Hoe om ’n kar by ’n veiling te koop

Woensdag, September 28th, 2016

Vir iemand wat vir die eerste keer gaan bie, kan karkoop by ‘n veiling vreesaanjaend wees. WesBank het hierdie wenke gegee oor hoe om jou eerste veiling te hanteer.

 

Raak vertroud met veilings voordat jy koop

As jy nog nooit by ‘n veiling was nie, is dit ‘n goeie plan om eers as ‘n waarnemer te gaan om ‘n idee te kry van hoe dinge werk. As jy nie van plan is om op ‘n voertuig te bie nie, is daar geen koste nie en jy hoef nie te registreer nie.

 

Verstaan die registrasieproses

Om ‘n veiling as ‘n koper by te woon, sal jy moet registreer en jy sal dalk ‘n deposito moet betaal. Die deposito sal afgetrek word van die koste van die voertuig wat jy koop of dit sal terugbetaal word as jy weggaan sonder om iets te koop.

 

Berei jou dokumentasie voor

Maak seker dat jy die volgende dokumentasie saamneem:

  • ID-dokument
  • Bestuurderslisensie
  • Bewys van verblyf (uiterlik drie maande oud)
  • As jy met finansiering koop, jou laaste drie salarisstrokies of bankstate vir die laaste drie maande

 

Ondersoek die karre die dag voor die veiling

Afslaers laat kopers toe om die voertuie wat verkoop gaan word die dag voor die veiling te besigtig. Maak goeie gebruik van hierdie tyd om die karre waarin jy belangstel te ondersoek.

 

Neem ‘n motorkenner saam

As jy nie ‘n karfundi is nie, neem ‘n deskundige met jou saam. Hy of sy sal jou kan help om ‘n goeie kopie te vind en te soek na tekens van ongelukskade en moontlike meganiese probleme. Onthou, karre wat by ‘n veiling verkoop word, word voetstoots verkoop en jy het geen verhaal as jy probleme ontdek nadat jy op die stippellyn geteken het nie.

Hoewel jy nie toegelaat sal word om die voertuie by die veiling te toetsbestuur nie, sal daar aansitsleutels wees. Skakel die enjins aan van die karre wat jy ondersoek want dit kan jou help om moontlike meganiese probleme op te spoor.

 

Bevestig die VIN (voertuigidentifikasienommer)

Sommige vervaardigers hou rekord van ‘n kar se diens- en instandhoudingsgeskiedenis en in sommige gevalle selfs sy ongelukgeskiedenis. As dit moontlik is, stuur die kar se VIN (jy sal dit op die lisensieskyfie kry) na ‘n handelaar en vra hulle om dit in hul stelsel in te voer.

Onthou, jy kan nie die kar toetsbestuur voordat jy dit koop nie, so gebruik elke moontlike manier om alles daaroor uit te vind wat jy kan.

 

Weet wat die kar werd is voordat jy bie

Dit is waar die motorkenner van groot hulp kan wees. Jy moet ook aanlyn kyk wat die verkoopprys van soortgelyke voertuie is.

 

Kry voorafgoedkeuring as jy met finansiering koop

As jy met finansiering wil koop, is dit ‘n goeie plan om voorafgoedkeuring te kry vir die bedrag wat jy wil uitgee. Dit beteken dat jy nie by die veiling vir die goedkeuring van finansiering sal hoef te wag nie en dit sal die proses glad laat verloop. Die finansieringsproses werk net soos by ‘n handelaar, so maak dus seker dat jy al jou dokumente saamneem.

 

Sluit BTW en ander koste in

Wanneer jy uitwerk hoeveel jy bereid is om vir ‘n kar te betaal, moet jy BTW, wat nie by die lysprys ingesluit is nie, insluit sowel as enige ander moontlike koste soos padwaardigheidstoetsing of administrasiegelde. Voorkom onaangename verrassings en lees die afslaer se bepalings en voorwaardes sorgvuldig om uit te vind van watter ekstra koste jy bewus moet wees.

 

Laat ‘n paar opsies oop

Onthou, jy is nie die enigste een wat na die perfekte kar soek nie, so moenie al jou hoop op net een voertuig plaas nie. Indien dit moontlik is, identifiseer meer as een kar om op te bie net vir geval jy nie nie gelukkig genoeg is om jou eerste keuse te koop nie.

 

Bly binne jou begroting

Dis baie maklik om deur die bieproses meegesleur te word en jou begroting te oorskry. As jy jou limiet bereik, hou op bie!

En laaste maar beslis nie die minste nie, onthou dat daar personeel sal wees om jou te help met vrae oor die voertuie sowel as die bieproses. Vra om hulp as jy dit nodig het, en geniet die bieëry!

 

 

 

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150