueer en identifiseer om op onnodige uitgawes te besnoei. Die koste verbonde daaraan om middagete of koffie te koop of om uit te gaan akkumuleer dikwels vinnig sonder dat jy dit eens besef.”

 

Volgens Lezanne Human van FNB sal ʼn omvattende begroting wat jou inkomste, skuld en uitgawes insluit, jou ʼn duidelike prentjie gee van waar jy op alledaagse besteding kan besnoei. “Spaar behoort ook ʼn deel van jou persoonlike begroting uit te maak. Sodra jy ʼn begroting het, sal dit duidelik wees watter skuld jy eerste moet begin afbetaal en hoeveel jy maandeliks kan wegsit.”

 

Slabbert sê dit is ook belangrik om te onderskei tussen wat ons wil hê en wat ons benodig. “In ʼn ekonomie soos ons s’n wat verbruiksgedrewe is, word ons gebombardeer deur media wat ons vertel wat ons moet besit, hoe ons moet lyk, wat ons moet bestuur, en waar ons moet woon of wat ons moet doen vir ontspanning. Eenvoudig gestel, ʼn noodsaaklikheid is iets wat jy benodig: ʼn dak oor jou kop, kos op die tafel, gesondheidsorg, higiëniese produkte, klere ens. Wat ons wil hê, is nou verbind aan wat ons benodig en ons wil ʼn groot huis hê, restaurantgehalte kos, klere met ʼn handelsmerk en spoggerige motors. Om jou skuld af te skud is ook ʼn groot sprong na finansiële vryheid.”

 

Volgens Slabbert is dit kritiek om spaardoelwitte te bepaal.”Uiteindelik sal die bedrag wat jy spaar, afhang van jou spaardoelwitte en die lewenstadium waar jy jou bevind. Wat ook al jou ouderdom, en of jou nou ook al spaar vir ʼn deposito om eiendom te koop, vir jou kinders se opvoeding of jou aftrede, oorweeg waar jy in die volgende vyf tot tien jaar wil wees.”

 

 

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161