Hoe om my ‘stadige betaler’-status te verander

Vrydag, Februarie 12th, 2016

Navraag: “Ek sukkel om ‘n motor te koop omdat ek nie finansiering kan kry nie. Ek het ‘n bietjie finansiële probleme gehad wat veroorsaak het dat van my rekeninge agterstallig geraak het. Al my skuld is op dié stadium afbetaal, maar my kredietrekord wys steeds dat ek ‘n ‘stadige betaler’ is. Is daar enige manier om dit van my rekord te verwyder?”

 

Antwoord: Om as ‘n ‘stadige betaler’ gelys te word is nie ‘n nuwe term of manier om geswartlys te word nie. Om as ‘n stadige betaler gelys te word was reeds moontlik onder die Wet op Verbruikersake (Onbillike Sakepraktyke) 71 van 1988 waar jy as ‘n stadige betaler by die kredietburo gelys kon word as jy nie jou finansiële verpligtinge in terme van ‘n ooreenkoms nakom nie.

Die grootste verskil tussen om geswartlys te word en as ‘n stadige betaler gelys te word, is dat jy slegs geswartlys kan word nadat regstappe teen jou geneem is en ‘n geldige uitspraak teen jou gelewer is, terwyl jy enige tyd as ‘n stadige betaler gelys kan word wanneer jy nie in staat is om jou finansiële verpligtinge in terme van ‘n ooreenkoms na te kom nie. Hierdie posisie is in die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 ingesluit.

Wanneer jy geswartlys is en jy die skuld waarvoor jy gelys was, vereffen het, kan jy by die kredietburo waar jy gelys was aansoek doen om jou naam van die swartlys te verwyder deur ‘n aansoek te bring vir terugtrekking van die uitspraak en/of deur jou versoek direk aan die kredietburo te rig.

As jy gelys is as ‘n stadige betaler bepaal die Nasionale Kredietwet dat sodra skuld waarvoor jy as ‘n stadige betaler gelys is, ten volle vereffen is, moet die kredietverskaffer alle geregistreerde kredietburos in kennis stel van die vereffening en moet die kredietburo dan die ongunstige lysing verwyder (insluitend die klassifikasie as ‘n ‘stadige betaler’) binne sewe dae na ontvangs van sodanige inligting van die kredietverskaffer. As die kreidetverskaffer nie sodanige inligting betreffende jou vereffening indien nie, kan jy ‘n klag teen sodanige kredietverskaffer lê by die Nasionale Kredietreguleerder.

Om as ‘n stadige betaler gelys te word sal jou nie verhoed om ‘n lening of finansiering te bekom nie, maar dit sal dit bemoeilik en ‘n impak hê op die bedrag wat aan jou beskikbaar gemaak word. Dit is nie bedoel om jou te benadeel nie maar eerder om jou te beveilig teen roekelose leen praktyke en te verhoed dat jy te diep in die skuild beland.

Om die geldigheid van ‘n lysing te bevraagteken, moet jy die betrokke kredietburo kontak om beswaar te maak of ‘n klag te lê. Die buro het dan twintig werksdae om die kwessie op te los. Sodra die klag ontvang is, sal die relevante party wat jou gelys het gekontak word om bewyse te verskaf van jou wanbetaling en dat die lysing inderdaad geregverdig is. In realiteit, word die meeste klagtes by hierdie punt geskrap aangesien die lysings gewoonlik op grond van dokumentêre bewyse gedoen word en dus meestal as geldig beskou word.

As die buro nie in staat is om die kwessie op te los nie, kan jy die saak verwys na die Kredietombudsman, wat die saak sal ondersoek en ‘n uitspraak lewer op grond van die beskikbare inligting. Sou die Kredietombudsman nie die kwessie kan oplos nie, kan die Nasionale Kredietreguleerder versoek word om in te tree.

Die hartseer waarheid is dat die bogenoemde proses taamlik uitgerek kan raak en dikwels uitloop op geen verandering aan jou status nie, met die lysing wat dan op jou rekord bly totdat jou skuld vereffen is. Die boodskap hierin is dat sou jy sien dat jy nie jou betalingsverpligtinge kan nakom nie, kontak jou bank betyds om ‘n laer premie te reël wat jy kan bekostig, en vermy so die probleme wat saamkom saam met ‘n lysing as ‘n stadige betaler.

 

Bron: BDP Prokureurs

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170